In 1991 het koningin Elizabeth II 'n staatsbesoek aan Namibië gebring wat deur wyle stigterspresident Sam Nujoma bewerkstellig is. Foto thecrownchronicles.co.uk
In 1991 het koningin Elizabeth II 'n staatsbesoek aan Namibië gebring wat deur wyle stigterspresident Sam Nujoma bewerkstellig is. Foto thecrownchronicles.co.uk

Die wêreld kom groet

Regering se voorbereidings vorder
Verskeie staatshoofde en buitelandse verteenwoordigers word by die naweek se staatsbegrafnis van wyle stigterspresident Sam Nujoma verwag.
Augetto Graig
Die Namibiese regering is druk besig om reëlings te tref ter voorbereiding van die verwagte aankoms van staatshoofde en belangrike buitelandse leiers vir die staatsbegrafnis van wyle stigterspresident Sam Nujoma op Saterdag 1 Maart. Besonderhede is reeds internasionaal versprei om die besoeke te vergemaklik.

Wêreldleiers wie boodskappe by die roudiens Vrydag by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek sal lewer, moes reeds verlede Vrydag die kantoor van die uitvoerende direkteur van die ministerie van buitelandse betrekkinge en samewerking (Mirco) asook ambassadeur Sabine Bohlke-Moller, hoof van bilaterale betrekkinge en samewerking, dienooreenkomstig ingelig het.

Staatshoofde sal óf by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe (HKIA,) of by die Eros-lughawe in Windhoek land. Die regering sal die staatshoofde vanaf 27 Februarie tot 2 Maart by die Windhoek Buitekluboord, die Hilton-, Mövenpick- of by die Avani-hotel in die hoofstad huisves. Die lys afgevaardiges moes teen Vrydag 21 Februarie by Mirco ingedien word. Aansoeke vir akkreditasie vir buitelandse media by die ministerie het ook Vrydag gesluit.

Twintig

Volgens die voormalige diplomaat, ambassadeur Pius Dunaiski, is die verwagting dat leiers van lande met sterk historiese bande met Namibië en veral dié wat die bevrydingstryd ondersteun het, teenwoordig sal wees. Volgens Dunaiski was 20 staatshoofde teenwoordig op 21 Maart 1990, toe Nujoma as Namibië se eerste president ingesweer is. Afgevaardiges van 147 lande was op die historiese dag teenwoordig. Nujoma het tydens sy drie termyne as staatshoof verskeie staatsbesoeke afgelê om diplomatieke bande met lande soos die VSA, Rusland, China, die Verenigde Koninkryk, Japan, Indië en meer te versterk, het Dunaiski gesê.

“In 1991 het koningin Elizabeth II 'n staatsbesoek aan Namibië gebring wat deur president Nujoma bewerkstellig is. Boonop het president Nujoma met die Amerikaanse president Bill Clinton tydens 'n private besoek in Junie 1993 vergader,” het hy gesê.

Hy verwag dat staatshoofde van alle naburige Afrika-lande en verteenwoordigers van internasionale liggame soos die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), Afrika-Unie (AU), Verenigde Nasies (VN), Europese Unie (EU) en van lande soos die Verenigde Koninkryk, gegewe die historiese besoek deur koningin Elizabeth II, teenwoordig sal wees.

“Namibië het diplomatieke betrekkinge met sowat 100 lande oraloor die wêreld. Ek verwag dat baie 'n afvaardiging sal stuur,” het Dunaiski gesê.

Ou bekendes

Die dosent in sosiale wetenskap, prof. Johan Coetzee, is dit eens dat verteenwoordiging van die hoogste vlak vanaf Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Angola en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) verwag kan word. Hy is ook van mening dat China, Venezuela, Kuba en Noord-Korea by die verrigtinge verwag kan word, omdat hulle bande deur Nujoma met Namibië gevorm het. Ander Afrikalande insluited Tanzanië, Kenia en Nigerië word ook in die land verwag.

Coetzee voel dat Namibië ‘n baie klein rol met betrekking tot die internasionale magstryd speel, maar Dunaiski wys daarop dat Namibië verlede jaar saam met Duitsland die VN se Beraad van die Toekoms gelei het.

“Namibië, hoewel klein, word internasionaal hoog geag tot die punt dat Namibië verlede jaar tydens die 79ste Algemene Vergadering van die VN verkies is as voorsitter van die Beraad van die Toekoms. Dit sê baie,” beklemtoon Dunaiski.

Hoewel Mirco verlede week nie antwoorde wou verskaf oor bevestigings wat reeds deur die ministerie ontvang is nie, was daar wel antwoord op van die navrae per epos wat Netwerk Media Hub (NMH) aan buitelandse ambassades gerig het.

Tsjeggië sal deur Tomas Ulicny, die ambassadeur in Namibië, verteenwoordig word.

“Ons beoog hoërvlak-verteenwoordiging by die inhuldiging van die nuwe president,” het dié land gesê en sy spyt uitgespreek dat daar nie by Nujoma se begrafnis meer verteenwoordiging kan wees nie, aangesien hy in 1999 'n staatsbesoek aan die land gebring het.

Brasilië se ambassade sê hulle verwag 'n hoëvlak-afvaardiging, maar kon nog nie bevestig wie die land se verteenwoordig nie.

Chargé d'affaires Brandon Hudspeth sal die Amerikaanse regering by die staatsbegrafnis verteenwoordig. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer