‘Diamant van Etunda’ finaal ter ruste gelê

Huldeblyke erken Nujoma se bydrae
Nangolo Mbumba het die wens uitgespreek dat die stigterspresident se nalatenskap en harde werk 'n bron van krag vir sy familie en die Namibiese nasie sal wees.
Henriette Lamprecht
’n Reus onder leiers en ’n revolusionêre ikoon wat sy missie met onderskeiding voltooi en sy lotsbestemming vervul het om die kosbaarste geskenk van vryheid en onafhanklikheid vir die mense van Namibië agter te laat.

Só het president Nangolo Mbumba Saterdag afskeid geneem van die ontslape stigterspresident, Sam Nujoma, wat finaal by die Heldeakker ter ruste gelê is.

Sy staatsbegrafnis is voorafgegaan deur ‘n gedenkdiens by die Onafhanklikheidstadion wat onder meer deur sy vrou Kovamba Nujoma, familie, die leiers van politieke partye en staatshoofde soos Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika en Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe bygewoon is.

Nujoma het hier in staatsie gelê totdat sy oorskot met ’n seremoniële stoet deur die land se weermag, vloot en lugmag na die Heldeakker geneem is.

Mbumba het in sy toespraak na Nujoma as die “diamant van die Etunda-nedersetting” verwys en sy selfversekerde houding as leier voor sy kamerade tydens die vryheidstryd onthou.

Mbumba wat self ook onder Nujoma se bevel was, het vertel hoe Nujoma tydens vergaderings van die sentrale komitee in die afgeleë gebiede van Angola sou sê “die volgende keer gaan ons hierdie vergadering aan die buitewyke van Windhoek hou”.

“Vandag het ons teruggekeer na die buitewyke van Windhoek, maar hierdie keer nie om jou tuiskoms te vier nie, maar vir ons finale afskeid,” het Mbumba gesê.

Volgens hom was Nujoma die uiterste staatsman en bevelvoerder en Namibië is trots om hom ’n “seun van die grond” te noem.

Mbumba het die wens uitgespreek dat Nujoma se nalatenskap en harde werk ’n bron van krag vir sy familie en die Namibiese nasie sal wees soos die land voortgaan om sy bevel vir die handhawing van eenheid in doelwitte voort te sit.



UTONI NUJOMA

Nujoma se seun en die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, Utoni Nujoma, het op sy beurt namens die stigterspresident se kinders, kleinkinders agterkleinkinders erken die laaste ses maande was moeilik vir sy familie.

Hulle het egter optimisties gebly omdat sy pa ten spyte van sy swak gesondheid ’n ontembare gees gehad het.

Hy het sy pa se dood as ’n groot skok beskryf en gesê “selfs vandag voel ons hierdie gewig op ons soos ’n wolk van hartseer oor ons familie toegesak het”.

Hy het die huldeblyke uit verskeie lande beskryf as ’n bewys van hoe hul pa verder as die land se grense erken en geëer is.

“Sulke gebare van solidariteit stap ’n lang pad in die bevestiging van ons eenheid as Afrikane in die gees van pan-Afrikanisme en gee ons berusting.”

Nujoma het ook verwys na sy pa se stem wat eggo in die sale van die Verenigde Nasies (VN) se algemene vergadering en veiligheidsraad en die hoofkantoor van die Afrika-Unie.

“Sy onuitwisbare voetspore volg die pad van geregtigheid en vryheid en sy ontembare gees moedig diegene aan wat veg vir selfverwesenliking en vir vrede en versoening.”

Hy het ook verwys na sy pa wat ’n beskermende en betroubare hoof van die familie was wat sy lewe aan die hele Nujoma-, Kondombolo- en Mushimba-familie gewy het.

“Hy was ’n bron van krag en ’n fontein van wysheid in die familie en hoewel ons hom nie altyd by ons kon hê nie, het ons tog baie goed verstaan dat hy die stryd vir Namibië se vryheid en onafhanklikwording versinnebeeld het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer