Hewige storm saai verwoesting

Geen beserings aangemeld
Bome in die Okahandja-omgewing is ontwortel, dakke is afgewaai en kweekhuise is beskadig.
Augetto Graig
’n Erge donderstorm het Saterdag omstreeks 18:45 noord van Okahandja uitgesak en groot skade aangerig.

Die weerlig het verskriklik geblits terwyl dit kort voor die storm al hoe bedompiger geraak het, het Odette van der Westhuizen gister gesê.

“Dit het hard begin reën en die wind het sterk begin waai.

“Dit was soos die geluid van ’n trein en jy kon niks sien nie. Dit was spierwit soos die reën sywaarts geval het. Ek het gedink my huis gaan wegwaai.

“Die wind het die buitestoele geskep en in die rondte geslinger en my slaapkamervenster getref,” vertel sy.

Die wind het so tussen tien en vyftien minute lank gewaai en toe net so skielik heeltemal bedaar en die son het weer uitgekom, onthou sy.

Hulle kweek met groente op hul plot en talle van die groentetonnels is beskadig.

Sowel Van der Westhuizen as haar plaasbestuurder, wat in die pompkamer geskuil het totdat die wind die deur afgeruk het, was besig om te bid, sê sy.

Volgens haar het kragpale omgewaai asook talle bome in die veld.

“Dit was hectic,” vertel sy.

“Gelukkig is niemand beseer nie.”

Jan Conradie van die Agricon-sampioenplaas, sê die storm het omtrent reg bo hulle uitgesak en het heelwat skade aangerig.

“Dit was maar rof,” vertel hy.

Ses kweekhuise is beskadig en van die tonnels se dakke het afgewaai, wat N$10 000 elk sal kos om te vervang, sonder installasiekoste.

Sinkdakke het ook afgewaai, maar gelukkig is niemand beseer nie, sê hy.

Armand Steyn van Armae sê: “Dit was iets wat ek nog nooit vantevore beleef het nie. Ons het gestaan en kyk hoe die reën uit die Ooste naderkom.

“Dit het met ’n onbeskryflike sterk wind gekom, en het selfs my reënmeters weggewaai, behalwe vir een wat half onder takke versteek was, en meer as 50 mm gemeet het.

“Die reën was beslis meer as dit. Dit het so vir ’n halfuur aangehou, en toe skielik het die wind opgehou en dit was doodstil.

“Toe kom die wind weer uit die westelike rigting. Een woonstel se dak is uit die sement en stene geruk en meters ver gegooi. Groot doringbome is ontwortel. Ons het klomp gaste hier gehad, maar niemand is gelukkig beseer nie,” sê hy.



KRAGTOEVOER

Intussen het Chali Matengu, Cenored se woordvoerder, bevestig dat 13 kragpale tydens die storm beskadig is en die kragverspreider is hard besig om die pale te vervang en kragtoevoer te herstel.

Dié werk word kort-kort deur nog reën onderbreek, het hy gistermiddag gesê.

Nietemin was ses van die pale gister omstreeks 15:00 reeds vervang, hoewel 40% van die betrokke plase aan die noordekant steeds sonder elektrisiteit was.

Dié kragtoevoer sou na vewagting gister omstreeks 21:00 ten volle herstel wees.

“Die Okahandja-span het reeds ses van die pale vervang, maar die werk is gestaak weens die aanhoudende reën in die omgewing. Dit is ’n uitdaging om te werk terwyl dit reën,” het hy gesê.

Richard Nashikaku van die weerkantoor het bevestig dat die storm verwag is, met swaar reën bo 50 mm wat voorspel is.

Heelwat reën is ook die naweek in die sentrale noorde en die Otjozondjupastreek verwag, brei hy uit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer