Kabinetsekretaris George Simataa is in die middel van 'n storm oor beweerde inmenging in die heraanstelling van Meatco se uitvoerende hoof. FOTO VERSKAF
Kabinetsekretaris George Simataa is in die middel van 'n storm oor beweerde inmenging in die heraanstelling van Meatco se uitvoerende hoof. FOTO VERSKAF

Kabinet se ‘dubbele standaarde’ veroordeel

Meatco-sage wek kommer
Besluite by die aanstelling van uitvoerende hoofde vir staatsbeheerde ondernemings moet op meriete en in die beste belang van die entiteit gebaseer wees en moet nie polities-gedrewe wees nie, sê kenner.
Nikanor Nangolo
Huidige en voormalige leiers van staatsondernemings (SOE’s) het die kabinet se aanstelling en kontrakverlenging van uitvoerende hoofde gekritiseer, veral die beweerde besluit om Meatco se voormalige hoof, Mwilima Mushokabanji, weer aan te stel ondanks die maatskappy se besluit dat hy nie moet terugkeer nie.

Die nuutaangestelde kabinet implementeer glo ’n omstrede resolusie deur die vorige administrasie om Mushokabanji ’n nuwe kontrak aan te bied, ten spyte van ’n gebrek aan ’n formele voorlegging van die raad om dit te ondersteun. Hy het Meatco in Januarie verlaat toe sy kontrak verstryk het.

Mushokabanji se tyd by die maatskappy is gekenmerk deur ’n reeks finansiële verliese, insluitend ’n bedryfsverlies van N$258 miljoen vir die tydperk wat in Januarie verlede jaar begin het.

Die regering het tussen 2021 en 2023 N$700 miljoen in die maatskappy gepomp. Luidens berigte het die kabinet na bewering die direkteure goedgekeur toe Meatco ’n versoek vir kabinetsgoedkeuring van sy nuwe raad voorgelê het.

Dit is egter net op voorwaarde gedoen dat die maatskappy Mushokabanji as uitvoerende hoof heraanstel. Nadat die raad egter sy eie evaluering gedoen het, het die nuwe raad besluit om eerder die pos te adverteer.

Die voormalige minister van finansies en staatsondernemings, Iipumbu Shiimi, het glo vroeër beswaar aangeteken teen wat sy ministerie beskou het as die kabinet wat standaard regeringsprosedures stoomroller om Mushokabanji se terugkeer af te dwing.

Die Wet op die Bestuur van Staatsondernemings van 2019 bepaal dat, hoewel die kabinet die aanstelling van SOE’s se uitvoerende hoofde moet goedkeur, die aanstellings moet voortspruit uit die raad van direkteure wat deur die lynminister aangestel word.

Daar is geen regsgrondslag vir die kabinet om heraanstellings van uitvoerende hoofde te inisieer of af te dwing sonder ’n raadsresolusie nie.



OMSTREDE KWESSIE

’n Bron in die kabinet se binnekring, sê die omstrede kwessie is verlede Dinsdag skielik op die aanbeveling van die kabinet se sekretariaat op die agenda geplaas. Die sekretariaat val onder die gesag van die kabinetsekretaris, George Simataa, wat na bewering ’n sentrale figuur in die Meatco-kwessie is.

“Hulle verweer was dat die vorige kabinetsbesluit nie geïmplementeer is nie en nou afgedwing moet word,” het die bron gesê.

“Maar hoekom hierdie spesifieke besluit prioritiseer, terwyl baie ander van die vorige kabinet onaangeraak bly?”

Die Meatco-raad sou Maandag ’n amptelike opdrag ontvang om Mushokabanji weer aan te stel.

’n Senior SOE-leier, wat anoniem wou bly, het Simataa van “buitensporige invloed oor kabinetsake” beskuldig.

“Hy het die grens oorskry van ’n administrateur tot om op te tree asof hy ’n kabinetslid is. Wanneer ’n maatskappy misluk weens hierdie inmenging, soos ons gesien het met die SME Bank, wie is dan verantwoordelik? Die raad of die kabinet?”

Nog ’n uitvoerende hoof het gesê “daar is honderde vorige kabinetsbesluite wat nog nie geïmplementeer is nie – sommige raak mense se lewensbestaan – maar skielik is hierdie ’n topprioriteit. Hoekom?”

Kommer oor begunstiging is ook geopper, met sommige wat Simataa daarvan beskuldig dat hy ’n stamgebonde agenda dryf.

“Hy het onlangs sy persoonlike assistent tot direkteur bevorder. Hulle is van dieselfde streek,” het ’n uitvoerende hoof beweer.

Ander bevraagteken weer die teenstrydighede in die kabinet se betrokkenheid by SOE’s.

“Drie uitvoerende hoofde se kontrakte het verlede jaar verstryk. Vanjaar het NWR en Nust hul hoofde sonder inmenging van die kabinet laat gaan. Hoekom is Meatco anders?”

“Die hoof van Bipa was net vir een termyn in die pos. Niemand het vir haar opgestaan nie. Is dit omdat sy nie iemand van haar stam gehad het wat haar ondersteun het nie?” het een uitvoerende beampte gevra.

Die kabinet se direkteur, Abel Tukuhupwele, het nie planne ontken vir Mushokabanji om na die maatskappy terug te keer nie.

“Die aangeleentheid is ’n suiwer kabinetskwessie,” het hy gesê.

“Soos per protokol is die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, gemagtig om kabinetsbesluite te kommunikeer.

“Aangesien die inligting nie van haar af kom nie, maak dit sin om duidelikheid by jou bronne te kry,” het Tukuhupwele by navraag deur Network Media Hub (NMH) gesê.



KENNER

Die politieke ontleder Ndumba Kamwanyah het kommer uitgespreek oor die bedryfsimplikasies van die kabinet se betrokkenheid.

“Om die raad se gesag te ondermyn skep ’n gevaarlike presedent,” het hy gewaarsku.

“Dit verpolitiseer aanstellings, verswak deursigtigheid en verminder openbare vertroue in staatsbeheerde instellings.

“Besluite moet op meriete en in die beste belang van die entiteit gebaseer wees en moet nie polities gedrewe wees nie,” het hy gesê.

Meatco se raadsvoorsitter, Sakaria Nghikembua, het Maandag gesê die maatskappy het nog nie ’n opdrag gekry om Mushokabanji weer aan te stel nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer