President Hage Geingob bly die onbestrede leier van Swapo. Foto Mercia Windwaai
President Hage Geingob bly die onbestrede leier van Swapo. Foto Mercia Windwaai

Tweede rondte nominasies voor kongres

Kompetisie vir top posisies begin maandag
Jemima Beukes
Hete debat word verwag by môre se vergadering van die regerende party se sentrale komitee, waar lede bykomende persone vir drie van Swapo se topvier ampte kan nomineer.

Na verwagting sal die sogenaamde "Helmut-wysigings" onder skoot kom, terwyl die zebra-lysting van kandidate - om geslagsgelykheid te bevorder - ook vir sommige 'n onnatuurlike beïnvloeding van suiwer demokrasie verteenwoordig. Die vraag is of die zebra-patroon ook vir die topvier moet geld of nie.

Volgens die party se grondwet moet twee van die vier persone vroue wees, maar dit hoef nie in rangorde te wees nie, soos Swapo met sy partylyste doen.

Gister het mnr. Helmut Angula gesê die kongres kan as die party se hoogste besluitnemende gesag reëls verander, maar die struikelblok is dat kennis van so 'n versoek drie maande voor die kongres ontvang moet word. Hy weet nie of sulke vertoë reeds gerig is nie.

Volgens mnr. Nahas Angula, oud-eerste minister, is die grondwet egter onduidelik oor die 50/50-geslagskwota. Die zebra-patroon dien volgens hom wel as norm.

'n Voormalige lid van die sentrale komitee, dr. Richard Kamwi, reken geslag behoort niemand uit te sluit tydens nominasies nie. Enige persoon moet volgens hom kan staan. "Ek beskou dit as dat die beste kandidaat moet wen," het hy opgemerk.

Die Helmut-wysigings verwys na 'n besluit dat net persone wat vir 20 jaar ononderbroke 'n lid van Swapo en sy sentrale komitee is vir topposisies kwalifiseer. Mnr. Helmut Angula, na wie die wysigings vernoem is, het die week aan Namibian Sun gesê die etiket is 'n kwaadwillige poging om hom skuld te gee vir 'n kollektiewe besluit waarmee sommige nou ontevrede is. Hy is ook van mening dat geen posisie in die party onbestrede gevul mag word nie en dat interne demokrasie op elke vlak vrylik uitgeoefen moet word.

In beginsel kan kandidate selfs steeds vanaf die vloer genomineer word by die kongres, maar dit het al meer onwaarskynliker geraak sedert 'n meer gestruktureerde opvolging- en veldtogvoeringsproses begin infaseer is.

Dr. Hage Geingob, huidig staatshoof, se nominasie vir die partypresidentskap is reeds as onbestrede aanvaar.

ANDER NAME IN DIE POT

Ná die politburo se vergadering die afgelope Maandag pryk daar twee name elk op die lyste vir vise-president en sekretaris-generaal, asook drie name op die lys vir die pos van adjunk-sekretaris-generaal.

Die meerderheid, vyf uit sewe, is vroue.

Me. Netumbo Nandi-Ndaitwah is huidig vise-president terwyl eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila, voorheen minister van finansies, ook vir die pos genomineer is. As geen ander kandidate genomineer word nie, sal Swapo se volgende president en waarskynlik Namibië se vierde staatshoof dus 'n vrou wees.

Mnr. Armas Amukwiyu sal me. Sophia Shaningwa vir die posisie van sekretaris-generaal uitdaag. As die zebra-patroon gevolg word, sal 'n man egter die pos moet kry.

Die drie persone in die wedloop om adjunk-sekretaris-generaal te word, is mee. Lucia Witbooi, Evelyn Nawases-Tayele en mnr. David Hamutenya.

Mnre. Utoni Nujoma en Pohamba Shifeta se benoemings is nie gesekondeer nie, het Namibian Sun die week berig.

Prof. Peter Katjavivi, dr. Albert Kawana, mnr. Calle Schlettwein en me. Doreen Sioka het kennis van hul aftrede uit die aktiewe politieke gegee.

Ander moontlike mededingers vir posisies wie se name die afgelope tyd deur die media geopper word, is mee. Katrina Hanse-Himarwa, Martha Namundjebo-Tilahun, mnre. Jerry Ekandjo, Frans Kapofi, Tom Alweendo, dr. Elijah Ngurare en selfs dr. Iipumbu Shiimi, die minister van finansies.

Verkiesingsveldtogte sal eerskomende Maandag begin en tot 24 November duur. Die kongres vind van 25 tot 27 November 2022 plaas.

Die skerp verdeling tydens die vorige kiesstryd tussen die sogenaamde Harambee- en Swapo-spanne is later wyd in die regerende party se geledere veroordeel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!