Die voormalige besturende redakteur van New Era, Johnathan Beukes. Foto argief
Die voormalige besturende redakteur van New Era, Johnathan Beukes. Foto argief

Beukes se bewerings ontken

Persvryheid onder die loep voor verkiesing
Die regering voer aan dat hy nie poog om staatsbeheerde media te muilband nie.
Elizabeth Kheibes
Kwessies rondom persvryheid het onlangs onder die loep gekom nadat die voormalige besturende redakteur van die staatsbeheerde dagblad New Era, Johnathan Beukes, sekere bewerings teen die regering gemaak het.

Sowel die presidensie as die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, het ontken dat regeringsrolspelers persvryheid begin kniehalter het deur staatsbeheerde mediahuise te muilband.

Beukes het dié bewering gemaak en hy meen dit het kort ná die dood van oudpresident Hage Geingob in Februarie vanjaar begin.

Beukes het onlangs New Era verlaat en dit kom slegs maande nadat hy van ’n lang skorsing teruggekeer het ná ’n reeks artikels waarin hy die deursigtigheid in die aanstelling van regters in die hoërhof bevraagteken het.

Alhoewel redes vir sy uittrede nie bekend gemaak is nie, is daar gerugte dat Beukes – wat op aanklagte tereggestaan het in verband met sy skorsing – ’n ooreenkoms aangebied is om te bedank of om afgedank te word indien hy ná ’n dissiplinêre verhoor skuldig bevind word.

In Oktober verlede jaar, ’n maand ná Beukes se skorsing, het Network media Hub (NMH) berig dat die uitvoerende hoof van New Era, Christof Maletsky, Beukes van insubordinasie beskuldig het omdat hy glo geweier het om opdragte uit te voer.

In ’n memorandum aan die direksie het Maletsky Beukes daarvan beskuldig dat hy verskeie instruksies geïgnoreer het vir ’n verandering in hoe die koerant oor kwessies berig – met verwysing na verskeie nuusberigte wat volgens hom menings van die joernaliste bevat het in plaas daarvan om bloot by die feite te hou.

“Ons voorblad is nou slegs vir negatiewe nuus gereserveer. Sulke negatiewe nuus gaan hoofsaaklik oor die regering en openbare ondernemings, sowel as plaaslike en streekrade,” het Maletsky gesê.

Hy het gesê sy instruksies vir die koerant om positiewe stories oor menslike belange op die voorblad te dra, is deurgaans geïgnoreer, wat daartoe gelei het dat Beukes geskors en aangekla is.



BEWERINGS

Beukes het Maandag ’n verklaring uitgereik waarin hy bewerings maak soos dat die ministerie van inligting die stemme van joernaliste by New Era “muilband”.

“Die media moet te alle tye sonder vrees, guns of vooroordeel funksioneer, ongeag wie hulle finansier,” het hy beklemtoon.

“Dit is net maande sedert [president Hage Geingob] se heengaan en hierdie regering se verbintenis tot persvryheid is duidelik aan die kwyn in die lig van die groot moeite wat die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie gedoen het om New Era se stem te muilband deur ’n voorgestelde samesmelting met [Namibia Press Agency],” het hy bygevoeg.



PRESIDENSIE

Die presidensie het Beukes Dinsdag daarvan beskuldig dat hy valslik insinueer dat president Nangolo Mbumba nie ’n bewaker van persvryheid in die land was sedert hy by Geingob oorgeneem het nie.

“Die presidensie wil individue aanmoedig om nie te val vir veralgemenings nie en die Namibiese publiek moet nie die slagoffer word van ongegronde bewerings wat gemaak word deur individue met ’n agenda wat net aan hulself bekend is nie,” lui ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is.

Die verklaring het verder daarop gewys dat Beukes se uitlatings misplaas is en dat Mbumba glo voortgaan om die waardes van persvryheid te handhaaf.

Volgens Theofelus is die ministerie nie van voorneme om die media te muilband nie.



‘GEDWONGE VERWYDERING’

Die Vakbond vir Namibiese Professionele Media (Nampu) het Beukes se “gedwonge verwydering” uit sy pos ten sterkste veroordeel.

“Namibië is lank reeds ’n simbool van mediavryheid, beide in Afrika en wêreldwyd. Om te sien hoe hierdie nalatenskap so blatant ontwrig is, is kommerwekkend.

“Die verwydering van Johnathan Beukes uit sy pos by New Era is nie net ’n direkte aanval op die integriteit van een van ons land se sleutel- openbare media-instellings nie, maar ook ’n duidelike teken dat politieke magte die narratief toenemend beheer in ’n tyd wanneer onpartydige beriggewing die nodigste is,” het Jemima Beukes, Nampu se waarnemende sekretaris-generaal, gesê.

Intussen is die Namibia Press Agency (Nampa) se hoof van kommersiële dienste, Confidence Musariri, gesekondeer om as besturende redakteur by New Era oor te neem. Dit is volgens e-poskommunikasie wat Nampa se uitvoerende hoof, Linus Chata, Dinsdag aan personeel gestuur het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 35° Oshakati: 22° | 33° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 24° | 36° Henties Bay: 19° | 23° Swakopmund: 18° | 19° Walvis Bay: 19° | 23° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 22° | 39° Aranos: 25° | 38° Lüderitz: 19° | 32° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 21° Mbabane: 15° | 26° Maseru: 18° | 35° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 18° | 24° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 20° | 26° Durban: 20° | 28° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 24° #REF! #REF!