CLAMPDOWN: PDM lawmaker Vipuakuje Muharukua. PHOTO: Contributed
CLAMPDOWN: PDM lawmaker Vipuakuje Muharukua. PHOTO: Contributed

Parlementslid vra polisiëring vir sosiale media

Moet haatspraak, fopnuus en kuberafknouery beperk
Voorvalle van kuberafknouery en haatspraak neem glo die afgelope tyd in Namibië toe, met 'n aantal lastersake wat in die hof gedraai het.
Tanja Bause
Mathias Haufiku - Die Popular Democratic Movement (PDM)-parlementslid Vipuakuje Muharukua wil ’n wet hê wat vryheid van spraak op sosiale media sal polisieer.

Muharukua het verlede week in die Nasionale Vergadering gepraat en gesê sy voorstel het ten doel om haatspraak, waninligting en kuberafknouery op sosiale media te bekamp.

“Die vestiging van ’n omvattende regulatoriese raamwerk vir sosiale media is noodsaaklik vir Namibië in hierdie digitale era. Dit sal ’n balans skep tussen vryheid van uitdrukking en regte op privaatheid, die benutting van die wet op toegang tot inligting en die implementering van meganismes om haatspraak, fopnuus en kuberafknouery hok te slaan, ” het Muharukua gesê.

Van die gewildste sosialemediaplatforms in Namibië sluit in Facebook, X (voorheen Twitter), Instagram, WhatsApp en TikTok.

As Muharukua sy sin kry sal daar van sosialemediaplatforms – wat hul dienste in Namibië wil lewer – vereis word om robuuste inhoudmodereringsbeleide aan te neem, versterk deur deursigtige verslagdoeningsmeganismes en vinnige reaksies op gevalle wat aangemeld word.

“Boonop sal vennootskappe met wetstoepassingsagentskappe en relevante belanghebbendes die doeltreffendheid van die bekamping van hierdie digitale uitdagings verbeter in die era waar Namibië in die vierde industriële revolusie inbeweeg,” het hy gesê.

Afsluitings

Sy voorstel kom maande nadat die kubersekuriteitsmaatskappy Surfshark – wat in Nederland gebaseer is – glo aangekondig het dat hy 42 nuwe internetonderbrekings wêreldwyd aangeteken het, waarvan nege in Afrika plaasgevind het.

Ses lande – Ethiopië, Guinee, Mauritanië, Senegal, Soedan en Tanzanië – was verantwoordelik vir daardie nege onderbrekings. Hierdie afgedwonge internetperke binne hul gebied het gedurende die eerste helfte van 2023 plaasgevind.

Muharukua het gesê die nadelige impak van sosiale media hou ’n beduidende bedreiging in vir maatskaplike harmonie en individuele welstand.

Regsbeskerming

Muharukua, ’n prokureur, is van mening diegene wat nie siviele regsgedinge kan bekostig nie, het nie genoegsame regshulpbronne nie.

“Daar is ’n hulpmiddel wat geaffekteerde individue tans kan gebruik wanneer hul reputasie aangetas is en hulle van hul waardigheid op sosiale media gestroop word deur afknouery, haatspraak, viktimisasie, ensovoorts. Ons moet egter in gedagte hou wanneer hul grondwetlike regte nie effektief beskerm word nie, is die regsgeding, wat ’n siviele geding is, beide omslagtig en duur vir die gemiddelde Namibiër om te onderneem,” het hy gesê.

Volgens die jong parlementariër sal ’n regulerende raamwerk vir sosiale media ’n balans tussen vryheid van uitdrukking en regte op privaatheid bied.

Sy voorstel kan meer ellende beteken vir tegnologiereuse wat sosialemediaplatforms bestuur wat reeds onder druk is van regerings wat vryheid van spraak wil reguleer, met baie wat beweer verhoogde regulering van sosiale media kan hul sakemodelle ontspoor.

Namibië se hoofpyn

Voorvalle van kuberafknouery en haatspraak neem die afgelope tyd in Namibië toe, met ’n aantal lastersake wat in die hof gedraai het.

Net verlede jaar het die presidentsvrou, Monica Geingos, ’n lastersaak teen die onderwyser Abed Hishoono aanhangig gemaak omdat hy valse beskuldigings teen haar gemaak het in ’n video wat wyd versprei is.

Hishoono het beweer Geingos was betrokke by die ondergang van Air Namibia deur haar sakebelange in WestAir en dat sy in ’n verhouding met die Fishrot-beskuldigde, James Hatuikulipi, is. Hy het ook beweer dat Geingos ’n kind met Hatuikulipi verwek het en dat hy Geingos as ’n vrou aan president Hage Geingob “verskaf” het.

Die hof het in haar guns beslis en Hishoono beveel om sy aantygings terug te trek, om verskoning te vra en daarna N$250 000 as vergoeding te betaal.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!