NNN lê snoeiskêr in met nuwe kabinet

Maan oor korrupsie
Die vyfde en eerste vroulike president van Namibië is Vrydag ingesweer en Saterdag het sy haar nuwe, kleiner kabinet aangekondig.
Francoise Steynberg
Korrupsie moet as hoogverraad hanteer word, aangesien dit die mag het om burgers te frustreer en regerings omver te gooi.

Dit was die boodskap van Namibië se vyfde en eerste vroulike president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, wat Vrydag op Onafhanklikheidsdag op ‘n reënerige dag by staatshuis in die hoofstad ingesweer is.

Onafhanklikheidsvieringe is weens die stormweer inderhaas vanaf die Onafhanklikheidstadion na staatshuis verskuif.

“Korrupsie in al sy verskynsels moet ten alle koste vermy word,” het sy gemaan.

Nandi-Ndaitwah het bygevoeg: "As 'n student van [die voormalige Tanzaniese president] Mwalimu Nyerere, het hy my geleer dat korrupsie as hoogverraad geag moet word. En ek stem saam, want deur korrupsie kan burgers gefrustreerd raak en in die proses regerings omverwerp".

Verskeie staatshoofde en voormalige staatshoofde het die verrigtinge bygewoon, soos onder meer die president van Tanzanië, dr. Samia Suluhu Hassan, die eerste vroulike staatshoof in Afrika, dr. Ellen Johnson Sirleaf van Liberië, Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa en Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa. Oudpresidente van die buurland Thabo Mbeki en Jacob Zuma was ook teenwoordig.

Op internasionale front het Nandi-Ndaitwah het gesê sy sal voortgaan om te eis vir die opheffing van sanksies teen Kuba, Venezuela en Zimbabwe.

Nandi-Ndaitwah het gesê onderwys en opleiding sal voortgaan om 'n prioriteit in Namibië te wees om te verseker dat tegniese en bestuursvaardighede en werksetiek ontwikkel word wat in die arbeidsmark vereis word.

As deel van die jeugbemagtigingsprogram het sy gesê die regering sal die verskeie sportkodes en belegging in toepaslike infrastruktuur bevorder om sportmanne en -vroue in staat te stel om doeltreffend op die internasionale arena mee te ding.

Daarbenewens bly toegang tot kwaliteit gesondheidsorg 'n prioriteit.

Sy het alle Namibiërs gesmeek om hul moue op te rol en hard te werk.

"Daar is 'n rol vir almal. Ek smeek elke burger, ongeag jou agtergrond of politieke affiliasie, om saam met my op hierdie reis van nasiebou te kom. Ek glo dat ons saam Namibië die beste plek kan maak vir 'n mens om in te woon," het Nandi-Ndaitwah aangemoedig.

Sy het aan staatsamptenare gesê dat daar van hulle verwag word om te alle tye hoë etiese standaarde te handhaaf en die beste moontlike diens betyds sonder begunstiging te lewer.

“Om volhoubare sosioëkonomiese ontwikkeling te bereik, kan dit slegs deur 'n verantwoordbare administrasie verwesenlik word.”

NUWE KABINET

Die president het dit Saterdag beaam toe sy haar nuwe kabinet aangekondig en omtrent die snoeiskêr ingelê het. Sy het die ministeries na 14 verminder en net ses adjunkministers aangestel.

Twaalf oudministers, onder meer die voormalige ministers van finansies en staatsondernemings, Ipumbu Shiimi, die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, visserye en mariene hupbronne, Derek Klazen, het nie die paal gehaal nie.

Nandi-Ndaitwah het Vrydag gesê sy glo dat om as president van die land verkies te word, dit vroue uit alle vlakke van die samelewing sal aanmoedig om op te staan.

"[Dit moet gedoen word] met 'n duidelike begrip dat, ek nie verkies is omdat ek 'n vrou is nie, maar op meriete. Dit wil sê as vroue, ons moet nie vra om verkies te word tot posisies van verantwoordelikheid omdat ons vroue is nie, maar omdat ons bekwame lede van ons samelewings is om daardie posisies te beklee," het sy benadruk.

Nandi-Ndaitwah se nuwe kabinet wemel van vroue. Sy het ‘n vrou, Lucia Witbooi as haar adjunkpresident, gekies. As eerste minister het sy die oudsekretaris van die Swapo-jeugliga, dr. Elijah Ngurare, aangewys, met sy adjunk Natangwe Ithete wat ook die nuwe minister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie is.

Ander vroue in wie die president haar vertroue geplaas het om ministeries te lei is die ministers van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Lucia Iipumbu; internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi met haar adjunk Jenelly Matundu; finansies en maatskaplike toelaebestuur, Erica Shafudah; onderwys, innovasie, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp; gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao; die omgewing en toerisme, Indileni Daniel; inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus en geslagsgelykheid en kinderwelsyn Emma Kantema en haar adjunk Linda Bayoli.

Die veteraan Frans Kapofi is teruggeroep en weer as minister van verdediging en veteranesake aangestel met sy adjunk Charles Mubita. Die nuwe minister van werke en vervoer is Veikko Nekundi, James Sankwasa lei nou die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, Fillemon Wise Emmanuel die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge en die akademikus, dr. Mac-Albert Hengari staan aan stuur van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming.

Ander adjunkministers is Dino Balloti in die onderwysministerie en Gaudentia Kröhne in die ministerie van nywerheidsontwikkeling, myne en energie.

Festus Mbandeka bly die prokureur-generaal en dr. Kaire Mbuende is die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie.

Kommentaar

Republikein 2025-03-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer