Brand lê Henties se Spar in puin

Skade word op N$25 miljoen geraam
Dit is nog ongekend wat die brand veroorsaak het wat Saterdagnag Hentiesbaai se Spar in puin gelê en tot skade van N$25 miljoen gely het.
Adam Hartman
Benewens die skade van nagenoeg N$25 miljoen wat Hentiesbaar se Agenhach-familie gely het toe die Spar Sagterdagnag deur ’n brand verwoes is, is twee mense ook in die voorval beseer.

Volgens die polisie se verslag wat gister deur diemisdaadondersoekkoördineerder, adj.komm Erastus Iikuyu, uitgereik is, het die brand na bewering omstreeks 20:15 by die wegneemkombuis ontstaan, waarna dit deur die winkel versprei het.

Alles in dié bekende supermark het tot as verbrand. Foto's toon die binnekant van dié bekende winkel wat al 26 jaar bestaan, is nou net ’n puinhoop.

Volgens Iikuyu is die brand omstreeks 03:30 Sondag eindelik deur Swakopmund en Hentiesbaai se brandbestryders geblus.

“Een brandbestryder het ligte beserings opgedoen, en 'n ander persoon, 'n jong man, het beserings opgedoen toe hy van die gebou afgeval het terwyl hy probeer het om die brandbestryders by te staan,” het Iikuyu gesê en bygevoeg laasgenoemde is na 'n privaat hospitaal op Swakopmund vir behandeling geneem.

Die oorsaak van die brand was teen druktyd nog onbekend.

'n Verslag deur LifeLink-noodreddingsdienste op Hentiesbaai het ‘n “ten volle ontwikkelde en vinnig verspreidende brand” binne die winkel gewoed.

'n Besluit is geneem om onmiddellik die hulp van die brandweer op Swakopmund in te roep en die brand kom van beide kante van die gebou deur die Swakopmund- en Hentiesbaai-brandweerdiens bestry word.

Hentiesbaai se munisipaliteit het ekstra water na die hooftoevoer herlei. Ander nooddienste het ook by die toneel opgedaag.

“'n Lid van die publiek het op 'n dak geklim ten spyte van uitdruklike opdrag om dit nie te doen nie. Gevolglik het hy deur die dak geval en ernstige beserings opgedoen. Hy is deur ’n lid van die Hentiesbaai-brandweer gered en behandel, en na ’n hospitaal in Swakopmund vervoer,” lui LifeLink se verslag.

Daarvolgens was die brand tot Spar beperk, met hul aangrensende koffiewinkel wat behoue gebly het, hoewel dit erg beskadig is. Geen ander winkels is beskadig nie,” lui die verslag.

Een brandweerman het ’n besering opgedoen toe hy deur 'n vallende voorwerp getref is en is ook hospitaal toe geneem.

Omstanders het glo berig dat daar verdagtes was wat na bewering probeer het om die chaos as 'n geleentheid te gebruik om by die ander winkels in te breek, maar hulle is deur sekuriteitsbeamptes weggejaag.

Mnr. Johan Agenbach, eienaar van dié Spar, het aan Republikein se kuskantoor gesê iemand hom van die rook laat weet het en hy en sy seun het uitgehardloop buite toe om te sien wat aangaan. Hulle woon oorkant die sakesentrum waar Spar geleë is. Hy sê dit het gelyk of die rook van die wegneem-gedeelte kom.

“Ons het die winkel binnegegaan en die rook en vlamme gesien. Ek het dadelik ’n brandblusser gegryp en dit leeggemaak, maar toe ek die volgende blusser wou gebruik, was die rook te veel en my seun het gesê ons moet daar wegkom,” vertel hy.

Anders as wat in die sosiale media berig is, het die brand nie na die aangrensende winkels in die sentrum versprei nie.

Agenbach sê ondersoeke is aan die gang en hy kan nie bespiegel oor wat moontlik die brand veroorsaak het nie. Volgens hom hou die wegneem-afdeling om 14:00 op Saterdae op om kos te verkoop. Die brand het ses uur later ontstaan.

“Dit is 'n ou gebou, so dit is moeilik om te sê wat verkeerd kon gegaan het,” het hy gesê en die brandweer en nooddienste geprys vir hul pogings om te verhoed dat die brand na die ander winkels versprei.

“Ons gebou is dalk afgebrand, maar ons sal ons besigheid voortsit, en met die ondersteuning van ons personeel en die gemeenskap – selfs van ver buite ons grense, sal ons weer opstaan,” het sy vrou en die mede-eienaar, me. Dalene Agenbach, gesê.

Na verneem word is die inwoners van die nabygeleë sentrum vir verswakte bejaardes as voorsorgmatreël ontruim, hoewel daar volgens mnr. Gert Grobler van Hentiesbaai se Lions Club aan wie die sentrum behoort, nie ’n bedreiging was dat die brand daarheen sou versprei nie. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!