Swapo sentrale komitee kies mededingers

Stemproses gevolg; veldtogte skop af
Shifeta, Kapofi, Kuugongelwa-Amadhila en Nandi-Ndaitwah in die stryd om visepresidentskap.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die sentrale komitee van Swapo het Saterdagaand tot laat vergader en verkiesings gehou om te bepaal wie hulle vir mededinging vir die regerende party se topposte in die komende elektiewe kongres goedkeur.

Dr. Hage Geingob, die huidige staatshoof, se nominasie vir die partypresidentskap is reeds as onbestrede aanvaar.

By die kongres in November sal visepresident me. Netumbo Nandi-Ndaitwah teen eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila, asook teen kabinetsministers mnre. Frans Kapofi en Pohamba Shifeta vir haar setel meeding.

Die mans is Saterdag goedgekeur ná ’n stemproses om hulle as die voorlopers vir hul geslag uit te wys.

Nandi-Ndaitwah en Kuugongelwa-Amadhila was reeds goedgekeur. Shifeta het 57 stemme gekry en Kapofi het 46 uit 158 stemme ingepalm in hul verkiesing teen minister Tom Alweendo (18) en oudminister Jerry Ekandjo (37).

Mnr. Armas Amukwiyu sal me. Sophia Shaningwa vir haar posisie van sekretaris-generaal uitdaag. Die sentrale komitee het nie met betrekking op die amp van sekretaris-generaal gestem nie. Daar was wel gestem oor nominasies vir die adjunk-sekretaris-generaal, waardeur beide vroulike en manlike kandidate afsonderlik verkies is.

Die vroulike kandidate wat met die sentrale komitee se goedkeuring vir die setel van adjunk sekretaris-generaal sal kan meeding, is parlementslid me. Evelyn Nawases-Taeyele en oud-adjunkminister me. Lucia Witbooi. Albei het 54 stemme gekry, terwyl me. Martha Namundjebo-Tilahun 48 uit 156 geldige stemme gekry het.

Die mans wat vir die adjunk-sekretaris-generaal posisie sal meeding, is mnre. Uahekua Herunga met 63 en David Hamutenya met 47 stemme uit 150 geldige stemme, teenoor mnr. Elijah Ngurare, wat net 40 stemme gekry het. Nawases-Taeyele, Witbooi, Herunga en Hamutenya het dus goedkeuring om in November mee te ding.

Met die goedkeuring sal hierdie kandidate vanaf Woensdag binne die party kan begin veldtogte voer. By die kongres word verwag dat meer as 700 deelnemers in Windhoek byeen sal wees. Kandidate kan ook nog hier genomineer word.

Die uitslag daar in die stryd vir die setel as visepresident sal na verwagting ook die party se steun vir hul opvolger vir Geingob as staatshoof aandui. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!