'n Satellietbeeld van Walvisbaai. Foto Google Images
'n Satellietbeeld van Walvisbaai. Foto Google Images

Gebrek aan ruimte kan Walvisbaai se ontwikkeling pootjie

Slegs 10% beskikbare ruimte oor
Kommer heers dat die bestaande munisipale grense van Walvisbaai, die hawedorp se ontwikkeling gaan beperk.
Adam Hartman
Walvisbaai se bestaande munisipale gebied raak kleiner, en sou die dorp se grense nie binne die volgende vyf jaar aangepas word nie, sal dit verdere ontwikkeling belemmer.

Die afgelope dekade en 'n half het dié hawedorp se raad en betrokke ministeries verskeie pogings aangewend om aandag aan dié kwessie te gee, maar die tyd raak min.

“Die gebied binne die bestaande munisipale grense is ongeveer 90% bebou. Dit beteken indien Walvisbaai se munisipale grense nie aangepas word nie, sal daar oor minder as vyf jaar geen grond vir toekomstige stedelike ontwikkeling wees nie,” het Richard Hoaeb die voorsitter van die bestuurskomitee gedurende die laaste raadsvergadering gesê.

Ná ’n raadplegende vergadering in November 2021, is ’n dringende aansoek by die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling ingedien om die verdere uitbreiding van die Walvisbaai-munisipaliteit se “oorspronklike munisipale gebied” goed te keur.

Hoaeb het verduidelik die oorspronklike munisipale grense is gebaseer op ’n definisie van Walvisbaai ingevolge die Buitelandse Wet van 1994, en die oorspronklike verklaring van Walvisbaai as 'n munisipaliteit in Junie 1994 (drie maande nadat Suid-Afrika die dorp afgegee het) ná Namibië se onafhanklikwording.

“Die aanpassing van die grense na sy oorspronklike munisipale gebied is dus nodig om die deurlopende ontwikkeling van die dorp te verseker. Dit sal voorsiening maak vir groei na die ooste (wat tans meestal staatsgrond is) – dit wil sê in die rigting van die Walvisbaai-lughawe.”

Volgens Hoaeb is die grond wat vir stedelike groei benodig word, nie net vir residensiële ontwikkeling nie, maar ook vir ander grondgebruike, insluitend nywerheidsontwikkeling geoormerk.

Die swaar nywerheidsgebied is reeds toegebou, terwyl die ligte nywerheidsgebied tot 50% van sy kapasiteit ontwikkel is.

Die voorneme om die munisipale grense uit te brei om onder die jurisdiksie van Walvisbaai te val, word deur die ministerie vereis om aansoeke vir toekomstige aanpassings ten opsigte van grense te vermy.

Volgens die vergadering se notule is die munisipaliteit bewus daarvan dat die dorp in 'n omgewingsensitiewe “bewarings-gebied” geleë is en het die versekering gegee die gebied sal voldoende beskerm word.

Hoaeb sê die Walvisbaaise peri-stedelike grondgebruikbeleid reguleer die gebruik van grond buite beboude gebiede, gebiede wat geïdentifiseer word vir ontwikkeling en ook dié waarop nie ontwikkel mag word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!