Kommissie voltooi verslag oor grensafbakening

Augetto Graig
President Nangolo Mbumba het Dinsdag sy blydskap uitgespreek dat afgetrede regter Petrus Unengu, die voorsitter van die vyfde kommissie vir die afbakening van grense, en sy span, hul volledige verslag kon indien, ná verskeie vertragings.

Volgens Unengu stel die kommissie voor dat Namibië nie in verdere streke verdeel word nie, maar dat tien nuwe kiesafdelings geskep word, deur die grense van 62 kiesafdelings te wysig.

Twee kiesafdelings moet hernoem word, volgens die kommissie se bevindinge.

Hierdie besonderhede word egter in die verslag vervat, wat nie openbaar gemaak sal word nie, totdat die president en die kabinet die inhoud bespreek en goedgekeur het.

Unengu sê wel die inhoud van die verslag en die voorstelle wat deur die kommissie gemaak is, is daarop gemik “om demokrasie in Namibië te versterk en om die land meer inklusief van al sy burgers te laat bestuur”.

Hy sê die belangrike kwessies wat in ag geneem is tydens die opstel van die voorgestelde wysigings, sluit in toegang tot dienste, die koste om nuwe streke of kiesafdelings te skep, die ekonomiese situasie in die land en die aantal kiesers in elke kiesafdeling.

“Ons was ook waaksaam teen risiko’s van stam- en etniese skeiding,” volgens die afgetrede regter.

Mbumba was verheug toe hy hoor dat geen nuwe streke voorgestel word nie en het later tydens die geleentheid beklemtoon daar word dus ook geen nuwe goewerneursposte geskep nie.

Unengu het ook burgers wat by die kommissie se werk betrokke was bedank vir hul insette.

Die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, Evelyn !Nawases-Taeyele, was ook teenwoordig en sy het gesê haar ministerie is dankbaar vir die goeie werk wat voltooi is.

Tydens haar spreekbeurt het die eerste minister, Saara Kuugongelwa-Amadhila, gesê sy is bly dat Namibiërs nie verdeel word op grond van etnisiteit nie. Sy het eerder die toegang tot dienste as die hoofkwessie beskou.

Ook teenwoordig was die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, wat uitsien na die opvolgwerk van fisiese afbakening.

“Dit gaan ’n aansienlike hoeveelheid tegniese werk behels om werklik betekenis aan die inhoud van die verslag te gee,” sê hy.

Die minister van finansies en staatsondernemings, Iipumbu Shiimi, was tevrede om te hoor dat kostedoeltreffendheid in ag geneem is en met verbeterde toegang tot dienste gebalanseer is.

Christine //Hoebes, die minister in die presidensie, meen die kommissie se werk sal die hele bevolking bevoordeel en ook die verkiesingsproses in die toekoms verbeter.

Petrus Shaama, die hoof van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), sê hy is in sy skik dat die eerste deel van die proses nou afgehandel is.

“Vanjaar hou die ECN streekraad- en plaaslike owerhede-verkiesings, waarvoor alle kiesers in hul kiesafdelings moet registreer en stem.

“Sonder daardie grense kan die werk van die ECN nie begin nie,” voeg hy by.

Mbumba sê hy sal die voorstelle saam met die kabinet oorweeg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer