Jerry Ekandjo Foto argief
Jerry Ekandjo Foto argief

Ekandjo ‘tevrede’ ná nuwe huwelikswet onderteken is

Selfdegeslaghuwelike word verbied
'n Menseregte-aktivis het sy kommer oor die wet uitgespreek.
Jemima Beukes
Die Swapo-veteraan Jerry Ekandjo, wat aan die voorpunt was van versoeke dat selfdegeslaghuwelike nooit in Namibië gewettig moet word nie, het groot vreugde uitgespreek ná president Nangolo Mbumba se ondertekening van die Huwelikswet van 2024, wat dié huwelike verbied.

Die wet, wat gay huwelike verbied, insluitend dié wat buite Namibië voltrek is, is in Oktober onderteken en in Desember in die Staatskoerant gepubliseer.

Ekandjo het die voortou geneem in besprekings oor ’n wet wat effektief ’n hooggeregshofuitspraak van Mei 2023 sou herroep dat selfdegeslaghuwelike wat buite Namibië voltrek word vir verblyf en verwante doeleindes erken moet word.

In Julie 2023 het die Nasionale Vergadering (NV) vinnig ander wetsontwerpe oor hierdie onderwerp ter tafel gelê en dit het die wysigingswetsontwerp op huwelike en die definisie van gadewetsontwerp ingesluit, wat met minimale wysigings aanvaar is.

Die wetsontwerpe het oorweldigende steun van beide die regerende party en die opposisie gekry.

Ekandjo kon Sondag nie sy opgewondenheid beteuel toe hy die nuus hoor nie.

“As hy dit onderteken het, is dit goeie nuus. Ek sal die gelukkigste man wees,” het hy aan Network Media Hub (NMH) gesê.

Die Huwelikswet van 2024 definieer “’n gebruiklike huwelik” as ’n verbintenis (union) wat onder Namibiese gewoontereg of dié van ’n ander land erken word.

Dit sluit egter uitdruklik enige erkenning van selfdegeslaghuwelike uit, ongeag die plek van voltrekking daarvan, asook huwelike wat buite Namibië bekragtig word wat nie met Namibiese wetgewing strook nie.



HIPOTETIESE SCENARIO

Ekandjo, wat sterk teen selfdegeslaghuwelike gekant is, het ’n hipotetiese scenario gestel.

“Sê nou jy het ’n seun en hy kom en sê: ‘Jerry is my kêrel’, sal jy nie ’n probleem daarmee hê nie?

“Stel jou voor om hulle in die [seksuele] daad te betrap. Volgens God is dit Sodom en Gomorra.”

Hy het verder aangevoer dat die natuur bedoel het dat slegs mans en vroue moet vermeerder, en het daarop aangedring dat “God nie ’n gay mens geskep het nie”.

Ekandjo het uitgebrei oor sy oortuigings deur te verwys na gevalle van intergeslagtelike kinders, waar mediese ondersoeke dominante hormone bepaal.

“Nou vind jy ’n volgroeide 100%-man wat seks het met ’n ander 100%-man,” het hy gesê.

Hy het ook Westerse invloede op Afrika-tradisies gekritiseer en beweer dat die bevordering van selfdegeslaghuwelike ’n strategie is om Afrika se bevolking te verminder.

Hy het opgemerk: “Die Weste het gekom en Afrikane gevind wat poligamie beoefen; hulle het vir ons gesê dit is duiwels, en ons het die beginsel aangeneem om met een vrou te trou. Nou sê hulle trou met ’n ander man.”



AKTIVIS

Die menseregte-aktivis John Nakuta het egter kommer oor die wet uitgespreek.

Terwyl hy erken dat sommige aspekte, soos die vereenvoudiging van egskeidingsprosedures, positief is, het hy kwessies uitgelig rakende die hantering van huwelike wat in die buiteland voltrek word.

Nakuta het gesê die wet se uitsluiting van buitelandse huwelike kan regsuitdagings in die gesig staar aangesien dit diskriminerend is.

Hy het hierdie aspek van die wet gekoppel aan die Digashu-saak se uitspraak van Mei 2023, wat vereis het dat Namibië selfdegeslaghuwelike wat wettig buite die land gesluit is vir immigrasiedoeleindes moet erken.

Nakuta het aangevoer dat die wet moontlik daarop gemik is om hierdie uitspraak nietig te laat verklaar.

Hy het gewaarsku: “Die hof het dit duidelik gemaak dat hy nie sal afstand doen van sy verpligting om die Namibiese Grondwet af te dwing afgesien van openbare mening en selfs politici.”

Nakuta het beklemtoon dat sulke bepalings waarskynlik in die hof uitgedaag sal word, en het verder beweer dat parlementariërs probleme kan ondervind om hierdie deel van die wet te regverdig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer