Namibiërs ‘nie gereed’ vir NamPower se geldsake

Gotore kry groen lig
Die land se kragvoorsiener sê die individue wat geïdentifiseer is as potensiële kandidate om sy finansies te bestuur, is nog nie gereed om dié taak aan te pak nie.
Iréne-Mari van der Walt
Jemima Beukes – NamPower se direksie het die besluit geneem om sy finansiële hoof, Michael Gotore, ’n Zimbabwiese burger, se werkskontrak te verleng aangesien plaaslike inwoners “nie gereed” is om dié maatskappy se finansiële afdeling te bestuur nie.

Die besluit om Gotore vir nog vyf jaar in diens te neem, het egter teenstand ontvang aangesien dit beskou word as minagting van ’n regeringsvoorskrif wat vereis dat sleutelposisies in staatsondernemings deur plaaslike inwoners beklee word.

Republikein se susterkoerant Namibian Sun het verneem dat NamPower se waarnemende raadsvoorsitter, Martha Mbombo, op 6 Desember 2023 die ministerie van finansies en staatsondernemings ingelig het oor die besluit om Gotore se kontrak te verleng.

Sy het gesê moontlike opvolgers is reeds geïdentifiseer om Gotore ná vyf jaar te vervang en hulle is besig met ontwikkelingsprogramme om hulle vir die rol voor te berei.

“Terwyl hulle geskik is vir die posisie, is hulle nog nie gereed vir hierdie komplekse rol nie,” lui ’n brief aan die ministerie.

Mbombo het die kontrakverlenging gemotiveer en gesê Gotore het die maatskappy gehelp om kostebesparings op vaste bedryfskoste te behaal, kredietrisikobestuur te verbeter en beleggingsopbrengste te behaal.

Bronne in die maatskappy het beweer dat Gotore een van Simson Haulofu, die uitvoerende hoof van NamPower, se luitenante is, en dat die besluit om sy kontrak te verleng hiermee verband hou.

Gotore se dienskontrak sou na verwagting einde Mei verlede jaar verstryk het. Die direksie het egter tydens ’n vergadering in November besluit om sy kontrak by die semistaatsinstelling te hernu, en het die ministerie in Desember van dié besluit ingelig.

In reaksie op navrae deur Namibian Sun, het Haulofu gevra of die koerant die riglyne gesien het wat die aanstelling van buitelanders in kritieke posisies in staatsondernemings verbied?

“Het julle dit gesien? Gaan vra jou bronne waar dit is. Ek lewer nie kommentaar op gerugte nie en ek bespreek nie werknemers se sake in die koerante nie,” het hy gesê.

Die direksie se besluit om Gotore aan te hou, staar nie net teenkanting in die gesig nie, maar daar is ook bewerings dat sy salaris verhoog is.

Intussen het ander die direksie se bewerings weerlê dat daar niemand is wat gekwalifiseerd genoeg is om by Gotore oor te neem nie, deur na NamPower se opvolgplan te verwys en bygevoeg daar is “baie gekwalifiseerde en werklose Namibiërs wat gereed is om te werk”.

ONKANT GEVANG

Die adjunk- uitvoerende direkteur van finansies, Louise Shixwameni, het op navraag gesê sy het eers verlede week die brief onder oë gehad en die ministerie moet dit nog bespreek.

“Julle het my nou onkant gevang. Ons het pas die brief ontvang en ons werk aan die kwessie. Ons het ’n beleid met betrekking tot buitelanders en opvolgbeplanning in staatsinstansies. Dit moet verstaan word dat mnr. Gotore ’n permanente inwoner is en dus nie as ’n buitelander beskou kan word nie,” het sy gesê.

Toe sy gevra is oor die direksie se verklaring dat hy moontlike opvolgers in plek het om Gotore op te volg, het Shixwameni gesê: “Dit sou verbasend wees as hulle daardie besluit gefinaliseer het” aangesien daar reeds ’n beleid in plek is rakende die aanstelling van buitelanders.

“Die norm is nie om ’n brief aan my kantoor te rig nie. Dit moet aan die minister se kantoor gerig word waarna ons dit gewoonlik aan ons regsdepartement voorlê,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 29° Rundu: 20° | 27° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 20° | 25° Otjiwarongo: 21° | 29° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 22° | 31° Gobabis: 22° | 29° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 16° | 31° Ariamsvlei: 22° | 39° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 20° | 29° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 19° | 23° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 22° | 31° Cape Town: 19° | 23° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 25° Harare: 16° | 24° #REF! #REF!