CoW reageer ná oorstromings gesinne dakloos laat
Yolanda Nel – Nadat ’n aantal gesinne hul huise en meeste van hul besittings ná Vrydag se hewige reënbui verloor het, het Windhoek se munisipaliteit (CoW) gesê hulle het eers Saterdag omstreeks 11:00 van die oorstromings bewus geword.
Volgens inwoners van die informele nedersetting Kapuka Nauyala het hulle die munisipaliteit Vrydag gebel, waarna CoW-personeellede eers ná 17:00 opgedaag het – toe die skade reeds aangerig was.
“Die nood- en ramprisikobestuurspan het gereageer om ’n assessering uit te voer en vas te stel hoeveel huise oorstroom het en om moontlike stappe aan te beveel wat deur interne belanghebbendes van CoW vereis word,” het me. Lydia Amutenya, woordvoerder van die CoW, gesê.
Sy het bygevoeg 17 informele wonings met altesame 46 inwoners – waarvan agt kinders is – word deur die oorstromings geraak. Agt van die 17 huise het egter skade gely aangesien hulle aan die rivierbedding grens.
“Die huise is oorstroom as gevolg van verstopte waterkanale weens onwettige rommelstorting in die rivierbeddings. Die meeste sigbare afval is gewone items soos plastieksakke, wat veronderstel is om weggegooi te word in sakke wat aan die gemeenskap voorsien word en deur die munisipaliteit verwyder word sodra dit vol is,” het sy verduidelik.
Mnr. Iileka Shetunyenga, een van die inwoners, het gesê hy bel die munisipaliteit al sedert Augustus en beweer hy het geweet daar gaan ’n probleem wees sodra die reënseisoen begin.
“Die munisipaliteit het vyf maande gelede ’n vullishouer hier verwyder, wat ons met geen plek gelaat het om van ons vullis ontslae te raak nie,” het hy gesê.
Daarop het Amutenya geantwoord dat dié houers nie vir algemene huishoudelike afval bedoel is nie, maar vir bourommel en tuinvullis. “In hierdie stadium kan ons nie bevestig dat die houer verwyder is nie, want ons verwyder selde houers uit gebiede tensy die onmiddellike inwoners ons skriftelik vra met die toestemming van almal wat deur die verwydering geraak sal word,” het sy gesê.
Inwoners het gekla oor die munisipaliteit glo nie maaltye en tydelike verblyf aangebied of verskaf het sedert die oorstromings nie.
“Die onmiddellike hulp wat verleen is, was om die puin te verwyder en ’n gebarste pyp reg te maak wat in die proses om die blokkasie uit die rivierbedding te verwyder, gesny is. Dis ’n tydelike oplossing, maar ’n meer permanente oplossing is nodig ingevolge die raadsbesluit om inwoners van gevaarlike en ongeskikte gebiede te verskuif en hierdie kwessie geniet prioriteit van die munisipaliteit,” het die woordvoerder gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie