Die vader van die Namibiese nasie
Einde van 'n era
Wyle Sam Nujoma was Afrika se laaste oorlewende stigterspresident.
Op 8 Februarie op ‘n bewolkte Saterdag en om presies 23:45 het Namibië se stigterspresident Sam Nujoma sy laaste asem uitgeblaas en ‘n nasie agtergelaat waaraan hy onbaatsugtig sy lewe gewy het. Hy was 95 jaar oud.
Sedert sy opname in ‘n private hospitaal in Windhoek meer as ‘n week gelede, het Namibiërs angstig gewag op enige nuus oor sy toestand wat sy familie openlik vir etlike dae as “kritiek” beskryf het.
Nujoma was Afrika se laaste oorlewende stigterspresident. Terwyl sy afsterwe een van die hartseerste oomblikke in ‘n Namibië ná onafhanklikwording is, sien baie dit ook as ‘n geleentheid om ‘n lewe te vier wat toegewyd was tot die vryheid en selfverwesenliking van die Namibiese nasie.
Die reis tot bevryding
Op die ouderdom van 30 het Nujoma, ‘n getroude man met kinders, Namibië in Desember 1959 verlaat. Hy het met die hulp van die Ovaherero opperhoof Hosea Kutako via Botswana ontsnap en sy weg na die destydse Tanganyika (vandag Tanzanië) gevind. Nujoma sou die volgende 30 jaar in die buiteland deurbring waar hy aan die voorpunt van die stryd was om Namibië te bevry - ‘n land waar mense gelyke regte en geleenthede sou hê.
In 1960, maande nadat hy in ballingskap gegaan het, is Nujoma in sy afwesigheid as Swapo se eerste president verkies. Vanuit die buiteland het hy ‘n sentrale rol gespeel in die organisering van die diplomatieke, politieke en militêre weerstand teen die Suid-Afrikaanse apartheidsregering. Hy het in September 1989 na Namibië teruggekeer tydens die spanningsvolle oorgangstydperk wat gelei het tot die land se eerste demokratiese verkiesings onder die toesighouding van die Verenigde Nasies (VN).
Met Swapo wat die verkiesings in 1989 met 57% van die stemme en 41 uit 87 parlementêre setels verower het, het Nujoma Namibië se eerste president geword, ‘n posisie wat hy vir 15 jaar tot 2005 beklee het. Hy was tot 2007 ook Swapo se president, waarna hy tydens die party se kongres van die amp afstand gedoen het.
‘n Nalatenskap van leierskap
Buiten vir die feit dat hy Namibië se gewapende bevrydingstryd gelei het, sal Nujoma se leierskap ná die land se onafhanklikwording vir verskeie sleutel beleidsrigtings onthou word. Sy verklaring van nasionale versoening nadat die land onafhanklik geword het, het wraak- en vergeldingsaanvalle help voorkom tussen dié wat in die verwoestende oorlog van 23 jaar tussen 1966 tot 1989 geveg het.
Anders as sy Zimbabwiese ampsgenoot Robert Mugabe wat met omstrede grondbeslagleggings begin het, het Nujoma ‘n benadering van gewillige verkoper, gewillige koper tot grondhervorming aangeneem - ‘n kwessie wat vandag ná drie presidente en ‘n vierde wat volgende maand ingehuldig word, steeds onopgelos bly.
Ten spyte daarvan dat hy bekend was vir sy sterk persoonlikheid en dikwels radikale standpunte wat sy kritici daartoe gelei het om hom van outokratiese neigings te beskuldig, het Nujoma regeer oor die opkoms van een van Afrika se mees stabiele demokrasieë, ‘n beduidende sukses vir ‘n nasie wat uit ‘n oorlog ontstaan het.
Sy inklusiewe leierskap was duidelik in sy eerste kabinet wat ‘n gebalanseerde etniese en rasregroepe weerspieël het. Wanneer iemand sou aandring dat net swart Namibiërs in hoë poste aangestel word, het Nujoma op inklusiwiteit aangedring. Hy het Otto Herrigel as sy eerste minister van finansies aangestel, Hartmut Ruppel as prokureur-generaal, Gert Hanekom as minister van finansies ná Herrigel se bedanking in 1992, asook Anton von Wietersheim as minister van landbou. Sommige van sy ministers was jonger as 40 jaar oud en het ingesluit Marco Hausiku (36), Pendukeni Iivula-Ithana (37) en Von Wietersheim (38). Op 65 was Andimba Toivo ya Toivo as minister van myne en energie die oudste minister.
Kritiek en omstredenheid
Die Namibia Media Trust (NMT), wat die koerant The Namibian besit, het gesê Nujoma se nalatenskap word geken deur “kompleksiteite”.
Sy besluit om die regering in die 1990’s te verbied om in The Namibian te adverteer, is wyd gekritiseer as ‘n aanval op persvryheid.
“Hierdie optrede dien as ‘n herinnering aan die broosheid van die vryhede wat ons nou koester en die voortgesette stryd om daardie regte te bewaar,” het die trust in ‘n verklaring gesê.
Die Redakteursforum van Namibië (EFN) het op hul beurt ook hulde aan Nujoma gebring en gesê hy moet onthou word vir die feit dat hy die beleid van nasionale versoening verklaar het wat harmonie tussen Namibiërs verseker het.
“Hy het nie net daarin geglo om ‘n verenigde nasie te bou en terselftertyd sy diversiteit respekteer nie, maar hy het ook verseker dat Namibië demokrasie en die gereg eer,” het die EFN gesê.
Huldeblyke
President Nangolo Mbumba het huldeblyke aan die ontslape stigterspresident gelei en gesê “ons vader van die nasie het op heldhaftige wyse die Namibiese mense deur die donkerste ure van ons bevrydingstryd gelei totdat vryheid en onafhanklikheid op 21 Maart 1990 bereik is.”
Die Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa het Nujoma op sy beurt as ‘n buitengewone vryheidsvegter beskryf wat sy revolusionêre program verdeel het tussen Namibië se stryd teen Suid-Afrikaanse kolonialisme en die stryd om Suid-Afrika van apartheid te bevry.
Tanzanië se president Samia Suluhu het gesê Nujoma se dood maak haar hartseer.
"’n Vryheidsvegter, ‘n Pan-Afrikaan en ‘n goeie vriend van Tanzanië waar hy eens gewoon het tydens die stryd om Namibië se onafhanklikheid. Dr. Nujoma het ‘n lewe van diens geleef wat nie net sy land se lot bepaal het nie, maar ook generasies inspireer het om op te staan vir hul ideale van vryheid, gelykheid en geregtigheid,” het sy gesê.
Nujoma se dood is die einde van ‘n era, maar sy nalatenskap van waagmoed, leierskap en nasiebou sal diep gewortel in Namibië se geskiedenis voortleef. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie