Litium mynbouers Xinfeng sê erts vanaf die Daure Daman tradisionele owerheid se gebied is nog nie verskeep nie.
Foto https://xinfeng-investment-namibia.business.site
Litium mynbouers Xinfeng sê erts vanaf die Daure Daman tradisionele owerheid se gebied is nog nie verskeep nie. Foto https://xinfeng-investment-namibia.business.site

Daure Daman se litium lê nog

Xinfeng sê erts word tans nie verskeep nie
'n Chinese mynbouer se litiumbedrywighede sluit 'n myn en tien aparte kleims in Erongo in.
Augetto Graig
Die Chinese litiummynbouer Xinfeng Investments sê nog geen van die litiumerts – wat daagliks in die Okambahe-reservaat in die Erongostreek naby Omaruru ontgin en opgegaar word – is al uitgevoer nie.

Dié reservaat behoort aan die Daure Daman Tradisionele Owerheid.

“Ons wil graag beklemtoon dat daar tans geen minerale uit die land verskeep word nie. Die minerale van die kleims [in die reservaat] is na ’n punt vervoer vir ‘toetse, inspeksie en om geweeg te word’ om die hoeveelheid en waarde daarvan te bepaal voor dit uitvoer word,” skryf die myn se bestuur op die koerant se navraag.

Volgens Nambili Mhata Legal Practitioners wat Xinfeng verteenwoordig, is daar glo ’n verskil tussen die mynbedrywighede op Daure Daman se kleims en die van die ander Xinfeng-litiummyn wat ook in dieselfde streek geleë is.

Die regsfirma sê die uitvoer van litiumerts is tans opgeskort terwyl die ministerie van myne en energie die betrokke kwessies opklaar.

Verlede jaar het Xinfeng se vragmotors gedurig na Walvisbaai gery waarvandaan altesaam 110 000 metrieke ton litiumerts toegelaat is om na China uitgevoer te word. Uitvoere sou tot 29 November toegelaat word.

Sedert die begin van vanjaar wag Republikein vir die ministerie om te reageer oor onafhanklike toetsuitslae om Xinfeng se aandrang dat die erts slegs 1% litium bevat, te ondersteun.

Die ministerie is ook gevra of ander minerale in die erts is, en of daarvoor betaal is. Die mynbouministerie het ook nie tot dusver ’n woord oor die totale uitvoere gerep nie.

Xinfeng Investments is ’n Namibiese maatskappy en ’n filiaal van Tangshan Xinfeng Lithium Industry in China.

“Ons missie is om ’n volhoubare mynbou- en energiesektor in Namibië te ontwikkel, terwyl dit ’n positiewe impak het op die gemeenskappe waarin ons bedrywig is,” skryf die mynbouer.

Verder stel Xinfeng dit op rekord dat alle nodige dokumentasie vir sy mynbedrywighede in orde is, met afdrukke van sy kleimsertifikate, omgewingsklaringsertifikaat en toestemmingsbrief vanaf die Daure Daman owerheid wat as bewyse aangeheg is.

Tien betrokke kleims is bekom deur ’n gesamentlike onderneming, Long Fire Investments, met die owerheid te stig, brei Xinfeng uit.

Die ministerie van myne en energie het amptelik op 23 September 2022 vir hoofman Zacharius Seibeb ingelig dat die kleims op sy grond afgepen is.

Xinfeng sê hulle het reeds op 5 April 2022 sy ooreenkoms met Seibeb en die owerheid onderteken. Die omgewingsklaringsertifikaat is op 16 September 2022 toegeken, en is geldig tot dieselfde datum in 2025 terwyl die kleims tot 21 September 2025 geldig is.

Deur Long Fire Investments wil Xinfeng nog ’n litiumverwerkingsaanleg bou, wat volgens die Chinese mynbouer deur Namibiërs bestuur sal word, met behulp van Xinfeng-kenners. Die onderneming sal waardigheid en kennis oorgedra, wat werksgeleenthede skep en bydra tot volhoubare ontwikkeling in Namibië, sê Xinfeng.

Die Daure Daman baat ook uit ’n huurooreenkoms in terme van die oppervlak-grondregte wat van krag is, sê Xinfeng.

Aanvanklik bou Xinfeng tussen vyf en tien kamers en omhein die gebied, en voorsien meubels en toerusting vir inligtingskommunikasie vir die kleims.

Long Fire se welstandskomitee is ook gereed om te luister na ander uitdagings wat die gemeenskap ervaar; en om ondersteuning en oplossings te bied, waar moontlik, sê Xinfeng.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!