nAMRA REJECTS
nAMRA REJECTS

NamRA wys amptenare weg met kriminele rekords

Volg streng keuringsproses
'n Geen-verdraagsaamheidsbeleid teenoor korrupsie is glo een van NamRA se doelwitte.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes – Die kommissaris van die Namibiese Inkomsteagentskap (NamRA), Sam Shivute, het gesê die aanstelling van twee personeellede wat uit die doeanekantore gewerf is, moes ongedaan gemaak word nadat dit aan die lig gekom het dat beide kriminele rekords het.

Tydens ’n onlangse onderhoud met ons susterkoerant Namibian Sun het Shivute gesê ’n keuringsproses is nog aan die gang om te verseker dat al die agentskap se werknemers wetsgehoorsame burgers is.

NamRA het tans 800 werknemers in diens, terwyl sy struktuur voorsiening maak vir 1 500 personeellede.

“Ons werf die meerderheid mense van doeane en die ministerie van finansies se departement binnelandse belasting. Tydens ons keuringsprosesse het ons gevind dat sommige mense kriminele rekords het. Ons moes hierdie aanstellings terugtrek.

“Vir mense met kriminele rekords sê ons: ‘Jammer, jy kan iewers anders heen gaan, maar nie NamRA nie’,” het hy gesê.

Shivute het benadruk dat integriteit die kern van die inkomste-agentskap se bedrywighede moet wees en dat ’n geen-verdraagsaamheidsbeleid teenoor korrupsie een van hul doelwitte is.

SINDIKAAT GETEIKEN

Intussen het hy gesê die agentskap ondersoek ’n sindikaat waardeur meer as 800 werkende mense bedrieglike belastingterugbetalings van tussen N$100 000 en N$600 000 per jaar ontvang.

“Daarbenewens word al ons personeellede se bates verklaar en word ons aan keuring onderwerp. Die boodskap is baie duidelik hier – ons wil NamRA op ’n fondasie van integriteit bou,” het Shivute gesê.

Hy het bygevoeg hulle werk werp vrugte af, en dat die volgende stap die afdwinging van regulasies sal behels. Laasgenoemde moet egter ’n laaste uitweg bly.

Die agentskap het daarin geslaag om N$119 miljoen se uitstaande belasting binne net een maand in te vorder, het hy gesê.

“Ons is op gelyke voet met almal. Ons ontvang tegniese ondersteuning van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF). Die Verenigde Nasies (VN) kom ook aan boord en sal ons tegniese ondersteuning gee rakende oorgrens-belastinginspekteurs.

“Ons het gepraat oor onderverklaring; ons verwys ook na die multi-nasionale ondernemings wat oor die afgelope 20 jaar miljarde se verliese verklaar het,” het hy gesê.

Shivute het beklemtoon dat die belastinginkomste wat ingevorder word nie in NamRA se koffers beland nie, maar eerder in die ontwikkeling van die land belê word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!