Staatshoof prys ‘eenheid’ by vieringe

Honderde by geleentheid uitgesluit
Namibië se 32ste jaar sedert onafhanklikwording is gister in Swakopmund gevier, terwyl slegs genooide gaste die vieringe kon bywoon, en gewone Namibiërs buite moes bly.
Adam Hartman
Namibiërs se verenigde standpunt teen die uitdagings wat hulle gedurende die 32 jaar sedert onafhanklikwording in die gesig staar, is as rede gegee waarom, ná twee jaar van skeiding as gevolg van Covid-19, ’n openbare viering weer saam gehou kon word.

Ironies genoeg, terwyl hierdie nasionale eenheid amptelik deur honderde genooide regeringsgaste binne die Swakopmund-sportgronde gevier is, is honderde Namibiërs – oud en jonk – gekeer om in te gaan weens Covid.

Covid-regulasies bepaal dat slegs 1 000 mense by ’n geleentheid toegelaat word, en terwyl sommige mense toegelaat is om op die sitplekke op die periferie te sit, is die meerderheid mense gekeer om in te gaan. Sommige het daarin geslaag om oor die mure te sluip, maar talle moes luister en kon net van buite af inkyk. Sommige het op die muur gesit.

“Ek wou onafhanklikheid saam met almal hier vier, maar nou sit ek hier buite op ’n muur. Ek is buite en kyk na binne. Ek voel uitgesluit,” het mnr. Abraham Haimbodi gesê.

Mnr. Job Amukwaya het gesê hoewel hy daarin geslaag het om binne die stadium toegelaat te word, is hy baie ongelukkig wetend dat sy mede-Namibiërs buite moes bly.

“Dis jammer dat dit gebeur het, want dit moes ’n dag van eenheid,” het hy gesê.

Die aktiwiteite is egter doelbewus verkort as gevolg van Covid-19-regulasies, en selfs die program en kulturele optredes was beperk.

Die direkteur van seremonies en adjunk- eerste minister, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het ook ‘n punt daarvan gemaak om almal wat buite gelaat is om verskoning te vra, en beklemtoon dat Covid steeds ‘n faktor is en regulasies ter wille van ander gerespekteer moet word.

Behalwe om te verwys na die gebruiklike stryd teen koloniale magte en die bevryding wat deur Swapo bereik is wat Namibië bevry het van apartheidsonderdrukking om ‘n bevryde onafhanklike demokrasie te word, beklemtoon president Hage Geingob die eenheid van Namibiërs wat gelei het tot onafhanklikwording en oorwinning oor al die uitdagings tydens die afgelope 32 jaar.

“Dit is eenheid wat ons bymekaargehou het, deur dik en dun, deur goeie en slegte tye. Dit is eenheid wat ons sal neem om die droom van voorspoed te verwesenlik. Nasionale eenheid is die gom wat enige multikulturele, multi-etniese en veelrassige samelewing bind. In Namibië is ons trots op die feit dat ons in diversiteit verenig is,” het hy gesê.

Hy het gesê Covid het ’n nasionale en persoonlike impak op Namibiërs gehad, maar “in ware Namibiese gees het ons oorwin”.

“Daarom vier ons vandag ons 32ste jaar van onafhanklikwording saam, hier in Swakopmund en oraloor die land,” het hy gesê.

Hy het diegene berispe wat beweer die dae van rassistiese, apartheid Suidwes-Afrika was beter as dié van ná onafhanklikwording, en Namibië tot op hede niks bereik het nie en Onafhanklikheidsdag nie die moeite werd is om te vier nie.

Hy het dit “onbegryplik en betreurenswaardig” genoem.

“Sulke denkwyses is nie net onpatrioties nie, maar beledigend vir diegene wat geweldige opofferings gemaak het in die soeke na vryheid. Ons Onafhanklikheidsdag is heilig en behoort bo ons persoonlike gevoelens en politiek van die dag te wees,” het Geingob gesê.

Hy het gesê Namibië het ook op sosioëkonomiese gebied groot vordering gemaak, maar het die toename in geslagsgebaseerde geweld, stamgebondenheid, korrupsie, geweldsmisdaad en algemene morele verval, betreur.

Hy het gesê as dit nie in die kiem gesmoor word nie, dit katastrofiese gevolge kan hê, nie net vir die land se ontwikkelingsdoelwitte nie, maar ook vir vrede, stabiliteit en veiligheid.

“Ons moet die stryd voortsit om hierdie skadelike praktyke uit die Namibiese samelewing te verwyder. Dit sal gedoen word deur die beoefening van inklusiwiteit en die voortgesette klem op deursigtigheid en aanspreeklikheid, wat vertroue impliseer,” het hy gesê.

Wat die pad vorentoe betref, het Geingob gesê die Covid-pandemie het Namibië ‘n waardevolle les geleer; wees voorberei op onverwagse gebeure.

Hy het gesê dat dit in die nasleep van die wêreldwye ekonomiese resessie en die Covid-19-pandemie noodsaaklik is dat die nasie spesifieke beleide ontwikkel wat strategies is en in pas is met toekomstige tendense.

“Dit is nie nodig vir ‘n nuwe plan van aksie nie. Daar is ‘n dringende behoefte aan doeltreffende uitvoering in alle sektore van ons samelewing om ons nasionale ontwikkelingsdoelwitte vinnig te bereik. Daarom, terwyl ons onsself daartoe verbind om ons ekonomie te herstel, moet ons daarop fokus om kostedoeltreffende, pro-beleggingshervormings te implementeer met kompromieë wat die regering en die privaat sektor in staat sal stel om die land se driedubbele uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid te takel,” hy het gesê.

Hy het gesê Namibië se vordering tot welvaart rus op ‘n dinamiese en robuuste ekonomie, en dat die private sektor die enjin daarvan is.

Hy het gesê die regering se rol is dié van fasilitering, nie om sake te doen nie.

“Ons fokus is eerder daarop om die behoeftes van kwesbare lede van ons samelewing te bevredig deur die implementering van maatskaplike noodlenigingsprogramme en die skep van ‘n bevorderlike sakeomgewing. Hierdie benadering word saamgevat deur die Marxistiese gesegde: ‘Van elkeen volgens sy vermoë, aan elkeen volgens sy behoefte’,” het Geingob gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!