Karibib bou stoom op

Padwedlope
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Ná twee jaar waarin die QKR Navachab Gold-halfmarathon weens inperkings nie kon plaasvind nie, sal dié gewilde uitdaging Saterdag by Karibib herleef.

Die hoofborg belê ’n reusebedrag (N$120 000) in vanjaar se byeenkoms. Nammed Medical Fund het vir ’n inspuiting van N$35 000 gesorg en FNB Karibib vir N$15 000, terwyl Karibib-dorpsraad N$6 000 bewillig het. Coca-Cola sal weer soos tevore die atlete se dors les.

Die agtste byeenkoms sal opnuut Namibië se voorste lang­asems, fiksheid-entoesiaste asook werknemers van die QKR Navachabgoudmyn lok. Die geelwortel vir die atlete is natuurlik die goeie kontantpryse en medaljes wat opgeraap kan word.

Die elite mans en vrouewenner van die halfmarathon (21.1 km) sal elkeen N$7 000 in die beursie hê. Die tweede en derde posisies sal onderskeidelik met N$5 000 en N$3 000 kan spog.

Wenners in die veterane- asook junior mans- en vroue-afdeling sal N$5 000 ontvang, terwyl die meesterswenner met N$3 000 vergoed word. Manlike en vroulike werknemers van die hoofborg wat eerste in die halfmarathon en 5 km-wedloop eindig, kan op N$1 000 reken.

Skoolgaande wenners kan N$500 losslaan.

Minder fikses en families kan die 5 km as ’n pretloop benut.

McLyn Kasale het namens QKR Navachab Gold gesê: “Ons wil die byeenkoms laat groei en het besluit om die borgskap aansienlik te vergroot. Navachab is vir die afgelope sewe jaar by die padwedloop betrokke en ons beplan nie om te onttrek nie. Ons is hier om te bly.

“Ons kan nie ’n kompetisie borg sonder dat Navachab-werknemers se deelname ook geakkommodeer word nie.

“Volgende jaar mag die prysgeld dalk verhoog word om meer atlete in aksie te sien en ons dink daaraan om ’n 10 km-roete by te voeg. Baie dankie aan die medeborge wat aan boord gekom het.”

Bethold Karumendu, sportbeampte van die Erongostreek en organiseerder, sê: “Alle paaie lei die naweek na Karibib. Die reëlings is afgehandel en registrasie vind vanaf 18:00 Vrydag in die hoofstraat plaas voor ons na die Ugabstadion vertrek waar dit tot middernag sal aanhou. Laat inskrywings sal nog Saterdagoggend voor die kompetisie aanvaar word.

“My dank aan die ministerie vir hul noodsaaklike bydrae om die byeenkoms ’n sukses te maak deur die verskaffing van vervoer aan atlete na Karibib.”

VORIGE KEER

Meer as 500 drawwers het in 2019 deelgeneem.

Rainhold Tomas het in 2019 met die laaste byeenkoms die elite-afdeling van die halfmarathon in 1 uur 6 minute en 2 sekondes gewen. Simon Paulus was tweede in 1:06:04 met Kefas Kondjashili derde in 1:09:01. Tomas, Olimpiese atleet in 2021, het laas naweek ook die NamibRe Windhoek City Run gewen.

By die elite-vroue het Lavinia Haitope (1:16:15) geseëvier, met Alina Armas (1:18:01) en Anna Amukoto (1:19:03) onderskeidelik tweede en derde.

Die beste tyd vir dié betrokke byeenkoms staan op 1:03:01 wat in 2017 deur die talentvolle WP-atleet Joël Mmone van Suid-Afrika opgestel is. Tweede ná hom was Thabang Mosiaka van Noordwes (1:03:02) en derde Lucky Mohale van Gauteng in 1:04:03.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!