CONSTR
CONSTR

Nuwe minimumlone geld vir boubedryf

Verbetering van werkstoestande
Die regering het 'n lys van minimumlone vir werkers in die konstruksiebedryf in die Staatskoerant gepubliseer.
Jemima Beukes
Die regering het 'n nuwe lys van minimumlonoe vir werkers in die boubedryf in die Staatskoerant aangekondig. Dit sluit onder meer in dat 'n veiligheidswag N$140,91 vir 'n skof van 12 uur moet verdien, 'n baksteenmaker N$24,39 per uur en 'n arbeider se minimumloon N$18,72 per uur moet wees.

Dit volgens 'n kollektiewe ooreenkoms tussen die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, die Federasie vir die Konstruksiebedrywe van Namibië (CIF) en die Metaal- en Verwante Werkersunie van Namibië (Manwu).

Die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) se president Mahongora Kavihua, het die stap verwelkom, maar gemaan dit is belangrik dat die regering die implementering daarvan toepas om die verbetering van werkstoestande te verbeter.

"Dit lyk baie beter as die nasionale minimumloon. Die kommer bly die implementering en dat daaraan voldoen word, dit is die belangrikste kwessie waarmee ons sukkel. Die swakhede van die inspekteurs. As ons nie voldoende meganismes het om te verseker daar word hieraan voldoen nie, dan gaan dit moeilik wees om die ooreenkomste wat in plek is toe te pas. Dit is nie goed vir ons werkers nie. Ons moet verseker dat die konstruksiebedryf ge'Namibië'seer word. Ons moet daarvan wegbeweeg om konstruksietenders aan buitelanders gee en verseker dat die kwessie van nakoming 'n vereiste word om 'n tender te kry. Die private beleggings moet ons sokkies optrek om te verseker Namibiërs het 'n aandeel in alle konstruksiemaatskappye om te verseker dat die hulpbronne in die ekonomie sirkuleer," het hy gesê.

Bärbel Kirchner, die CIF se uitvoerende hoof het by navraag gesê die konstruksiebedryf het vir jare suksesvol die minimumloon betaalbaar sowel as minimum werkstoestande onderhandel.

"Ons voel dit is belangrik dat die toestande van die onderskeie sektore in oorweging gebring word. Die konstruksiebedryf is baie anders en lone en werkgewerstoestande moet geskik en in lyn met werkvereistes wees. Moet die intreeloon dieselfde vir 'n huis- of plaaswerker of 'n arbeider in die boubedryf of 'n veiligheidswag wees? Hulle werk almal onder verskillende toestande en ek dink nie dit word met 'n nasionale minimumloon in ag geneem nie," het Kirchner gesê.

Volgens haar is die implementeringsdatum van die ooreenkoms die datum waarop dit afgekondig is, dit wil sê 6 Junie 2024. Dit is vir twee jaar van krag. Kirchner sê met die afkondiging van die kollektiewe ooreenkoms word die voorwaardes van die ooreenkoms na alle werkgewers in die konstruksiesektor gestuur.

Volgens die jongste aankondiging moet 'n halfgeskoolde verwer N$21,44 per uur en 'n geskoolde verwer N$29,98 per uur verdien; 'n halfgeskoolde persoon wat matte of teels lê N$23,26 per uur (N$33,20); loodgieter N$24,94 per uur (N$37,80); elektrisiën N$27,30 (N$39,52); sweiser N$23,54 per uur; skrynwerker N$28,58 (N$44.40) en 'n messelaar/ pleisteraar N$24,66 (N$37.81).

Die minimum wegleeftoelaag word uitgewerk op 12% van die werker se uurlikse loon vir die volle duur van die ooreenkoms en ingesluit enige oortyd of werk op 'n Sondag.

Werkgewers moet verblyf verskaf wat voldoen aan algemene aanvaarbare standaarde. Dit sluit in 'n minimum van 'n tent van goeie kwaliteit vir korttermyn kontrakte, sowel as toiletgeriewe en toegang tot water.

"Die verdeling van die 12% is soos volg: 50% (6%) vir kos en 50% (6%) vir die ongerief om van die huis af weg te wees. Reis na en van

die tuisbasis wat langer as drie ure se ry per dag is, moet vergoed word deur 'n toelaag gelykstaande aan 50% van die uurlikse loon van die werker omdat dit die tyd oorskry wat bestee word om te reis. Om na en van die huis te reis moet verskaf word en weerstoestande in ag neem."

Die ooreenkoms verwys ook na 'n dienstoelaag wat aan elke werker betaal moet word gelykstaande aan 150 ure van sy of haar loon en moet betaal word as deel van vergoeding vir Desember. Dit kan aan die einde van die maand betaal word aan 'n werker wat nie op verlof gaan nie of dan op die laaste werksdag van dié wat Desember op verlof gaan. Dié toelaag word pro rata bereken vir elke maand wat die werker voltyds in diens vir die spesifieke jaar was.

Werkers wat afgelê is en weer by dieselfde werkgewer binne ses maande in diens geneem word, sal dieselfde loon kry as wat hulle voor hul aflegging ontvang het.

Die betrokke partye het ook ooreengekom dat alle werkgewers, of hulle reeds die minimumlone betaal al dan nie, moet aansoek doen vir lidmaatskap by die Namibiese Bouwerkerspensioenfonds (NBWPF), tensy die werkgewer pensioen- of aftreevoordele vir dieselfde of beter voordele bied. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!