FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Hervestigingsplase lê vir jare braak

Kriteria maklik gemanipuleer
Die ministerie moet maniere vind om kommunale boere met 'n groot aantal vee en ander projekte te identifiseer en te hervestig om sodoende te verseker dat hulle voortgaan om produktief te boer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Boere wat deel is van die ministerie van landbou, water en grondhervorming se hervestigingsprogram ontvang nie voldoende ondersteuning om produktief te boer nie weens ’n tekort aan menslike hulpbronne.

Weens ’n gebrek aan voldoende monitering en evaluering van die hervestigingsproses, gebeur dit dat die regering ’n plaas koop wat vir vyf jaar sonder enige inwoners braak lê, alvorens dit aan ’n begunstigde toegeken word.

’n Ernstige bron van kommer is die puntestelsel van die hervestigingskriteria wat nie die mees geskikte en vaardige begunstigdes akkuraat bepaal nie.

Dit is grootliks omdat die kriteria maklik gemanupileer kan word en daarom geëvalueer moet word om te verseker dat gekose begunstigdes diegene is wat werklik in staat is om produktief te kan boer.

Dit beteken dat die ministerie ook ’n beperkte oorsig het van hervestigingsplase wat onderverhuur word en dié wat deur ongemagtigde persone beset word.

Diè inligting is vervat in ’n verslag van die Nasionale Raad se staande komitee oor landbou, die omgewing en natuurlike hulpbronne wat op die suksesse en mislukkings van die program fokus.

Die verslag sê die ministerie moet maniere vind om kommunale boere met ’n groot aantal lewende hawe en ander projekte te identifiseer en te hervestig om sodoende te verseker dat hulle voortgaan om produktief te boer en die produktiwiteit van die grond en die algehele landboumark te verbeter. Dit sal die huidige swak landbouproduksie op toegekende grond ’n hupstoot gee.

Die komitee het tydens ’n ter plaatse besoek aan hervestigingsplase in Hardap, Khomas, ||Kharas, Oshana, Omusati, Ohangwena en Oshikoto verwys na die huur van die grond wat op 99 jaar vasgestel is en wat volgens hulle die “ware eienaarskap” van die grond deur voorheen benadeeldes beperk.



GRONDLOOSHEID

Volgens die verslag was een van die hoofdoelwitte van die program om grondloosheid onder plaaswerkers wat reeds vir geslagte op ’n plaas woon en werk sowel as diegene wat voorheen benadeel is, te takel.

Generasies van plaaswerkers word egter steeds negatief geraak wanneer die regering plase vir hervestiging aankoop, luidens die verslag.

“Die breë kategorie van voorheen benadeeldes kan ’n ietwat nadelige uitwerking op die program hê omdat dit dit meer mededingend gemaak het vir die mees weerloses om hervestig te word,” aldus die verslag.

Die verslag verwys ook na die uitdaging met die uitgebreide onbewoonde tydperk van die plase vanaf die tydperk wanneer inwoners deur die regering gewerf word tot dit aan die begunstigdes toegeken word. Dit lei tot die verval en diefstal van infrastruktuur.

’n Beduidende aantal hervestigingsplase wat besoek is, is nie so produktief as wat hulle behoort te wees nie as gevolg van ’n gebrek aan water, kapasiteit en ondersteuning sowel as onwettige betreding.

Teen 2002 was daar na raming 2 miljoen kleinvee in die mark en vandag het dit volgens die verslag tot 740 000 gedaal. Nog 'n struikelblok is die gebrek aan voldoende gronddamme wat veral inwoners raak wat in gebiede woon wat geneig is tot vloede.

Sedert die begin van die ministerie se hervestigingsprogram in 1990, is 590 plase teen ’n totale koste van N$2,5 miljard en ’n gesamentlike grootte van 3,5 miljoen hektaar bekom.

In 2020 het die ministerie die doelwit gestel om 5 miljoen hektaar aan te koop. Tot dusver is egter nog net 67% of 3,5 miljoen hektaar aangekoop. Weens ’n tekort aan geld kort die ministerie nog 1,5 miljoen hektaar om sy doelwit te bereik.

Altesaam 5 490 begunstigdes van voorheen benadeelde Namibiërs is hervestig, waarvan 2 146 mans, 1 468 vroue en 31 regsentiteite is.

Die oorblywende 1 845 voorheen benadeelde Namibiërs kon nie aangeteken word nie, omdat die hervestiging van groepe en San-ontwikkelingsprojekte onder die vaandel van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn val.

Die meeste inwoners is in Omaheke hervestig en wel 2 008, gevolg deur die 1 306 in Oshikoto, met die minste en wel 551 wat in Otjozondjupa hervestig is.

Die ministerie begroot jaarliks N$40 miljoen vir die ontwikkeling van infrastruktuur vir water en heinings, terwyl hervestigde boere ook N$200 000 elk van Agribank ontvang. Vir die hervestiging van groepe bewillig die ministerie jaarliks N$3 miljoen om boere te help.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!