Droogtenood groot
Meer boere soek weiding
Tropiese storms in die Mosambiek-kanaal en rondom Madagaskar trek volgens weerkenners die vog uit die lug en sal tot in April voortduur.
Droogtehulp Namibië beskryf vanjaar se droogte erger as 2019 s’n en reënvooruitsigte lyk nie belowend nie.
“Ek is vanaf 2015 betrokke by droogtehulp. Die droogte van 2019 was verwoestend; toe was die Weste en plek-plek in die Ooste baie droog, maar dit is nou op sy ergste,” het Henriette Le Grange van dié organisasie gesê.
“Wat hierdie jaar erger is, is die hoeveelheid boere wat weiding soek.”
Le Grange sê om ’n Suide-boer te wees, moet jy baie spesiaal wees om te oorleef: “Ek sou opgegee het. Daar is boere wat al 12 jaar sukkel.”
Tydens Agri Monitor se besoek aan die Suide en Suidooste is erge droogtetonele waargeneem met brandmaer vee en wild, karkasse, ’n groot tekort aan weiding en erge grondagteruitgang.
VRAGMOTORS VOL VEE
Talle vragmotors volgelaai met vee is oral op Suide-paaie opgemerk.
Op Gochas het boere gesê tussen sewe en tien vragte skape word per week uit die Hardapstreek weggelaai.
“Boere wat 5 000 of 6 000 skape gehad het, het nou net 500 skape oor,” het Le Grange bevestig.
“Verlede week is daar net in die Ooste meer as 5 000 beeste opgeveil. Wat regtig kommerwekkend is, is veilingspryse – met slagkoeie wat vir sleg N$9 per kilogram gaan.”
In die verre Noorde lyk die mahangu treurig met die Efundja-vloedwater wat nog glad nie opgedaag het nie.
Wat die Mieliedriehoek betref, sê Le Grange tussen Grootfontein en Kombat het talle boere min reën gehad en Otavi, wat gewoonlik baie reën kry, is ook baie droog.
“Die Noordweste wat gewoonlik droog is, het reën gekry, maar van daar af – suidwaarts in die Weste – is dit baie droog, asook by Otjiwarongo, Kalkfeld en Omaruru.
Sy sê in die Ooste, veral in die omgewing van Aminuis is die nood groot.
“Ons boer tussen Summerdown en Witvlei waar dit vroeër gereën het, maar nie opvolgreën nie. Die enkele klein buie het nie die grond diep natgemaak nie.”
Reën het ook kol-kol geval met “een boer wat 80 mm kry en sy buurman net 5 mm”.
Le Grange sê sedert Desember verlede jaar het Droogtehulp Namibië al meer as N$200 000 se voer aangekoop.
Volgens haar het die fonds twee weke gelede boere van Gochas, die Kalk en Mariental gehelp en verlede week boere van Keetmanshoop, Bethanie en Aus.
Volgende kom Koës, Aroab, Maltahöhe, Aranos en omgewing aan die beurt.
Le Grange sê die boere in die verre Suide, soos Karasburg en langs die Oranjerivier, moet nog hulp ontvang.
“Ons geld is uitgeput en die nood is op sy grootste. ’n Mens voel jou hande is afgekap.”
Droogtehulp Namibië hou op 20 April ’n konsert by Windhoek Afrikaanse Privaatskool om geld in te samel, met die countrygroep West wat optree. ’n Biddag vir reën is Woensdag landswyd gehou.
“Ek weet nie hoe ’n boer moet opstaan met hul finansies wat beperk is nie. Die droogte van 2019 is nie so lank gelede nie en boere begin nog hul kudde opbou en nou sit hulle met ’n kernkudde wat verminder moet word.”
TROPIESE STORM
Volgens die Namibiese Meteorologiese Diens en onafhanklike weerkenners duur die El Niño-weerpatroon voort – alhoewel swakker – wat die skuld vir die droogte kry.
Die tropiese storm Filipo is steeds in die Mosambiek-kanaal teenwoordig wat ongunstige reëntoestande vir Namibië voorspel. Verder noord rondom Madagaskar sal tropiese storms – wat die vog uit die lug trek – tot in April voortduur, volgens die weerkenner Johan van van den Berg.
Damme wat die sentrale gebied van water voorsien is tans 20% vol teenoor verlede jaar se 41,7%. Die Von Bachdam het invloei gekry, maar staan tans op ’n skrale 11,1% teenoor verlede week se 11,4%.
Groot kommer heers onder besproeiingsboere oor die Hardapdam wat slegs 12,6% vol is, met die Ooste se damme wat op ’n gesamentlike vlak van 3,9% staan.
Intussen is riviervlakke besig om te daal. In die Noordooste toon die vlak van die Kavangorivier ’n afname en die Zambezirivier is op ’n rekordlaagtepunt van 1,56 meter.
Die vlak van die Benede-Oranjerivier bly laag en inwoners word aangemoedig om streng waterbesparingsmaatreëls toe te pas weens die wisselende kritieke lae vloei wat in die rivier waargeneem is.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie