Swapo se visepresident en presidentskandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah, saam met Esther Shakela. FOTO Nikanor Nangolo
Swapo se visepresident en presidentskandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah, saam met Esther Shakela. FOTO Nikanor Nangolo

Miljarde se skuld 'beheerbaar'

Nikanor Nangolo
Namibië se visepresident en Swapo se presidentskandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het die erns van die land se openbare skuld wat op N$165,8 miljard of 60,1% van die bruto binnelandse produk (BBP) staan, afgemaak as nie so ’n ernstige kwessie nie.

Volgens haar skep die regering nie onvolhoubare skuld wat hy nie kan terugbetaal nie. Onder die sleutelverpligtinge is ’n Eurobond van N$14,3 miljard wat teen 29 Oktober 2025 vereffen moet word.

Nandi-Ndaitwah het tydens ’n vraag-en-antwoordsessie van die Swapo Jeugliga op Rundu verduidelik watter stappe die regering gedoen het om die land se Eurobond-verpligtinge terug te betaal.

“Ons het reëlings getref om te verseker dat ons die Eurobonds kan afbetaal wanneer dit verstryk. Ons het twee Eurobonds gehad waarvan een in 2021 verstryk en ons afbetaal het. Die oorblywende Eurobond sal ook betyds betaal word,” het sy gesê.

Nandi-Ndaitwah het beklemtoon die regering skep nie onvolhoubare skuld nie.

“Ons nasionale skuld het drasties verlaag. In ’n stadium het dit op 70% gestaan, maar dit is nou onder 60% wat binne die toelaatbare vlak van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) is.

“Jou regering is verantwoordelik en sal voortgaan om so op te tree. Ons kan nie roekeloos leen en ons mense met skuld los wat nie bestuur kan word nie,” het sy gesê.

“Jy kan nie na die wêreldmark gaan en geld leen, maar die probleem kom wanneer jy dit moet terugbetaal nie. As jy dit nie terugbetaal nie, gaan hulle hierdie land oorneem.

“Geen minister gaan reis sonder hul toestemming nie en daar sal geen salarisverhogings sonder hul insette wees nie, so ons het besluit om so ’n situasie te vermy,” het sy verduidelik.



EKSTERNE FAKTORE

Op ’n vraag oor inflasie het Nandi-Ndaitwah gesê die land as deel van die globale ekonomie word deur eksterne faktore beïnvloed.

“’n Voorbeeld is die Rusland-Oekraïnse konflik toe petrolpryse sowat N$13 per liter was, maar nou is dit meer as N$22. Dis die tipe inflasie waarmee ons te doen het en dit word gedryf deur globale gebeure wat buite ons beheer is.”

Die visepresident het die publiek verseker dat maatreëls in plek is om inflasie te bestuur.

“Nasionale en internasionale sentrale banke streef daarna om inflasie te beheer en die Bank of Namibia is geen uitsondering nie.

“Terwyl dit uitdagend is, sien ons ’n effense verbetering. Wêreldgebeure kan die situasie vinnig verander en oliepryse en gevolglik die koste van goedere en dienste beïnvloed.”

Nandi-Ndaitwah het ook die behoefte uitgespreek vir ’n departement vir klein- en mediumondernemings (SME’s).

“Die ministerie van jeug het programme wat op vroue en bemagtiging van die jeug fokus. Dit is noodsaaklik om te verseker dat beide jong mans en vroue by hierdie programme ingesluit word en oorweging geskenk word aan kulturele norme wat andersins jong vroue uitsluit van geleenthede vir finansiering.

“Ons moet verseker dat beide die jong meisie en seun in ons ontwikkelingsprosesse ondersteun word,” het sy bygevoeg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!