RP wil wegdoen met regstellende aksie

Redaksie
Nuusredaksie – “Die huidige Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE)-skema het nie gepoog om armoede te verminder of om hulpbronne gelykop onder die ekonomies benadeelde sektore van die Namibiese samelewing te verdeel nie, maar was ’n ekonomiese strategie wat daarop gemik was om ’n swart kapitalistiese klas te skep.”

So het die Republikeinse Party (RP) in sy manifes gesê en verder beweer dat Namibië se regering vol onbevoegde amptenare is. Die party beskou sy manifes as ’n oplossing vir die land se sosioëkonomiese uitdagings.

Die party beoog om weg te doen met regstellende aksie omdat “dit geen geheim is dat die regerende party agter dié beleid skuil om hul eie kamerade en vriende aan te stel in poste waarvoor hulle nie gekwalifiseer is nie”.

“Die uitkoms is ’n regering wat besoedel is met werknemers wat totaal onbevoeg is en dit lei daartoe dat daar in baie – indien nie alle – ministeries en ondernemings in staatsbesit baie min bewyse is van gehalte-dienslewering. Dit het net die deur vir grootskaalse korrupsie oopgemaak,” lui die party se manifes.

’n RP-regering beloof om geen vorm van diskriminasie toe te laat nie, maar om elke Namibiër suiwer op meriete te behandel.

Die party verduidelik dat hoewel hy die ekonomiese bemagtiging van die voorheen benadeelde mede-Namibiërs verwelkom, dit nie tot nadeel van direkte buitelandse beleggings gedoen moet word nie.

“Die konsep van BEE was veronderstel om ’n voertuig te wees om voorheen benadeelde Namibiërs ekonomies te bemagtig, maar dit is gebrekkig,” het die party in sy manifes gesê.

HULPBRONNE

Die party beoog om alle myne in die land en die visbedryf te nasionaliseer as hy verkies word om die land te lei.

Die party meen dat Namibië sedert onafhanklikwording van miljarde dollars beroof is deur multi-internasionale maatskappye en entiteite wat uitsluitlik voordeel getrek het uit ons natuurlike hulpbronne met ’n minimale inkomste vir die regering.

“Sulke bedrywighede [visserye en mynbou] sal deur middel van ’n tenderproses uitgevoer word wat daartoe sal lei dat die Namibiese regering die inkomste uit sulke hulpbronne maksimaliseer,” het die party gesê.

Om die land se hulpbronne in die visbedryf te beskerm, het die party gesê hy sal “wetgewing instel om ons visbronne oor ’n tydperk van twee jaar te beskerm en te herwin wat geen vissersvaartuie en geen kommersiële visvang in Namibiese waters sal insluit nie”.

“Die RP sal geen internasionale fabriekskepe toelaat om in Namibiese waters te werk nie en sal verseker dat alle vangste op Namibiese grond verwerk word," lui die manifes.

Volgens die manifes sal die onbeheerde toestroming van Chinese en ander buitelanders wat nie tot die oordrag van vaardighede en kapasiteitsbou van Namibiërs bydra nie, gereguleer word.

GRONDWET

Die party het tans twee setels in die Nasionale Vergadering en poog om die Grondwet te wysig in ’n poging om demokratiese deelname te versterk.

“Een grondwetlike wysiging wat die RP sal bevorder, is vir die ontbinding van streekrade en dat die Nasionale Raad saamgestel word met twee verteenwoordigers van elke streek. Hierdie verteenwoordigers moet in verkiesings vir ’n Nasionale Raad verkies word. “Daartydens sal nominasies deur streke ingedien word en die twee kandidate met die meeste stemme sal tot die Nasionale Raad verkies word,” het die party gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A