• Tuisblad
  • Politiek
  • ‘Burger’ Dharani verdedig sy Swapo-skenking van N$1,5 m.
Die Rani-groep se besturende direkteur, Ali Dharani. Foto verskaf
Die Rani-groep se besturende direkteur, Ali Dharani. Foto verskaf

‘Burger’ Dharani verdedig sy Swapo-skenking van N$1,5 m.

Ontken uitbuiting van werkers
Die Rani-groep word daarvan beskuldig dat hulle kop in een mus met die Swapo-regering is, aldus die reuseskenking aan die regerende party.
Kenya Kambowe
Die Indies-gebore sakeman en eienaar van die Rani-groep van maatskappye, Ali Dharani – wat daarvan beskuldig word dat hy sy werknemers so min as N$1 200 per maand betaal het – sê hy is ’n Namibiese burger en is dus ten volle geregtig om ’n skenking van N$1,5 miljoen aan Swapo te maak.

Sy ruim skenking by Swapo se fondsinsamelingsgala is met afkeuring begroet deur sommige wat die ryk sakeman daarvan beskuldig dat hy witvoetjie by Swapo soek om die beweerde uitbuiting van werknemers by sy maatskappye, waaroor wyd in die media berig is, toe te smeer.

“Die skenking van N$1,5 miljoen deur die Rani-groep wys jou hoe die regerende party diegene wat mede-Namibiërs uitbuit, geakkommodeer het.

“Mense werk in haglike werksomstandighede, hulle word erg onderbetaal, maar as hul werkgewers miljoene dollar se skenkings kan maak aan ’n politieke party wat die land regeer, hoe verwag jy dat dieselfde regering moet veg vir die belange van die mense wat ly? Dit is pateties,” het ’n bron wat verkies om anoniem te bly, gesê.



REGERING ‘KYK ANDERPAD’

In ’n klagskrif verlede Desember het Dharani se werknemers gesê hulle verdien tussen N$1 200 en N$1 400 per maand, en daar word van hulle verwag om sewe dae per week sonder oortyd vir Sondagskofte te werk.

“Hulle het gesê ons kry 'n vaste salaris, maar as jy met verlof gaan, kry jy net die helfte van jou salaris,” het ’n werknemer, Cornelius Nepela, destyds gesê.

Die werknemers, wat hulle verlede jaar tot die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF) gewend het vir ingryping, het gesê hulle word onderbetaal omdat die Rani-groep kop in een mus is met die Swapo-regering, wat hulle blindstaar teen hul lyding.



‘VAN OORTREDING VRYGESPREEK’

Dharani het vandeesweek met Republikein se susterkoerant Namibian Sun gepraat en gesê hy buit nie sy werkers uit nie, en verskeie ondersoeke deur regeringsministeries het hom van enige oortreding vrygespreek.

By die Swapo-fondsinsamelingsgala verlede Vrydag is N$16 miljoen beloof vir skenkings voor die verkiesing op 27 November, insluitend die Rani-groep se N$1,5 miljoen.

Dharani het aan Namibian Sun gesê hy ondersteun die regerende party sedert 2005, vandaar sy besluit om die belofte van die skenking te maak, en bygevoeg dit is nie die eerste keer dat hy geld aan Swapo skenk nie.

Volgens hom is die skenking nie daarop gemik om kontrakte of tenders van die regering te ontvang nie, maar om te verseker dat die land deur die beste kandidaat en party gelei word.



VRYE WIL

“Aan die mense wat kritiseer, oortree ons enige wette in die land?” wou hy weet.

“As daar enige klagtes of iets is, ondersoek die mense. Die ministerie van arbeid het ons [die Rani-groep] ondersoek, die ministerie van handel het ons ondersoek. Ons het geen wette in die land oortree nie,” het Dharani gesê.

“Dit is die vrye wil van elke Namibiër om ’n politieke party te ondersteun; ek is ’n Namibiese burger. Hoekom moet iemand ondervra word omdat hy die party van sy keuse ondersteun? Dit is in die Grondwet van Namibië dat ek geassosieer kan word met enige party wat ek wil.

Hoekom word ek uitgesonder omdat ek die party ondersteun wat ek wil ondersteun?” vra die sakeman.

“Die kieskollege is om die beste leier uit die beste te kies. Is dit nie goed vir die land om deur die beste leier gelei te word nie? As ons as sakegemeenskap dit ondersteun om die beste leier te kies wat ons sal regeer of wat die beleid vir die volgende vyf jaar sal lei, is dit in die land se beste belang.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!