Mnr. Evilastus Kaaronda is die nuutverkose president van Swanu. Foto argief
Mnr. Evilastus Kaaronda is die nuutverkose president van Swanu. Foto argief

Swanu ondersteun betogers

Verwerp onregverdige wetstoepassing
Swanu se president doen 'n beroep op mnre. Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma se vrylating.
Die president van Namibië se oudste politieke party, Swanu, mnr. Evilastus Kaaronda, het verlede week Swapo oor die vingers getik oor die manier waarop die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF) se kommissaris vir ekonomiese sake, mnr. Michael Amushelelo en die Affirmative Reposisioning-aktivis, mnr. Dimbulukeni Nauyoma, behandel is.

Die twee is in hegtenis geneem vir hul betrokkenheid by optogte wat gelei het dat sakebedrywighede in China Town in die hoofstad tot stilstand geruk is.

Die duo is Dinsdag borgtog geweier en bly in aanhouding tot 5 Julie wanneer die saak hervat.

Nog vóór landdros Masule Kwizi se beslissing verlede week, was Kaarondo onwrikbaar dat, “wat wettig is mag nie altyd regverdig of redelik wees nie, en Swapo behoort dit van die gebeure op 10 Desember 1959 te geleer het,” sê hy.

Dié datum verwys na die wettige verskuiwing van inwoners vanaf Windhoek se Ou Lokasie na Katutura wat Swanu teëgestaan het en tot die dood van 13 Namibiërs gelei het.

“Tot vandag toe verteenwoordig Katutura die kapitalistiese apartheidskeiding tussen die rykes en die armes,” sê Kaaronda.

“Ons het nie kolonialisme beveg net om 'n vlag en 'n volkslied te kan hê of om Louis Pienaar met Sam Nujoma te vervang nie. Ons het geveg sodat ons die grond kon terugkry, en al die rykdom wat daarin versteek is,” sê Kaaronda.

Volgens die Swanu-leier is dit sosioëkonomiese toestande wat deur Swapo en sy leierskap oor die afgelope 32 jaar geskep is wat tot die hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug, gelei het.

“Om vir lang tydperke nie werk te kry nie, het baie mense in die land gedwing, veral die jongmense, om maniere te vind om 'n eerlike bestaan te maak deur goedere te koop en te verkoop.”

Hy sê die besluit van die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) om N$5 miljoen se onwettige en nagemaakte goedere te verbrand, was “duidelik onregverdig en onsensitief vir die lot van daardie inheemse Namibiërs wat van een maand na die volgende veg om te oorleef”.

Oor die inkoopkomplekse in China Town, sê Kaarondo al was die protesoptrede onwettig, stem Swanu saam die winkels moet gesluit word.

Hy sê Chinese sake-eienaars is nie goeie werkgewers nie, betaal hul werknemers baie min en skram weg om belasting te betaal. Hy is van mening dat buitelanders glad nie in Namibië toegelaat moet word om kleinhandelondernemings te bedryf nie.

“Die politiekgedrewe klagte” teen Amushelelo en Nauyoma moet laat vaar word en hulle moet vrygelaat word, sê Kaaronda.

Kaaronda verwerp die Namibiese Grondwet wat eiendomsregte beskerm, die onregverdige toepassing van borgtogaansoeke, rasseverhoudings in Namibië en onregverdige wetgewing wat landswyd toegepas word.

Intussen is Swanu betrokke by ’n hoërhof aansoek rakende ’n groep lede wat by ’n vergadering – voor die party se amptelike kongres aan die begin van Mei – glo hulself as leierskap verkies het.

Regter Thomas Masuku het die saak teen mnre. Charles Katjivirue, Alpha Kangueehi, Kairanderua Katjari, Katuu Tjingaete, Sam Tjikuzu en vyf ander tot 16 Junie uitgestel. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer