Ombudsman oor klag teen Geingob

Presidensie ontken ‘onbehoorlike optrede, magsmisbruik’
Die lasterlike bewerings teen pres. Hage Geingob oor sy Suid-Afrikaanse ampsgenoot se gesteelde miljoene, is "verregaande en ongelukkig", sê die presidensie.
Ronelle Rademeyer
Die ombudsman, mnr. Basilius Dyakugha, sal hierdie week sê of daar gronde is vir ’n ondersoek na pres. Hage Geingob se vermeende aandeel aan die beweerde toesmeerdery van die rooftog op president Cyril Ramaphosa se plaas in 2020 waarby vyf Namibiërs glo betrokke was.

Dit volg nadat die adjunkpresident van die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), Kalimbo Lipumpu, Donderdag ’n formele klag by Dyakugha se kantoor ingedien het waarin die ombudsman versoek word om binne sewe dae openbare stappe te doen rakende die aantygings teen Geingob.

“Ek bestudeer hul klagte om te bepaal of dit ’n ondersoek regverdig of nie. En ek sal my volgende week (vandeesweek) uitspreek oor die status van hul klagte,” het hy Vrydag by navraag aan Republikein gesê.

Intussen het die presidensie Vrydagmiddag in ’n verklaring gesê “die lasterlike bewerings en insinuasies wat oor pres. Geingob gemaak word, is verregaande en ongelukkig”.

“Daar is absoluut geen waarheid in die bewerings dat pres. Geingob sy amp onbehoorlik gebruik het om president Ramaphosa by te staan nie,” lui die verklaring deur sy perssekretaris, dr. Alfredo Hengari.

Intussen het Ramaphosa Vrydagmiddag in Kaapstad na afloop van die debat op sy begrotingsrede in die Suid-Afrikaanse parlement, aan joernaliste gesê hy gaan nie vrae oor die rooftog op sy plaas beantwoord nie aangesien die reg sy loop moet neem.

Hy het gesê hy is geadviseer om nie nou in die openbaar vrae oor die kwessie te beantwoord nie.

Op ’n vraag oor of hy met Geingob oor die kwessie in verbinding was, het Ramaphosa gesê hy is “op blitsbel met die presidente in SADC”.

Die voormalige Suid-Afrikaanse spioenbaas, Arthur Fraser, wat op 1 Junie klagte van onder meer geldwassery en regsverydeling teen Ramaphosa ingedien het, voer aan laasgenoemde het Geingob gevra om te help met die inhegtenisneming van die verdagte, Imanuwela David (37), in Namibië.

Hy was na bewering die meesterbrein in die beplanning en uitvoering van die rooftog op 9 Februarie 2020 op Ramaphosa se plaas Phala Phala in Limpopo toe US$4 miljoen se US$100-note na bewering in ’n rusbank versteek was, gesteel is.

David het vier maande later op 12 Junie 2020 die land onwettig binnegekom deur by Noordoewer met ’n kano oor die Oranjerivier te roei.

Volgens die presidensie is dit die grondwetlike en statutêre taak van die Namibiese polisie om verdagtes in hegtenis te neem en is die besonderhede van David se inhegtenisneming op 14 Junie 2020 in Windhoek “deel van die openbare rekord”.

“Die presidensie vind die polities gemotiveerde uitsprake deur sommige politieke leiers in Suid-Afrika dat ’n strafregtelike ondersoek gedoen moet word teen die president van die Republiek van Namibië, absurd en ronduit onsinnig,” sê Hengari in die verklaring met verwysing na die EFF (in Suid-Afrika) en NEFF se eise.

Met verwysing na Ramaphosa se vermeende oproep aan sy Namibiese eweknie, sê die presidensie Geingob skakel met ander staatshoofde oor “amptelike aangeleenthede, binne gevestigde diplomatieke protokolle, in ooreenstemming met die grondwetlike bevoegdhede van die president en op die voorskrifte van internasionale praktyke oor wedersydse samewerking tussen staatshoofde en regeringshoofde”.

KAAPSE ONDERWÊRELD

GONS GLODavid het glo ná die rooftog op Phala Phala mense in die Kaapse onderwêreld gevra om hom te beskerm teen diegene wat die gesteelde geld wou terughê.

TimesLIVE berig daar is in 2020 openlik onder mense in die onderwêreld in Kaapstad oor die voorval gepraat nadat David daar opgedaag en links en regs begin geld uitgee het.

David, wat in die Omusatistreek grootgeword en later na Suid-Afrika verhuis het waar hy burgerskap bekom het, het luidens die berig glo die hulp van prominente figure in die Kaapstadse onderwêreld gevra om hom te beskerm teen diegene wat die gesteelde kontant probeer terugkry het.

’n Hooggeplaaste in regeringskringe het dit aan TimesLIVE bevestig.

Twee gesaghebbende bronne oor die Kaapstadse onderwêreld het aan dié aanlyn koerant gesê toe David in die Moederstad aankom, het hy groot bedrae begin bestee by ’n nagklub wat besit word deur die seun van ’n prominente figuur.

Die berig lui: “Hierdie karakter (David) het op die toneel begin verskyn en luukse motors bestuur, in Kampsbaai gewoon, daardie lewe geleef, daardie Instagram-tipe lewe, soos hierdie Puff Daddy-soort karakter.”

Hy het volgens TimeLIVE se bronne beweer hy is ’n diamanthandelaar met verbintenisse in Namibië en Angola.

Luidens dié berig bevind David se vermeende makkers, die Namibiërs Urrbanus Lomboleni Shaumbwako, Petrus Fikeipo Muhekeni, Erkki Shikongo en Petrus Afrikaner, hulle steeds in Kaapstad.

Die bewering is dat David Namibië vier maande ná die rooftog ongesiens probeer binnekom het aangesien dinge in Kaapstad vir hom te warm geword het.

Bronne in misdaadintelligensie in Suid-Afrika het die Namibiese polisie glo laat weet hy is op pad.

Hy is op 14 Junie 2020 in hegtenis geneem en in November 2021 na Suid-Afrika gedeporteer nadat sy verhoor op klagte dat hy immigrasie- en doeane- en aksynswetgewing oortree het, afgehandel is.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!