ACCOUNTABILITY: Oshikoto governor Penda Ya Ndakolo. PHOTO: Contributed
ACCOUNTABILITY: Oshikoto governor Penda Ya Ndakolo. PHOTO: Contributed

Droogtehulpvoedsel gesteel

Verslag wys op talle uitdagings, leemtes
Voer wat die regering aan boere moes verskaf, het glo bederf voordat dit uitgedeel kon word weens vertragings met die verwerking van boere se eise.
Mathias Haufiku
Daar is beslag gelê op gesteelde droogtehulpvoedsel ter waarde van N$100 000 tydens ’n polisieklopjag by ’n plaas in die Guinas-kiesafdeling in die Oshikotostreek.

Luidens ’n verslag van die Namibiese polisie is die ontdekking by die plaas Leeu Pos gemaak ná ’n intelligensie-geleide operasie en ’n soektog uitgevoer is. Die voedsel is in die plaashuis gevind.

Die goewerneur in die streek, Penda Ya Ndakolo, het amptenare en lede van die publiek gewaarsku om nie kos te steel wat vir die armes geoormerk is nie.

“Ons moet onthou dat die droogtehulp slegs vir die geïdentifiseerde begunstigdes is wat niks het om te eet nie.

“Ons kan nie ’n situasie toelaat waar hierdie kos aan iemand [anders] gegee word nie. Ons het die lyste van die begunstigdes en net hulle moet hierdie kos kry,” het hy Sondag gesê.

Verskeie voorvalle van beweerde korrupsie en voedselplundering is in sommige streke aangemeld en daar is bewerings dat diegene in beheer van die verspreiding van die voedsel dit nie by behoeftige gesinne aflewer nie.

Die ontdekking op die plaas kom net maande nadat kookolie en ander items ter waarde van sowat N$600 000 na bewering uit ’n pakhuis van die Ohangwenastreek se eenheid vir ramprisikobestuur gesteel is.

Sewe werknemers is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Verlede maand is droogtehulpvoedsel ter waarde van sowat N$39 000 glo uit ’n pakhuis by Katwitwi in die Kavango-Wesstreek gesteel.

VERSLAG LIG UITDAGINGS UIT

Die droogtehulpprogram het die afgelope jare talle uitdagings in die gesig gestaar.

Dít is volgens bevindings in ’n prestasieverslag oor die bestuur van Namibië se droogtehulpprogram vir die boekjare 2015-’16 en 2019-’20 waarin droogte verklaar is, met ’n verlenging tot Maart 2022.

Die verslag wat die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke, uitgereik het, het daarop gewys dat die beoordeling van kwesbaarheid deur die kantoor van die eerste minister deur die Namibiese komitee verantwoordelik vir die assessering van kwesbaarheid uitgevoer is, voor die program geïmplementeer is.

Die beoordeling was glo nodig om die aantal mense te bepaal wat deur die droogte geraak is en voedselbystand en ingrypings benodig.

Dit is ook gebruik om kriteria te ontwikkel vir die identifisering van huishoudings wat voedselonsekerheid ervaar.

Volgens die verslag het die beoordeling oor kwesbaarheid gedurende 2015-’16 al 14 streke se landelike gebiede gedek, terwyl in die 2019-’20-droogtetydperk slegs 1 833 (55%) van 3 300 landelike huishoudings en 1 028 (60%) van 1 695 stedelike huishoudings in 12 streke vir beoordeling geteiken is.

Die ||Kharas- en Khomasstreek is nie gedurende die 2019-’20-droogtetydperk geassesseer nie.

GETALLE KLOP NIE

Die beoordeling het voorspel dat die begunstigdes van droogtehulp in 2015-’16 altesaam 578 480 sou wees en 257 383 in 2019-’20.

Die werklike geregistreerde begunstigdes vir 2015-’16 was egter 578 480 en vir 2019-’20 was dit 908 018.

Die oudit het verder getoon dat voedsel nie op ’n maandelikse basis soos vereis uitgedeel word nie.

Luidens die verslag is meer mense geregistreer omdat tradisionele owerhede nie tydens die registrasieproses by die vasgestelde kriteria gehou het nie.

Die kriteria is glo nie goed gekommunikeer nie, wat gelei het tot ’n wanindruk onder sommige mense. Dit het glo veroorsaak dat mense wat nie aan die kriteria voldoen het nie, geregistreer en van droogtehulpvoedsel voorsien is.

Intussen is die voedsel na bewering nie maandeliks van die verskaffers ontvang of in vol pakkette – wat kookolie, mieliemeel en blikkies ingesluit het – uitgedeel nie, aangesien sommige items lank geneem het om by die streekrade se pakhuise uit te kom.

Hulle het dus die voedsel begin versprei wat hulle reeds ontvang het.

VERTRAGINGS

Gemeenskapslede het hoofsaaklik die voedsel versprei sonder enige toesig van óf die kiesafdeling óf die streekraadskantore, het die oudit uitgewys.

Daar was glo ook groot vertragings met die verwerking van boere se eise, wat veroorsaak het dat voer wat deur die regering verskaf is, bederf het voor dit versprei is.

Verder is bevind dat die kantoor van die eerste minister nie die implementering van die program voldoende gemonitor het nie.

Vorderingsverslae oor die implementering van die program is nie gereeld saamgestel nie, terwyl ’n impakstudie ook nie gedoen is om die doeltreffendheid daarvan vir die gebruik in toekomstige beplanning te bepaal nie, het die verslag uitgewys.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer