President soek ’n op-en-wakker kabinet

Vergader voortaan elke Dinsdag
Netumbo Nandi-Ndaitwah beoog dat Swapo se verkiesingsmanifes spoedig geïmplementeer moet word.
Augetto Graig
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het stiptelik om negeuur gisteroggend haar toespraak aan die eerste vergadering van Namibië se nuwe kabinet gelewer.

Voortaan sal die kabinet elke Dinsdag om 09:00 vergader, met haarself as voorsitter, of enige kabinetslid wat sy daarvoor afvaardig.

Die nuwe minister van die vergrote onderwysministerie, wat nou beide hoër- en laer-onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur insluit, Sanet Steenkamp, en haar adjunk, Dino Ballotti, het reeds vroeg hul sitplekke in die kabinetsaal ingeneem.

Die nuwe minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, het laat opgedaag.

Teen daardie tyd was Nandi-Ndaitwah reeds besig om die grondslag vir haar boodskap te lê.

“Julle het verpligtinge gemaak om ons mense onder hierdie administrasie te dien,” het sy aan die 14 kabinetsministers gesê.

In die vorige administrasie was daar 21, van wie net drie – Emma Theofelus, Frans Kapofi en Lucia Iipumbu – oorgebly het.

“Julle optrede moet onberispelik en eties wees. Julle moet voorbeeldige en hardwerkende dienaars van die Namibiese mense wees.

“Die Namibiese mense het deur hul stemme gepraat. Sodoende doen hulle ’n beroep op ons om dienste doeltreffend te lewer, op grond van die beloftes wat ons in Swapo se verkiesingsmanifes vir die jare 2025-’30 gemaak het.

“Ons mense soek verbetering in hul lewensomstandighede,” sê sy.

Daar moet na die manifes se implementeringsplan verwys word vir die volgende vyf jaar, om die kontrak tussen die president en die mense van Namibië te handhaaf.

“Ek het geen rede om daarvan af te wyk nie,” sê Nandi-Ndaitwah.

Sy sal die uitvoering van elke projek monitor en prestasie sal gereeld geëvalueer word, met die eerste prestasie-evaluering wat binne drie maande sal geskiet.

“Namibiërs het toegang tot verbeterde dienste in welsyn en die ekonomie nodig. Die Namibiese mense, veral die jeug en insluitend jong vroue, het werksgeleenthede nodig, hulle benodig behuising en ons klein- en mediumgrootte-ondernemings het hulp nodig om mee te ding, die ekonomie te laat groei en werk te skep.

“Die private sektor het ’n omgewing nodig wat hom in staat stel om te groei. Ons onderwysstelsel moet aangepas word om ons jongmense te bemagtig.

“Ons ontwikkeling moet deur bewyse en navorsing ondersteun word. Ons gesondheidsektor moet reageer op die groeiende behoeftes van ons burgers," het Nandi-Ndaitwah gesê.

Sy voeg by dat “elke Namibiër die beste gesondheidsdienste beskikbaar verdien, ongeag waar hulle in die land is”.

Nandi-Ndaitwah streef daarna dat die landbousektor kos vir voedselsekerheid sal verskaf, die mynboubedryf omskep word in ’n katalisator vir waardetoevoeging en werkskepping, en dat die ekonomie behoorlik bestuur word om die mense beter te dien.

“Dit is nie nou die tyd vir selfvoldaanheid of uitstel nie. Besluite wat geneem word, moet sonder versuim geïmplementeer word,” voer sy aan.

“Ek hou nie van die woorde dat die werk aan die gang is nie (work in progress), want in die meeste gevalle beteken dit niks is nog gedoen nie,” sê sy.

Nandi-Ndaitwah het klem daarop gelê dat dit nie meer sake soos gewoonlik sal wees nie.

“Ons het ’n dringende plig om die mandaat wat die Namibiese mense aan ons gegee het, uit te voer.

“Ek doen ’n beroep op julle om die Namibiese mense met duidelikheid, integriteit en eerlikheid te dien, sonder versuim en na die beste van jou vermoë,” het sy gesê.

Almal moet gelyk behandel word, burgers, beleggers en besoekers moet tydige dienslewering geniet, het sy benadruk.

Die president soek beslissende optrede met die fokus op die lewering van tasbare en blywende verandering in die sosioëkonomiese omstandighede van Namibiërs.

“Ons is te min om arm te wees,” het sy gesê.

Nandi-Ndaitwah sê haar kabinet moet vasbeslote wees om korrupsie doeltreffend te beveg en dit in alle vorme uit die Namibiese samelewing uit te roei.

Wetswysigings moet teen Mei in plek wees om ministers meer beheer te gee oor amptenare vir wie hulle verantwoordelik is.

“Kom ons verseker dat alle staatsamptenare in ons kantore, ministeries en agentskappe te alle tye hoë etiese standaarde handhaaf,” sê sy.

Die president eis verder dat ministeries toeganklik moet wees, om saam met die private sektor, gemeenskappe, die publiek en ander belanghebbendes, insluitend die media, te kan werk.

Sy sê die media is die vierde arm van die staat en moet verantwoordelik en objektief bydra tot die ontwikkeling van die land.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer