Groen energie kry vonk

Wêreld gons oor Nam se ‘superpower’
Namibië se eerste groenwaterstofprojek behoort voor die einde van die dekade ten volle operasioneel te wees.
Jo-Maré Duddy
Namibië is oorgehaal om sy reputasie as ‘n supermoontheid in die wêreld van hernubare energie gestand te doen en beplan om sy eerste groenwaterstof teen die einde van 2026 te lewer.

Dit beteken konstruksie aan Hyphen Hydrogen Energy se projek in die Tsau //Khaeb Nasionale Park moet in Januarie 2025 begin. Die eerste fase van dié projek gaan 125 000 ton groenwaterstof per jaar lewer en behoort teen die einde van 2026 voltooi te wees.

James Mnyupe, Namibië se kommissaris vir groenwaterstof en ekonomiese raadgewer van pres. Hage Geingob, het gister onderweg na Duitsland dié nuus met Republikein gedeel.

Mnyupe, wat verlede week deel van die Geingob-afvaardiging by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se jaarvergadering in Davos in Switserland was, is tot Vrydag in Hamburg vir die 15de Duits-Afrika Energieforum. Hy was Dinsdagaand een van die sprekers by ‘n hoëvlak-saamtrek van die Verenigde Nasies (VN) in Stockholm, Swede.

Die Hyphen-projek – ‘n belegging van US$10 miljard of sowat N$155 miljard – is deel van ‘n inisiatief om ‘n waterstofprojek in die suidelike korridor van die Tsau //Khaeb Nasionale Park (SCDI) te ontwikkel. Hyphen is verlede Oktober tydens die COP26-klimaatberaad in Skotland as voorkeurbieër vir die projek aangewys.

Voor die einde van die dekade sal dié projek sy volle kapasiteit van 300 000 ton groenwaterstof per jaar bereik, wat vir streek- en internasionale markte bestem gaan wees. Sowat 15 000 mense, hoofsaaklik Namibiërs, sal tydens die konstruksiefase van vier jaar werk hê. Die voltooide projek sal werk aan sowat 3 000 mense verskaf.

Die regering teiken totale jaarlikse produksie van drie miljoen ton groenwaterstof in die SCDI.

SUPERMOONTHEID

CNBC, ‘n internasionale sakenuusleier, het verlede week by Davos ‘n paneelbespreking, “What is the clean energy 'superpower' of the future?”, uitgesaai. Geingob was deel hiervan.

Toe CNBC se joernalis Steve Sedgwick na Namibië as ‘n supermoontheid verwys, het Geingob gesê dié woord maak hom bang. Hy het na sy jarelange aandeel in Namibië se vryheidstryd by die VN verwys en gesê die hele wêreld het die land ondersteun.

Nou doen hy opnuut ‘n beroep op die wêreld om Namibië in sy stryd om ontwikkeling te ondersteun, het Geingob gesê.

Groenwaterstof is die toekoms en Namibië beskik oor dié hulpbron. “Dis hoekom Namibië ‘n supermoontheid wil wees, want ons moeg daarvoor om net ‘n klein, klein speler te wees,” het Geingob.

‘n Meer beskeie Geingob het kort daarna gesê: “Namibië is nie ‘n supermoontheid nie, maar ons wil na die volgende generasie van energie mars.”

GROOT NAME

Geingob het ‘n vergadering met die president van die Europese Kommisie, Ursula von der Leyen, in Davos gehad, het Mnyupe tydens ‘n sessie by Namibia House in die Switserse ski-oord gesê.

Namibië werk aan ‘n ooreenkoms met die Europese Unie (EU) rakende groenwaterstof en kritiese ru-minerale, aldus Mnyupe.

Die vise-kanselier van Duitsland, Robert Habeck, ook die minister van ekonomiese betrekkinge en klimaatsverandering van dié land, het ‘n vergadering met Geingob en Tom Alweendo, die minister van myne en energie, in Davos gehad.

Duitsland beskou Namibië as ‘n strategiese vennoot in groen energie, het Mnyupe gesê. Habeck het onderneem om Namibië in Desember te besoek. Hy sal deur afvaardigings van Duitsland se grootste maatskappye vergesel word.

Namibië het voorts samesprekings met België en Nederland gehad, het Mnyupe gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!