Ericah Shafudah, die nuut aangestelde minister van finansies en maatskaplike toelaebestuur. Foto Wilson Shikoto
Ericah Shafudah, die nuut aangestelde minister van finansies en maatskaplike toelaebestuur. Foto Wilson Shikoto

Dis begrotingsdag

Augetto Graig
Sy is minder as ’n week in die amp en sal waarskynlik moet voortbou op die werk wat haar voorganger, die voormalige minister van finansies en staatsondernemings, Iipumbu Shiimi, met die voorbereiding van die begroting gedoen het.

Ericah Shafudah, die nuut aangestelde minister van finansies en maatskaplike toelaebestuur, sal vandag die regering se begroting vir die 2025-’26-boekjaar in die parlement ter tafel lê.

Sy moet nietemin gehoor gee aan president Netumbo Nandi-Ndaitwah se aandrang dat haar administrasie die beloftes wat in Swapo se verkiesingsmanifes vervat is, implementeer.

Terwyl Shiimi daarin geslaag het om die nasionale skuld relatief tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) verlede jaar tot sowat 66% of N$153,8 miljard te verminder, vergeleke met 67,2% die vorige jaar, sal Shafudah geld nodig hê om die president se wense te bewaarheid.

Nandi-Ndaitwah word in die verkiesingsmanifes aangehaal dat die doel van die plan “gedeelde, gebalanseerde welvaart” vir die Namibiese mense is.

Die manifes brei uit oor planne vir ekonomiese groei, landbou en water, energie en infrastruktuur, sport, jeugbemagtiging, gehalte-onderwys, gesondheid en welvaart, grond, behuising en sanitasie, die staatsdiens en internasionale samewerking.

Die plan vra spesifiek vir ’n volhoubare begroting en beheer oor nasionale skuld, beter belastinginvordering en meer ondersteuning vir die informele, private en openbare sektore van die ekonomie.

Groen nywerheidsontwikkeling en die kreatiewe bedrywe word spesifiek in die verkiesingsmanifes geprioritiseer.

Die manifes doen ’n beroep op groter deelname van landelike gemeenskappe in terme van toerisme en die ontwikkeling van ’n geografiese meesterplan vir die bedryf.

Daar moet ook vir massa-werkskeppingsprojekte vir die jeug begroot word, luidens die manifes.

Swapo het belowe die regering sal ’n belegging van N$85,1 miljard oor die volgende vyf jaar maak, om meer as 250 000 werksgeleenthede te skep.

’n Groot bedrag sal vanjaar vir die volgende projekte beskikbaar gestel moet word. Hierdie projekte sluit in die ontwikkeling van sportinfrastruktuur, die uitbreiding van vakleerlingskappe en die stigting van ’n nasionale jeugfonds, om massa grond te diens en laekostebehuising.

Duisende werksgeleenthede in die onderwys, kunste en die kreatiewe bedrywe word in die manifes belowe.

Landbou benodig belegging om voedselinvoer te kan vervang, terwyl universele gesondheidsdekking, die opgradering van hospitale ook miljarde dollars sal kos.

Die verwerking van kritieke minerale is nog ’n fokuspunt, terwyl die staatsonderneming Epangelo Mining geld benodig om kleinskaalse mynbouers te ondersteun.

Swapo soek ’n aansienlike en regverdige aandeel vir Namibiërs in die opkomende olie- en gasbedrywe. Volgens die manifes moet ’n kwota vir maatskaplike ontwikkeling op hulpbronne toegepas word.

Of Shafudah vandag reeds daarvoor sal kan begroot, sal binnekort algemene kennis word.

Wat energie betref, beoog Swapo die vestiging van 900 MW se opwekkingskapasiteit teen die 2027-’28-boekjaar.

Die Baynes-hidrokragstasieprojek word uitgesonder en die bevordering van Namibië en Angola se vennootskap in daardie verband sal ook geld kos.

Ander dringende groot beleggings sluit in die uitbreiding van die Walvisbaai- en Lüderitz-hawens en die verlenging van die spoorlyn vanaf Grootfontein na Rundu en Katima Mulilo, saam met die spoorverbinding van Gobabis na Mamuno in Botswana.

Talle sal ook belangstel in die toekenning van geld vir die opgradering van die Onafhanklikheidstadion.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer