Pres. Hage Geingob en sy Suid-Afrikaanse ampsgenoot, pres. Cyril Ramaphosa, tydens 'n vroeëre besoek van laasgenoemde aan Namibië. Foto Namibian Presidency
Pres. Hage Geingob en sy Suid-Afrikaanse ampsgenoot, pres. Cyril Ramaphosa, tydens 'n vroeëre besoek van laasgenoemde aan Namibië. Foto Namibian Presidency

Phala Phala-sage verdiep

Los die president uit, sê polisiehoof
Hoofredaksie
Volgens nuwe inligting wat in die Phala Phala- of Farmgate-skandaal aan die lig gekom het, het president Hage Geingob privaat met die Suid-Afrikaanse president se gesant en hoof van sekuriteit, mnre. Bejani Chauke en Wally Rhoode, vergader.

Die twee is met ‘n Namibiese polisiehelikopter na Windhoek gevlieg as deel van die soektog na Namibiese verdagtes wat by president Cyril Ramaphosa se private plaas ingebreek en na bewering N$13 miljoen in kontant gesteel het.

Beide Geingob en Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hulle die skandaal probeer toesmeer het en staatshulpbronne misbruik het in ‘n rooftog waarvoor geen formele klagte in enige van die lande aanhangig gemaak is nie.

Albei staatshoofde het ontken dat hulle enige wette oortree het.

Rhoode, hoof van die Suid-Afrikaanse presidensiële beskermingsdienste, het in beëdigde verklarings wat by die kantoor van die Suid-Afrikaanse staatsaanklaer ingedien is, bevestig dat hy en Chauke die Namibiese president in Junie 2020 ontmoet het – op die piek van ondersoeke na die vermiste miljoene.

In die beëdigde verklarings, wat ons susterkoerant Namibian Sun onder oë gehad het, het Rhoode bevestig hy het met ‘n Namibiese polisiehelikopter na Windhoek gereis ná ‘n vergadering in niemandsland naby die Nakop-grenspos.

Twee weke ná die vergadering is die hoofverdagte in die rooftog, mnr. Imanuwela David, in Windhoek in hegtenis geneem.

’n Intelligensieverslag deur die Namibiese polisie het bevestig dat David breedvoerig oor die Phala Phala-rooftog ondervra is en besonderhede van die diefstal is bevestig.

Die Bank of Namibia se Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) het ook sy eie ondersoek na die aangeleentheid gedoen en sy bevindinge, wat nooit openbaar gemaak is nie, aan die relevante owerhede oorhandig.

‘GEEN WAARHEID’

David is slegs van ‘n misdryf aangekla omdat hy Namibië onwettig binnegekom het, waarvoor hy ‘n boete moes betaal voordat hy terug na Suid-Afrika gedeporteer is – waar Ramaphosa se mense hom aangekeer en verder oor die plaasroof ondervra het.

Namibian Sun, met verwysing na ‘n klankopname van die ondervraging, het in Junie berig dat David beken het dat hy die plaas saam met ander Namibiese mans beroof en met US$800 000 (N$13 miljoen) weggekom het.

In ‘n stotterende verklaring op 10 Junie het die Namibiese presidensie gesê Geingob se hulp aan Ramaphosa dui nie op misdadige optrede nie. Terwyl daar algemeen geglo is dat Ramaphosa slegs telefonies Geingob se hulp gevra het, het Rhoode se verklaring aan die staatsaanklaer bevestig dat die Suid-Afrikaanse president vir Chauke en Rhoode gestuur het om die Namibiese president persoonlik te ontmoet.

Die Namibiese presidensie het nie hierdie inligting in sy ontkennende verklaring van vyf bladsye ingesluit nie.

“Daar steek absoluut geen waarheid in die bewerings dat president Geingob sy amp misbruik het om president Ramaphosa te help nie,” het dit destyds gelui.

VERDEDIGING

Na Rhoode dié bom laat bars het, het polisiehoof Sebastian Ndeitunga tot Geingob se verdediging gekom en gesê die president moet geensins met die Phala Phala-sage verbind word nie, aangesien hy nie by die operasionele aangeleenthede van die polisiemag betrokke is nie.

Die Namibiese polisie het hand aan hand met sy eweknieë in die Suider-Afrikaanse gebied gewerk, en daarom het hy sy helikopter na niemandsland gestuur om moontlike misdaadvoorvalle te ondersoek, het Ndeitunga gesê.

“Ons het na niemandsland gegaan, nou praat hulle van Hage. Hierdie mense moet Hage uitlos. Hulle moet die president uitlos; ons is nie polities betrokke nie.”

Die reis is genoodsaak deur die samewerking tussen polisiemagte in Suider-Afrika, het hy bygevoeg.

“Ons het na die ander kant toe gegaan sodat hulle vir ons kan sê ons werk saam.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!