Regering koop meer plaaslik
Bestee N$5,1 miljard plaaslik in ses jaar
Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië sê sy kapasiteit groei en mylpale word voortdurend bereik.
Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) het sedert sy totstandkoming in 2017 staatsaankope vanaf plaaslike ondernemings vanaf N$111,3 miljoen in die 2017-’18-boekjaar tot meer as N$2,2 miljard in 2022-’23 laat groei.
Oor die afgelope ses boekjare is altesaam N$6,77 miljard ingevolge die Wet op Openbare Verkryging van 2015 bestee, insluitend N$5,1 miljard wat aan plaaslike ondernemings toegeken is.
Nog ’n mylpaal is die vermindering in die gebruik van direkte aankope waar net uitverkose ondernemings om kontrakte meeding.
Die CPBN het in sy eerste jaar direkte aankope ter waarde van N$461 miljoen goedgekeur, meer as N$1 miljard in 2018-’19, N$982 miljoen in 2019-’20, meer as N$1 miljard in 2020-’21 en N$3,1 miljard tydens die Covid-19-pandemie in 2021-’22. In 2022-’23 het die bedrag skerp tot N$389 miljoen gedaal.
Die CPBN bestuur alle staatsaankope hoër as die waarde van spesifieke drempels, ingevolge die openbare verkrygingsregulasies wat in die Staatskoerant no. 6255 van 1 Maart 2017 gepubliseer is.
Standaard tenderdokumente moet by die raad gekoop word en die pryse dui hierdie drempels aan, met kontrakte van minder as ’n miljoen Namibiese dollar – waarvoor die dokumente N$100 kos.
Vir kontrakte tussen N$1 miljoen en N$20 miljoen kos die dokumente N$300, en vir die kontrakte van meer as N$2 miljard is dit N$6 000 per stel.
Sibolile Sinvula, die CPBN se bestuurder van verkrygingsadministrasie, het Vrydag hierdie syfers met die media gedeel en bygevoeg dat die raad in 2017-’18 net ’n enkele kontrak toegeken het, maar in die mees onlangse boekjaar is 21 kontrakte gesluit.
“Dui dit nie op groei nie?” vra hy.
Die CPBN se woordvoerder, Johanna Kambala, lig ook uit dat die raad aanvanklik slegs vyf werknemers in diens gehad het, en tans is 41 Namibiërs voltyds aangestel.
Volgens Sinvula moet aandeelhouers eienaarskap van 100% plaaslike ondernemings bewys deur Namibiese identiteitskaartjies te toon.
“Die vermindering van die waarde van direkte aankope beteken een ding; dat meer verkrygings deur mededingende tenders gedoen word,” sê hy.
Goedere, bouwerk, konsultasie en dienste – soos sekuriteit en skoonmaakkontrakte – word oorweeg en toegeken, brei hy uit, met goederekontrakte wat die meerderheid uitmaak – ’n toename in boukontrakte veral vir padbou – en konsultasiekontrakte wat in die minderheid is.
“Vir amper 200 openbare instansies en filiale wys dit dat daar kapasiteit is en danksy toegewyde werknemers word tydsberekening verbeter.
“Onlangs was daar baie min uitsonderings (van toepassing op die CPBN se beheer oor staatsaankope),” het hy bygevoeg.
Die waarnemende voorsitter en administratiewe hoof van die raad, Amon Ngavetene, het gesê: “Die raad het sy huis in orde gekry.” Vertragings in die tenderproses word nou meestal veroorsaak deur onetiese gedrag van tenderaars – wat die verifikasie van ingediende dokumente vereis, sê hy.
Nog ’n struikelblok is die onwilligheid van staatsinstansies om skuldige ondernemings by die hersieningsraad aan te meld, sê hy.
Net die hersieningsraad kan ondernemings se deelname in openbare verkryging opskort of verbied.
Esther Moonde en Alina Hekandjo van die verkrygingsbeleideenheid in die ministerie van finansies sê daar is onlangs opdrag gegee om ondernemings wat nie in terme van regeringskontrakte presteer nie, aan die hersieningsraad te rapporteer. Deur die ministerie se eprocurement.gov.na webwerf kan belanghebbers ’n magdom inligting oor staatsaankope in Namibië opsoek, insluitend die nuutste geleenthede en toekennings.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie