Man en vrou gelyk voor wet
Wetsontwerp weerspieël desperaatheid van Namibiërs
Henriette Lamprecht
Die mening dat ’n man op sy vrou se persoon geregtig is, is kommerwekkend en het geen plek in Namibië se huidige grondwetlike bedeling waar alle mense voor die wet gelyk is nie. Ook het vroue en mans in gelyke maat reg op sy of haar liggaam.
Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, het in haar reaksie op voorleggings tot wysigings aan die wetsontwerp vir die bekamping van verkragting beklemtoon “niks en geen konteks, selfs die huwelik” behoort seksuele geweld te regverdig nie.
Met verwysing na verkragting binne ’n huwelik, sê Dausab is die idee van mans wat beheer oor hul vrouens het, ses jaar ná onafhanklikwording deur die Wet op Gelykheid van Getroude Persone van 1996 afgeskaf. Dit beteken mans en hul vroue word nou volgens die wet as gelyk gesien.
“Enige misdaad van verkragting is daarom met die volle omvang van die wet strafbaar, nieteenstaande die kontekstuele opset waaronder die misdryf gepleeg is.”
Dauseb het verwys na klousule 4 van die wetsontwerp wat fokus op die afwesigheid van semen of ’n geskeurde maagdevlies en beklemtoon die hof behoort holisties alle bewyse te ontleed, voordat dit meer waarde op sekere bewyse bo ander vorme van bewyse plaas.
“Die feit dat bewyse nie weerspreek of ondersteun word deur die teenwoordigheid van sekere tipe bewyse nie, sê nie die misdaad het nie gebeur nie.”
Sy het ook verwys na die byvoeging van “voorwerp” in terme van die definisie van verkragting en sê die taal in die wetsontwerp is breed genoeg om die talle variasies van voorvalle van verkragting, in te sluit.
Dauseb sê sy is bewus van voorvalle waar lede van die gemeenskap uitgebuit en afgepers word as gevolg van hul vrees om ná konsensuele seksuele omgang van verkragting aangekla te word. Die gereg kan egter net so ver gaan omdat baie wat slagoffers van dié sindikate is, selde dit by die polisie aanmeld. Sy het beklemtoon enige vals beskuldigings wat gemaak word, word nie ligtelik opgeneem nie.
Met verwysing na minimumvonnisse wat deel van die wetsontwerp uitmaak, het die minister gesê hoewel daar geen afdoende bewyse is dat swaarder strawwe ’n afskrikmiddel is nie, weerspieël dit egter wel ’n “nasie se houding teenoor ’n spesifieke krisis”.
Verdere konsultasies oor ’n voorgestelde nasionale register vir seksoortreders wat ook deel van die wetsontwerp vorm, duur voort. Kommer oor die register sluit volgens Dauseb in die impak wat dit op die grondwetlike regte van oortreders het wat hul vonnisse uitgedien het en hoe die voorgestelde register hul onregverdig kan benadeel ten koste van die belange en welstand van die samelewing.
Ook dat die register moontlik ’n duplisering van bestaande pogings is wat as voldoende beskou word om dieselfde resultaat te bereik. Die toekenning van parool vir beweerde oortreders vereis volgens Dausab “ernstige ondersoek en verdere navorsing”.
“Gegewe die ernstige aard en wydverspreide voorkoms van seksuele geweld, moet niks ons keer om ons vroue, kinders en mans te beskerm nie.”
Die wetsontwerp is in Februarie vanjaar weer in die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê en het ten doel om die bestaande regsraamwerk te versterk in die stryd teen verkragting.
“Die wysigings weerspieël ook in ’n mate die desperaatheid van Namibiërs vir bykomende voorsorgmaatreëls wat óf afskrik óf ’n boodskap van hoop aan die slagoffers van verkragting stuur,” het Dausab gesê. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie