James Mnyupe, economic advisor to Pres Hage Geingob and Namibia's first green hydrogen commissioner. Photo Contributed
James Mnyupe, economic advisor to Pres Hage Geingob and Namibia's first green hydrogen commissioner. Photo Contributed

Mnyupe ontvang nié drie staatsalarisse

Yandi Du Plessis
Jemima Beukes - Die aanstelling van die presidensiële ekonomiese adviseur en groenwaterstofkommissaris, James Mnyupe, as die hoof van ’n nuutgestigte implementeringsowerheid vir groen waterstof, is met skeptisisme deur Namibiërs begroet – wat gevra het hoekom die pos nie geadverteer is nie en of hy drie verskillende salarisse verdien.

Tom Alweendo, die minister van myne en energie, het verduidelik die pos van groenwaterstofkommissaris en nou sy posisie as leier van die implementeringsowerheid is, in wese, ad hoc-take wat by Mnuype se bestaande raadgewersposisie gevoeg is. Dit omdat groen waterstof een van die hoofpilare van die Harambee-welvaartsplan (HPP2) is.

“Daar is mense wat sê hy ontvang twee salarisse. Dit is nie waar nie, hy ontvang net een salaris omdat hierdie ander hoedanighede alles deel is van sy werk as adviseur. Hy is steeds die president se ekonomiese raadgewer,” het Alweendo gesê.

Volgens ’n aankondiging Maandagmiddag deur die ministerie van myne sal Mnyupe, wat basies die gesig van Namibië se groenwaterstof-ambisies geword het, hierdie nuwe kantoor vir die volgende vyf jaar bestuur en die taak hê om sy eie span saam te stel.

Mnyupe het ook benadruk dat sy salaris van sy adviseurspos nou proporsioneel aangepas gaan word volgens sy uitgebreide verantwoordelikhede binne die program – na aanleiding van besprekings met president Hage Geingob.

“Ek het nog net een salaris van die regering by die presidensie getrek – wat nou in ooreenstemming met my nuwe verpligtinge teenoor die program verminder moet word soos met my werkgewer ooreengekom. Die program sal sy personeel uit donateursfondse op ’n aparte betaalstaat buite die regering op ’n kontrakbasis vergoed. Die leier, soos alle ander personeel van die program, sal deur die program betaal word,” het hy gesê.

Hy het verder aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê nadat hy die lewensvatbaarheid van die inkubasie van ’n sintetiese brandstofstrategie ondersoek het, het die regering en sy ontwikkelingsvennote basies tot die gevolgtrekking gekom dat dit sinvol is om meer hulpbronne te belê in die vestiging van groen waterstof in Namibië.

“Die program het dus ten doel om Namibiese kapasiteit te bou in direkte reaksie op die ambisies van Namibië se sintetiese brandstofstrategie Oor die volgende paar weke sal ons die verskillende uitvoerende rolle wat ons in die derde en vierde kwartaal van 2023 gaan werf, met die publiek deel. Hierdie span sal probeer om die bereiking van die twaalfpuntplan in die strategie te versnel,” het Mnyupe gesê.

Die politieke kommentator Graham Hopwood het gesê die ministerie se aankondiging dui skynbaar op ’n poging om groen waterstof te institusionaliseer as ’n regeringsprojek wat ná Geingob se finale ampstermyn sal voortduur.

“In werklikheid weet ons egter nie of ’n nuwe regering ná Maart 2025 in groen waterstof sal belangstel nie.”

Volgens die Namibië se groenwaterstofstrategie – ingevolge ’n scenario van netto-nul vrystellings teen 2050 – sal Europa, Japan en Suid-Korea gevolg deur China en Noord-Amerika waarskynlik 70% van die vraag na groen waterstof teen 2030 dryf.

Dit word ook uitgelig dat Duitsland, wat na verwagting Europa se grootste mark sal wees, ’n invoervraag van ongeveer 15 miljoen ton waterstof teen 2050 verwag, en terwyl Japan ook oorweeg om invoervraag te verhoog namate dit geleidelik waterstof vir krag- en vervoerdoeleindes begin gebruik – en terselfdertyd sy eie produksievermoëns ontwikkel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!