Swapo-lede in hegtenis ná ‘aanval’ op IPC

’n Teken van politieke waansin, sê Itula
Panduleni Itula van die IPC beweer dat sulke gewelddadige optrede waarskynlik Namibië se politieke verdraagsaamheid negatief sal beïnvloed.
Tuyeimo Haidula
Twee Swapo-lede is Saterdag in hegtenis geneem en een is aangekla van poging tot moord omdat hulle na bewering in ’n byeenkoms van die Independent Patriots for Change (IPC) ingery het.

Die IPC-saamtrek het by die informele nedersetting Okalonda naby Outapi in die Omusatistreek plaasgevind.

Die Namibiese polisie bet bevestig dat beide mans in hegtenis geneem is, maar slegs een wat glo 73 jaar oud is, is teen gister aangekla.

Die streekbevelvoerder in die Omusatistreek, komm. Ismael Basson, het bevestig dat die eerste voorval van beweerde poging tot moord, Sondag omstreeks 11:30 naby ’n kroeg by ’n boom in die informele nedersetting plaasgevind het.

Basson het Sondag gesê dat die beskuldigde met ’n wit bakkie in die rigting van ’n groep mense gery het wat veroorsaak het dat hulle begin weghardloop het. In die proses is een persoon beseer. Dié 47-jarige man van die informele nedersetting Ondudu in die Okalongo-kiesafdeling het tydens die voorval sy linkerbeen se knieskyf glo ontwrig. Die verdagte in hierdie voorval is ’n Namibiese man van die informele nedersetting Okafimbi in die Outapi-kiesafdeling.

Volgens Basson is daar ook ’n tweede voorval aangemeld, maar die verdagte wat glo hiervoor verantwoordelik was, is teen gister nog nie amptelik aangekla nie.

MAATREËLS

Op navrae oor die maatreëls wat polisie moontlik ingestel het om seker te maak dat die IPC- en Swapo-ondersteuners nie in geskille betrokke raak nie – aangesien albei saamtrekke in die streek geskeduleer het – het Basson gesê dat slegs die IPC hulle geleentheid gehad het. Swapo se saamtrek het glo nie plaasgevind nie aangesien hulle versoek is om ’n ander datum te kies.

“Swapo wou ook hul saamtrek hou, maar hulle is aangeraai om dit nie te hou nie sodat daar nie twee saamtrekke op een dag plaasvind nie en hulle het ons raad gevolg.

“Die polisie is betyds ingelig oor die IPC-saamtrek en alle nodige reëlings is getref. Die polisie was teenwoordig, maar die voorvalle het ongelukkig steeds gebeur,” het hy gesê.

Basson het verder verseker dat enigiemand wat aan politieke geweld deelneem, die lang arm van die gereg in die gesig sal staar.

“Politieke partye word versoek om hul lede op te voed en in te lig om polities volwasse op te tree, want hulle sal individueel hanteer word en nie as ’n party nie,” het hy gewaarsku.

‘POLITIEKE WAANSIN’

Die IPC se leier, Panduleni Itula, het gesê hulle het nie ’n saamtrek gehou om mense toe te spreek nie, maar het eerder ’n optog in die dorp gehou om hul geskenkte kantoor in ontvangs te neem.

“Swapo hou saamtrekke. Ons het net ’n optog gehou. Ons het nie mense toegespreek nie. Ons het bymekaargekom. Ons het ’n konvooi gehad en my gewone optog,” het hy gesê en bygevoeg dat iemand die lede aangeval het op grond van eienaarskap van die boom waarby die groep mense gestaan het.

Itula het gesê die IPC veroordeel “barbaarse ondemokratiese dade” en voeg by dat Swapo-lede wat eienaarskap van bome beweer, ’n teken van politieke waansin is.

Hy het gesê geen boom of gebied in Namibië kan deur enige persoon opgeëis word deur ’n vlag van ’n politieke party voor te hou nie.

“Sulke vertonings van politieke vlae deur Swapo wanneer die IPC ons grondwetlike reg uitoefen, kom neer op politieke intimidasie en kan nie in ’n beskaafde land geduld word nie. Die IPC neem kennis dat Swapo nie sulke ondemokratiese dade deur sy lede veroordeel het nie en dit as ’n manier van ’n politieke veldtog aangehits het,” het Itula gesê.

Hy het bygevoeg dat gewelddadige optrede waarskynlik Namibië se “atmosfeer van politieke verdraagsaamheid” negatief sal beïnvloed.

Itula het die IPC-lede geprys omdat hulle nie reg in eie hande geneem het in enige van die twee voorvalle nie.

Hy het daarop gewys dat die uitkoms van die bestuurders – wat na bewering gepoog het om mense ernstig te beseer – kon inderdaad erger uitgedraai het.

“Politieke partye moet hul lede waarsku om nie in te meng in die uitoefening van politieke regte van burgers nie,” het Itula aangemoedig.

Die sekretaris-generaal van Swapo, Sophia Shaningwa, kon nie teen druktyd vir kommentaar bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!