Buitelandse kunstenaars in NamRA se visier

Vermaakbedryf voel 'geteiken'
Sou die plaaslike individu nie die geld aan NamRA oorbetaal nie, raak hy of sy persoonlik verantwoordelik vir die belasting wat nie weerhou is van die bedrag wat aan die kunstenaar betaal is nie.
Michael Kayunde,Henriette Lamprecht
Michael Kayunde en Henriette Lamprecht - Die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) gaan Namibiërs begin vasvat wat buitelanders vir optredes in die land inbring en nie die nodige belasting van die kunstenaars se vergoeding weerhou en aan die agentskap oorbetaal nie.

Die wet op inkomstebelasting definieer ’n buitelandse kunstenaar as iemand in ’n kabaret, rolprente, radio, televisie of teater of enige musikant, akteur of sportlui. Dit sluit ook motiveringsprekers, godsdienstige predikers of profete asook geestelike genesers in.

In terme van afdeling 35A van die wet moet enige inwoner wat enige bedrag – hetsy direk of indirek aan ’n buitelander vir sy of haar optrede in Namibië betaal – ’n bedrag vir belasting terughou en dit namens die kunstenaar aan NamRA oorbetaal. Die belastingbedrag word op 25% bereken. Die onus vir die oorbetaling berus op die individu wat die betaling plaaslik doen of daarvoor verantwoordelik is. NamRA verwys na onder meer kaartjieverkopers of fasiliteerders en maan sou hul ooreenkoms die betaling van die buitelandse kunstenaar insluit, die wet van hulle vereis om belasting te weerhou en dit aan NamRA oor te betaal.

Sou die plaaslike verantwoordelike persoon nie aan die bogenoemde vereiste voldoen nie, sê NamRA raak hy of sy persoonlik verantwoordelik vir die belasting wat nie teruggehou is van die bedrag wat aan die kunstenaar betaal is nie. ’n Boete van 10% per maand of ’n gedeelte daarvan asook rente teen ’n koers van 20% per jaar word op laat betalings gehef.

Die bedrag wat teruggehou is, moet saam met ’n opgawe – wat die besonderhede uitstip – binne 20 dae aan NamRA oorbetaal word. Dié bedrag word beskou as finale belasting namens die buitelandse kunstenaar se belastingverpligtinge in Namibië.

KOMMENTAAR

Intussen het Gordon Jay van Mindscape Events Namibia, die geleentheidsmaatskappy wat verlede jaar Burna Boy vir sy Love Damini-toer na Windhoek gebring het, gesê as organiseerder wat gereeld met buitelandse kunstenaars werk, is hy bewus van die oorweging vir die betaling van inkomstebelasting op kunstenaars.

Volgens Jay is die vermaaklikheidsbedryf, ten spyte van die glans, ’n risiko vir veral vir organiseerders wat dikwels beperkte geleenthede vir borgskappe het.

“Kunstenaars vra dikwels tariewe wat belasting uitsluit en bykomend tot ander uitgawes soos reiskostes en verblyf is. Gevolglik plaas die vereiste om inkomstebelasting bo en behalwe hierdie kostes te betaal, ’n bykomende finansiële las op organiseerders se skouers wat reeds die verantwoordelikheid vir die geleentheid se totale koste en sukses dra. Om nie eens te praat dat sommige van hierdie geleenthede kan misluk en nie gelykbreek nie,” het hy verduidelik.

Hy het beklemtoon dit is noodsaaklik om aan die belastingvereistes te voldoen en tot die regering se inkomste en die ontwikkeling van die land by te dra.

Volgens hom kan geleentheidsbeplanners die risiko’s met volledige beplanning en begrotings bestuur, wat onder meer borg- en vennootskappe insluit.

“Dit is uiteindelik van kardinale belang om ’n balans te vind tussen die finansiële laste wat organiseerders in die gesig staar en die groei en volhoubaarheid van die bedryf,” het hy gesê.

Jaimeelou Motoomull, ’n geleentheidsbestuurder van The Loft, sê inkomstebelasting is reeds deel van die uitgawes in die bestuur van ’n klub. Volgens Motoomull sal die nuwe belastingvereiste die plaaslike musiekbedryf negatief beïnvloed en organiseerders afskrik om internasionale kunstenaars na Namibië te bring.

“As vermaakbedryf voel ons dat NamRA ons teiken. Daar is baie voordele om internasionale kunstenaars na die land te bring. Buiten vir die vermaak, inspireer dit ook ons plaaslike kunstenaars om deel te wees van wêreldklas optredes.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!