Miljarde in Covid-fondse wanbestee

Owerhede systap verantwoordelikheid in ‘Covid rot’-sage
Die ouditeur-generaal sê hy het geen wetlike mandaat om enige korrupsie aan te meld wat sy ouditwerk moontlik aan die lig gebring het nie.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage – Die kantoor van die ouditeur-generaal moet korrupsie wat onder sy aandag kom aan die Teenorrupsikommissie (ACC) en ander kantore rapporteer, het Paulus Noa, direkteur-generaal van die kommissie, Woensdag gesê.

Dit in reaksie op skokkende bevindings oor hoe die regering miljarde dollars wat aangewend moes word om die gevolge van Covid-19 te versag, bestee het.

Hierop het ouditeur-generaal Junias Kandjeke teruggekap dat korrupsie “die ACC se plig” is en bygevoeg dat sy mandaat, ingevolge die wet, eindig met die oudit van openbare instellings se boeke.

Ons susterkoerant Namibian Sun het met beide Noa en Kandjeke gepraat in die lig van laasgenoemde se verslag oor staatsbesteding op die piektyd van die pandemie – soos op 18 Januarie in New Era berig.

Noa het gesê die kantoor van die ouditeur-generaal behoort gevalle van korrupsie aan te meld waar dit op duidelike bewyse van sulke voorvalle afkom.

Volgens die ACC-hoof moet Kandjeke nie net verslae vrystel en dit daar laat nie, en hy sê die ouditeur-generaal is by magte om sy bevindings aan wetstoepassingsagentskappe soos die ACC en die Namibiese polisie te aan te meld.

Kandjeke se verslag oor Covid-besteding wys op moontlike korrupte hantering van staatsfinansies wat ten doel gehad het om die verwoestende impak van die virus te bekamp.

VRAE OOR STIMULUSPAKKET

Die regering het in 2020 ’n stimuluspakket van N$8,1 miljard beskikbaar gestel om die gevolge van Covid-19 te versag, wat N$5,9 miljard ingesluit het vir direkte ondersteuning aan besighede en huishoudings, asook die beskikbaarheid van kontantvloei vir betalings vir dienste wat aan die regering gelewer is.

Die Covid-19-ouditverslag het uitgelig hoe staatskontrakte toegeken is sonder om die Verkrygingswet te volg, wat selfs in noodtoestande vereis dat meer as een verskaffer van goedere of dienste oorweeg word.

Dié wet bepaal dat direkte verkryging toegelaat word “waar slegs een verskaffer die eksklusiewe reg het om die goedere te vervaardig of om die nodige goedere, werke of dienste te verskaf en geen geskikte alternatief beskikbaar is nie”.

Daar was geen bewyse dat verskeie verskaffers oorweeg is om die proses mededingend te maak nie, wat Kandjeke as die “blatante verontagsaming van die wet” bestempel het.

AG KAN KORRUPSIE AANMELD

Noa het gesê hoewel ouditverslagbevindings van aard verskil, is Kandjeke gemagtig om dié wat op ooglopende korrupsie dui, aan te meld.

“Dit hang af van wat die verslag onthul. Het dit 'n saak van korrupsie aan die lig gebring wat binne die mandaat van die ACC val of 'n aangeleentheid wat [op die vlak van die betrokke instelling] hanteer kan word? Die ouditeur-generaal moet nie net ’n pratende agentskap wees nie, die ouditeur-generaal moet sake open,” het hy gesê.

Kandjeke het op sy beurt gesê sy kantoor se mandaat is om oudits van openbare instellings uit te voer in ooreenstemming met die betrokke wetgewing.

“Ons werk met die wet. As jy na die wet kyk, is ek 'n ouditeur. Daar is regulasies en beleide. As dit by korrupsie kom, is dit die ACC se plig. Wanneer dit by menseregte kom, is dit die plig van die Ombudsman se kantoor. As ek op korrupsie afkom, lig ek [die betrokke belanghebbendes] in, maar ons hoofdoel is om oudits uit te voer.”

DIT STOP BY REKENPLIGTIGES

Kandjeke meen dit moet op die rekenpligtige beamptes van openbare instellings val om gevalle van korrupsie by die betrokke owerhede aan te meld. In hierdie geval is die betrokke rekenpligtige beamptes die uitvoerende direkteure van die kantoor van die eerste minister, die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, en die ministerie van finansies wat die verspreiding van Covid-19-fondse hanteer het.

“Ek stem saam, die ouditeur-generaal kan meer mag hê, maar ideaal gesproke wil jy hê die werkgewer moet optree.”

Hy het verder opgemerk dat daar gevalle was waar individue van een openbare instelling na 'n ander oorskuif, veral by plaaslike owerhede.

“Die probleem is die stelsel, nie individue nie. Selfs al begin ons mense verwyder, laat die stelsel mense toe om terug te kom. Wat kan ons kantoor doen? Ek hardloop nie weg van my verantwoordelikhede nie,” het hy bygevoeg.

Luidens die verslag was die verkrygingsproses onvoldoende.

“Op grond van ons bevindinge was die nakoming van die Verkrygingswet onbevredigend. In 'n noodtoestand moes regeringskantore, ministeries en agentskappe vinnig optree, [wat ook al die noodgeval] is,” lui die verslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!