Droogtenood hoog
Aansoekvorms vir hulp stroom steeds in
Die landbouministerie bied spesiale pryse op gesubsidieerde voer en melasse by landbouontwikkelingsentrums aan.
Boere is op hul knieë weens die versengende droogte met vee- en wildvrektes wat landswyd aangemeld word weens ‘n ernstige gebrek aan weiding en die invoerkrisis van veevoer.
“Die nood is hoog. My hart breek. Die groot probleem is, die droogte is regoor die land,” het Henriette Le Grange van Droogtehulp Namibië gesê.
Sy sê boere stuur nog steeds vir haar aansoekvorms vir droogtehulp, alhoewel die fondse vir Droogtehulp Namibië reeds middel Junie uitgeput was.
“Daar is omtrent 200 boere wat nog nie gehelp is nie.”
Dit is volgens aansoekvorms wat Le Grange nog tot einde Junie ontvang het.
“Ek het aanvanklik gesê kom ons stop 15 Junie, want toe was die skenking van N$1 miljoen van FNB Namibia op. Ek het nog voer bestel waarmee ons die laaste boere tot einde Junie kon help, daarna kon ons nie meer help nie,” het sy gesê.
“Die laaste boere kon ons net help met 20 bale. In die begin kon ons help met 30 bale en in kleiner areas met 40 bale.”
Le Grange sê die laaste voerskenking is aan boere van die Keetmanshoop-omgewing gegee en sy het nog van hulle voer na Grünau gestuur.
“Ons help streke, ons help nie individue nie, want voorheen het sommige mense soos hulle die lusern gekry het, dit verkoop.
“Daar is regtig dae wat ek baie moedeloos is. Ek het baie gery, jy sien nie gras nie. Dis net rooi grond. Daar is ‘n handjievol boere wat hul veld kon oppas,” skets sy die nood, en die reënseisoen lê nog ver.
Le Grange sê die wydverspreide droogte strek na alle uithoeke van die land.
“Grootfontein en Gobabis wat nog altyd goed reën gehad het, het nou droogte met sommige boere by Gobabis wat slegs 15 mm reën gehad het.”
Sy beskryf onder meer Aminuis, Gochas, die Kalk en Stampriet as droewig .
“Toe ons Stampriet toe gery het, as jy ‘n plaashek oopmaak, lê daar ‘n dooie skaap of beendere. Die wild vrek net so, dis nou tien keer erger. Dit was hartverskeurend. Ek weet nie of die publiek regtig weet hoe lyk ‘n dier as hy begin doodgaan nie, dis baie erg om dit te sien.”
VOERKRISIS
Le Grange sê die leë Hardapdam is ‘n groot terugslag vir besproeiingsboere en hul lusernproduksie. Die Hardapdam is nou net 9,8% vol teenoor verlede jaar se stand van 34,1%.
“Jy kry nêrens lusern nie, daar is is niks. Ek kan niemand help nie. Dit is ‘n gesukkel om voer in te voer en om gewone voer te koop, is ongelooflik duur.”
Wat die regering se droogtehulp vir voer betref, is Le Grange dankbaar, maar meen dit is beperk.
“Elke bietjie help. Enige boer kan sy tien bale gras of lusern gaan haal. By die staat maak dit nie saak of jy een of 100 diere het nie, jy kan net tien bale kry.
“As jy redelik ver van dorp af is, raak dit te duur om vir tien bale te ry,” sê sy.
Le Grange beveel aan die regering moet ‘n voerkraalooreenkoms kry en die voerkraal ondersteun met voer.
Die landbouministerie bied nou spesiale pryse op gesubsidieerde voer en melasse by landbouontwikkelingsentrums aan. Lusernbale is te koop teen N$100 elk, grasbale teen N$70 elk, 40 kg melassemeel teen N$110 en 25 kg melassestroop teen N$120.
Die landbouministerie maan dat verifikasie vooraf met die nodige dokumente by die landboukantore ‘n vereiste is voor ‘n betaling gemaak kan word. “Geen terugbetalings sal gedoen word nie.”
Die skema geld vir veeprodusente in al 14 streke.
AANLYN VEILING
Droogtehulp Namibië bied vanjaar weer ‘n aanlyn droogtehulpveiling deur jugglebee.com op 19 Augustus aan om boere in nood te ondersteun.
Le Grange sê boonop is dit ‘n veliger opsie en jugglebee.com vra hulle geen kommissie nie.
Die organisasie help ook boere met mediese nood en hul kinders met skoolfonds.
“Ons het N$800 000 nodig vir drie boere wat groot operasies moet ondergaan, nadat ses boere aansoek gedoen het. Nog N$200 000 se skoolfonds is uitstaande, nadat ons al N$200 000 inbetaal het.” - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie