Grond laaste op parlement se lys
In sy doodsnikke neem Namibië se sewende parlement vandag die langverwagte en omvattende nuwe wetsontwerp op grond onder die loep.
Die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, het verlede week die wetsontwerp ter tafel gelê om die bestaande Wet op Kommunale Grondhervorming van 2002 en die Wet op Kommersiële Landbougrondhervorming van 1995 uiteindelik met ’n enkele wet op grond vir die hele land te vervang.
Die nuwe wet sal onder meer kommunale grondrade instel en hul magte en funksies uiteensit, kommunale grondfondse stig, kommunale grondgebiede bepaal en voorsiening maak vir die toekenning van kommunale grondregte.
Die konsepwet sit onder meer die reg van gades uiteen om kommunale grondregte van afgestorwe eienaars te erf.
Die wetsontwerp beoog om die raadgewende kommissies vir grondhervormings voort te sit en ’n grondverkrygings- en ontwikkelingsfonds te stig. Dié fonds is om kommersiële grond vir grondhervorming en hervestigingsdoeleindes te bekom, en die wetsontwerp vestig die staat se voorkeur (first right of refusal) vir die aankoop van grond, tesame met vereistes en voorwaardes vir die onteiening van landbougrond.
Die wetsontwerp bekragtig ook die verbod op eienaarskap van grond deur buitelanders en beperk die verhuring van grond in kommunale gebiede aan buitelanders. Die wet sal ook die waardasies van grond bepaal, ’n waardasie- en ’n grondtribunaal instel en voorsiening maak vir grondbelasting.
Schlettwein het verlede week die lang geskiedenis van die wetsontwerp genoem, en sy dank teenoor sy twee voorgangers uitgespreek wat sedert 2007 probeer het om die wysigings goedgekeur te kry.
Volgens die uittredende minister sal die wet ’n nuwe hoofstuk in die finansiering van kommunale en kommersiële grondontwikkeling vir Namibië open. Streng maatreëls teen buitelandse eienaarskap van grond in Namibië sal dan van toepassing wees, het hy gesê.
Die uitkomste van die tweede nasionale grondkonferensie word volgens die minister in die nuwe wetgewing weerspieël, terwyl die wetgewing ook grondkomitees daarstel om toestemming vir grondgebruik te verleen waar daar nie tradisionele owerhede is nie. Dié komitees sal ook toesig hou oor die toekenning van grond deur hoofmanne en ’n beduidende rol speel in die oplossing van grondgeskille.
Die wetsontwerp sit ook die prosedures en vereistes vir die verpligte verkryging en vervreemding van kommersiële landbougrond uiteen.
Schlettwein het ’n beroep op sy medeparlementslede gedoen om die debat oor die wetsontwerp vanuit die oogpunt van die bou van nasies en “Een Namibië, een nasie” te benader.
Besware is geopper oor die kort tydperk wat beskikbaar is vir die belangrike wetsontwerp se bespreking. Teen einde vandeesweek sal Namibië se agtste parlement ingesweer word.
PARTYE
Die president van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, het ook gemaan oor die lywige wetsontwerp-dokument, die belangrikheid daarvan vir die land en die emosies wat betrokke is, waarvoor die huidige parlement eenvoudig nie tyd voor het nie.
Swapo se parlementslid, Tjekero Tweya, het ook genoem dat die nuwe wet onder meer die magte van hoofmanne raak en dat dit glad nie ’n eenvoudige kwessie is nie. Loide Kasingo, die adjunkspeaker, het saam met hulle voorgestel dat Schlettwein die wetsontwerp terugtrek.
“Ek sal ’n dwaas wees as ek ’n wetsontwerp [parlement toe] bring en dit op dieselfde dag terugtrek,” het Schlettwein gereageer.
Die debat is toe op versoek van Maureen Hinda-Mbuende, die adjunkminister van finansies, tot vandag uitgestel.
Die kwessie is eerste gelys op die volgorde van sake vir die dag se sessie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie