Die hoof van die Ondonga Tradisionele Owerheid, Omukwanilwa Fillemon Shuumbwa Nangolo. FOTO TUYEIMO HAIDULA
Die hoof van die Ondonga Tradisionele Owerheid, Omukwanilwa Fillemon Shuumbwa Nangolo. FOTO TUYEIMO HAIDULA

Tradisionele owerhede bestaan danksy Nujoma

Ondonga-gemeenskap hartseer oor sy dood
Die opperhoof van die Ondongo Tradisionele Owerheid het gesê Sam Nujoma het "opregte liefde vir sy mense in Namibië en die hele Afrika-vasteland gehad".
Tuyeimo Haidula
Die opperhoof van die Ondongo Tradisionele Owerhede, Omukwanilwa Fillemon Shuumbwa Nangolo, sê as dit nie vir die stigterspresident Sam Nujoma was nie, sou tradisionele owerhede nie bestaan het of in regeringstrukture erken word nie.

Hy het Maandag in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) by die paleis op Onambango gesê Nujoma het “opregte liefde vir sy mense in Namibië en die hele Afrika-vasteland gehad”.

Volgens hom het Nujoma gesorg dat tradisionele leiers goed na gekyk en in ag geneem word toe hy die raad vir tradisionele leiers gevestig het.

“Onder Nujoma se leierskap was daar ’n komitee wat seker gemaak het alle tradisionele owerhede het in die Staatskoerant verskyn en om hul wette en werksaamhede te verstaan,” het Nangolo gesê.

Ná onafhanklikwording was daar ’n toutrekkery waar mense die werk van tradisionele owerhede verwerp het en dit wou laat ontbind. Die rede wat aangevoer is, was dat die bestaan van die rade ’n koloniale besluit was.

“Ek kan duidelik onthou toe die stigterspresident ’n vergadering by die tradisionele owerheid se kantoor op Ondonga kom hou het. Hulle het gesê tradisionele leiers moet nie bestaan nie omdat dit is soos iemand wat sonder enige rigting rondloop,” het Nangolo gesê.

Volgens hom het Nujoma gesê die wette gaan bly en elkeen moet daaraan voldoen.



GEBROKE

Nangolo sê die Ondonga-gemeenskap is hartseer oor Nujoma se dood.

Volgens hom was Nujoma ’n goeie vriend van die Aadonga-gemeenskap en het hy die vriendskap geërf wat die stigterspresident met die ontslape koning Kauluma Elifas gehad het.

“Soos hulle sê die dooies ontmoet mekaar; Nujoma sit waarskynlik saam met Omukwanilwa Elifas en gesels oor wat op die aarde gebeur,” het hy gesê.

Ten spyte van Nujoma se gevorderde ouderdom was die nuus van sy dood steeds ’n skok en moeilik om te aanvaar, sê Nangolo.

Volgens hom was hulle gewoond daaraan dat Nujoma hul probleme oplos en raad gee wanneer hulle dit die nodigste gehad het en omdat hy ’n oopdeurbeleid gevolg het.

“Dit was nie ’n maklike pad nie. Hy kon sy lewe tydens die stryd verloor het. Hy moes ook soldate stuur met die wete dat hulle dalk hul lewens kan verloor en dat sommige dalk gewond of vermink gelaat kan word, maar dit moes gedoen word.

“Maar hy het hoop, veerkragtigheid en uithouvermoë gehad om onafhanklikheid teweeg te bring,” het Nangolo gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer