Hardap se krane vir besproeiing toegedraai
Dam bereik D-dag
Die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein het bevestig die Hardapdam is op sy laagste vlak ooit van 6,3%.
Gemoedere op Mariental is maar swaar, het ’n boer by die Hardapskema gesê nadat die Hardapdam se krane gister vir besproeiing toegedraai is.
“Dis baie sleg, veral vir plotboere wat geen ander inkomste het nie. Ons kan nou maar net bid vir reën,” het Raymund Simon aan Network Media Hub (NMH) gesê.
Die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein het bevestig die Hardapdam is op sy laagste vlak ooit van 6,3%.
“Besproeiingswater kan nie meer voorsien word nie en word afgesny. Watervoorsiening vir huishoudelike gebruik en vee sal tot Februarie 2026 beskikbaar wees (met geen invloei hierdie seisoen nie).”
Hy sê die droogte wys sy drastiese gevolge met klimaatsverandering en gevolglike waterskaarste wat ’n uitdaging is wat Namibië moet aanpak.
“Ons het begin om bykomende kapasiteit te skep deur ontsoutings- en herwinningsaanlegte te ontwikkel. Ons ontwikkel en verbind beskikbare grondwater-akwifere met oppervlakwaterbronne. Ek stem egter saam dat met klimaatsverandering en bevolkingsgroei wat aan ons deure klop, baie meer gedoen moet word.”
Belanghebbendes het op Mariental vergader met NamWater wat gister die Hardapdam se watertoevoer vir besproeiing gestaak het.
VALS BEWERINGE
Die munisipaliteit van Mariental het beweringe van die totale afsny van watertoevoer in die kiem gesmoor en dit as vals beskryf.
Die munisipaliteit het beklemtoon dat drinkwater steeds vir inwoners beskikbaar sal wees, maar die voorsiening van rou water sal stop, dus sal inwoners nie hul tuine kan natlei nie.
Simon sê alle Marientallers word geraak, maar die grootste impak is op die skemaboere.
“Hul volgende inkomste gaan eers middel of einde volgende jaar wees as die reënseisoen baie laat kom,” het hy verduidelik.
Simon het Paasnaweek met sy helikopter oor die Visrivier in vloed gevlieg en hoop het vir die Hardapdam opgevlam, maar die invloei uit die opvangsgebied van die dam was nie genoeg om D-dag af te weer nie.
Hy sê oor die jare heen was daar waterbeperkings en almal het vanjaar geweet die water is min, maar nog nooit was die dam só leeg of is die water heeltemal afgesny nie.
“Al die lusern wat natgelei word, gaan vrek en daar is boere wat voer moet koop. Hardap gaan eers weer einde volgende jaar lusern kan hê en dis ’n lang tyd wat voorlê. Hopelik kom daar water vroeër in as verwag.”
Volgens Simon plant skemaboere gewoonlik mielies in Desember en stroop dit wintertyd: “Niemand het mieliesaad of kunsmis gekoop nie. Almal wag, maar dit gaan dalk bietjie laat raak vir mielies as ons moet wag tot Februarie met ons reëntyd wat eers Januarie of Februarie is.”
Hy sê die ander opsie is om grondboontjies te plant as daar water inkom.
“Niemand op Hardap het bygeplant nie. Weens die aanpassing van water, kon net 25% van lande natgelei word – letterlik tot gister.”
LUSERN
“Van die boere kon tot gisteraand natmaak en sal die laaste snitte lusern afhaal. Die lusern gaan nou vrek en lusern is ’n duur gewas om te vestig.
As lusern geplant is, vat dit drie tot vier maande voor die eerste snit afgehaal kan word en dan kan dit ongeveer nege snitte per jaar lewer, volgens Simon.
“Nou gaan die lusern vrek, behalwe as daar binne twee weke water inkom, maar daar is geen reënvooruitsigte nie,” het Simon moedeloos gesê.
Inwoners meen verskeie faktore het bygedra tot die lae damvlak, soos die kanaal, krane en pype wat nie in stand gehou word nie, die riete wat in die rivier skoongemaak moet word en swak bestuur soos toe die sluise oopgemaak is. Verlede jaar die ooreenstemmende tyd was die Hardapdam 25% vol.
In die sentrale gebied is die Von Bachdam 9,9% vol met water wat vanaf die Swakoppoortdam oorgepomp word wat ook net 21% vol is. Die Ooste se damme is slegs 1,5% vol. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie