Foto ter illustrasie Tanja Bause
Foto ter illustrasie Tanja Bause

Keerwal vir waterpryse

Moet kultuur van wanbetaling in bedwang bring
Die nuwe konsepbeleid oor die regulering van waterpryse in Namibië sê subsidiëring en kruissubsidiëring sal nodig wees, maar moet gemotiveerd en deursigtig wees.
Dani Booysen
Die formele regulering van waterpryse in Namibië moet 'n gebalanseerde oplossing vir talle vraagstukke oor die skaars, dog lewensnoodsaaklike hulpbron help vind.

Die konsepbeleid vir die daarstel van 'n oorkoepelende prysstruktuur benadruk die belang van volhoubare watervoorsiening.

Vasgestelde pryse en tariewe moet billik, bekostigbaar, konsekwent en deursigtig wees, skryf die beleid voor.

Tyd vir kommentaar en voorstelle loop egter vinnig uit. Die sperdatum hiervoor is 30 September.

Naas die vermoë om te betaal, is gewilligheid om vir water te betaal volgens die beleid 'n deel van die probleem. Die beleid sê 'n kultuur van wan- of nie-betaling het posgevat, wat die ophoping van skuld in die hand werk. Kostes word dus onderverhaal of selfs glad nie herwin nie. Die gevolg is 'n wydverspreide gebrek aan waardering vir die ekonomiese waarde van water.

Die land bevind hom tussen twee vure. Endersyds is water baie skaars en kwesbaarheid vir die klimaat groot, maar andersyds sal bevolkingsgroei, verstedeliking en ontwikkeling aanvraag aansienlik laat toeneem.

'N REDELIKE BYDRAE

Die beleid stel voor dat almal wat water gebruik 'n redelike bydrae tot die koste van onttrekking, behandeling, suiwering, storing, vervoer en voorsiening maak. Verbruikers moet egter nie opdok vir ondoeltreffendhede, tekortkominge, verliese aan water, ander se skuld en bedryfskostes nie.

Diegene wat buiten vir die koste van 'n permit niks betaal nie, kan by 'n nuwe prysbedeling ingetrek word.

Volgens die beleid is dit 'n "aansienlike blindekol" in die status quo dat die meerderheid eindverbruikers geen bydrae maak nie. Minder as 'n kwart van alle water wat gebruik word, is volgens die beleid onderhewig aan formele tariewe of pryse. Die verbruik word ook nie gemeet nie.

Pryse vir die wat betaal, neem hierteenoor konstant toe, ook om konserwatiewe gebruik aan te moedig.

Hoewel die reg op water erken word, asook die belang om behoeftige en kwesbare gemeenskappe te help, bestaan daar volgens die beleid nie 'n behoorlike subsidiëringsraamwerk nie. Subsidiëring en kruissubsidiëring sal nodig wees volgens die beleid, maar moet gemotiveerd en deursigtig wees.

BAIE WERK WAG

Ondanks verskeie beleidstukke en planne oor water, vererger onvolledige en lukrake toepassing daarvan gebreke en uitdagings, byvoorbeeld die tekort aan belegging in infrastruktuur vir watervoorsiening en sanitasie asook die onderhoud daarvan.

Volgens die beleid is daar ook nie behoorlike koördinering tussen die verskillende vlakke waarop waterdienste bestuur en verskaf word nie.

Die groot taak van formele regulering sal volgens die beleid onder meer die ontwikkeling van metodologie en regulatoriese instrumente, asook die duidelike bepaling van prioriteite vereis.

Die reguleerder sal soorte diensverskaffers kan klassifiseer. Metodes van onttrekking en voorsiening, die doel van watergebruik, seisoene, geografie en ander verskille kan ook in prysvasstelling gebruik word.

Ander beleidsaspekte waaraan uitvoering gegee sal moet word, is die voorskrywing van diensstandaarde, die insameling van data, die ontwikkeling van rapporteringstelsels en die kweek van die nodige kundigheid.

'n Wateradviesraad is reeds in 2016 in die lewe geroep en in 2017 is die waterreguleerder daargestel, maar regulasies is nog nie vir 2013 se Wet op Waterhulpbronnebestuur geskryf nie en die wet is nog nie van krag nie. Die twee instellings kan daarom nie hul werk doen nie en daar bestaan ook nog nie 'n watertribunaal nie.

Volgens plan sal die waterreguleerder uiteindelik onafhanklik van die regering moet word.

INDABA KOM NOG

'n Span konsultante is volgens die ministerie in November 2020 aangestel om die beleid oor prysregulering op te stel, asook regulasies wat uiteindelik daaruit sal voortspruit. 'n Nasionale slypskool sal plaasvind nadat insette verwerk is.

Individue of belangegroepe kan 'n afskrif van die beleid by [email protected] of [email protected] aanvra. 'n Vorm vir insette sal aan belangstellendes voorsien word, wat dit aan dieselfde beamptes kan terugstuur.

By navraag is verduidelik dat die proses gevolg word om seker te maak dat besonderhede van diegene met voorstelle aangeteken kan word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer