Namibië se aangewese staatspresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah. Foto @VPSWAPO
Namibië se aangewese staatspresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah. Foto @VPSWAPO

Regering moet Swapo se manifes deurvoer

Verpligtinge vanaf 1 April van toepassing
Die aangewese staatspresident word in Swapo se manifes aangehaal, en sê die doel van die plan is ''n gedeelde, gebalanseerde welvaart' vir die Namibiese mense.
Augetto Graig
Die kabinet het tydens sy eerste sitting vir 2025, op 11 Februarie, besluit dat die regering Swapo se verkiesingsmanifes vanaf 1 April sal implementeer.

Die manifes van 44 bladsye bevat verpligtinge om eenheid in diversiteit te bevorder deur natuurlike hulpbronverwerking en jeugbemagtiging vir maatskaplike ontwikkeling.

Die aangewese staatspresident Netumbo Nandi-Ndaitwah word in die dokument aangehaal, wat sê die doel van die plan is “’n gedeelde, gebalanseerde welvaart” vir die Namibiese mense.

Die manifes brei uit oor planne vir ekonomiese groei, landbou en water, energie en infrastruktuur, sport, jeugbemagtiging, gehalte-onderwys, gesondheid en welvaart, grond, behuising en sanitasie, die staatsdiens, internasionale samewerking en die monitering en evaluering van die vordering in die uitvoering van verwante opdragte.

Swapo vra spesifiek vir ’n volhoubare begroting en beheer oor nasionale skuld, beter belastinginvordering en meer ondersteuning vir die informele, private en openbare sektore van die ekonomie.

Groen industrialisasie en die kreatiewe bedrywe geniet spesifieke voorkeur. Die toerismebedryf moet meer deelname van landelike gemeenskappe toon en ’n geografiese meesterplan sal vir toerisme ontwikkel word.



JEUG

Projekte vir massawerkskepping vir die jeug sal bevorder word, tesame met ander ingrypings, om meer as 250 500 werksgeleenthede vir die jeug oor die volgende vyf jaar te skep teen ’n belegging van N$85,7 miljard.

Die ontwikkeling van sportinfrastruktuur en sportloopbaanbevordering moet byna 30 000 werksgeleenthede teen N$6,9 miljard skep.

Nog 52 000 werksgeleenthede moet geskep word deur ’n belegging van N$10 miljard in vakleerlingskappe en die nasionale jeugfonds, terwyl N$17,5 miljard vir die diens van massagrond en laekostebehuising nagenoeg 60 000 werksgeleenthede moet verskaf.

Werksgeleenthede vir nagenoeg 32 800 jong mense in die onderwys, kuns en kreatiewe bedrywe moet met N$26,3 miljard geskep word.

Landbou ontvang N$10 miljard vir invoervervanging, om voedsel te produseer, groenskemas te beman, te boer, en om saad en kunsmis te subsidieer en sowat 52 000 werksgeleenthede vir jongmense te skep.

Nog 30 000 jongmense moet werk om universele gesondheidsdoelwitte ’n werklikheid te maak, hospitale op te gradeer, mediese voorraad aan te skaf en elektriese stelsels te vestig, teen ’n staatskoste van N$15 miljard.

Altesaam N$500 miljoen sal aan landbouproduksie toegeken word, ’n nasionale landbouversekeringskema sal gestig word en nuwe voerkrale en abattoirs moet gebou word.



MYNBOU

Met die oog op mynbou moet die regering uraaneksplorasie en die vestiging van meer goudmyne prioritiseer. Die verwerking van kritieke minerale is ’n fokuspunt.

Swapo beplan ook om drastiese stappe te doen wat sal meebring dat meer plaaslike minerale hulpbronne in Namibiese hande geplaas word.

Hy wil dit bereik deur die helfte van alle nuwe eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL’s) aan Epangelo Mining – Namibië se staatsbeheerde mynmaatskappy – toe te ken.

As deel van sy strategie wil die party ’n wet op mineraalverwerking implemeteer en ’n nasionale goudreserwe vestig. Dit sal glo verseker dat Namibiërs eerste voordeel daaruit trek.

Swapo wil ook fokus op waardetoevoeging vir kritieke minerale met bilaterale ooreenkomste om ’n streeksentrum vir verwerking teen Maart 2026 te vestig.

Die nuwe wet om die olie- en gasbedryf te bestuur en om plaaslike eienaarskap en deelname af te dwing, moet dringend aanvaar word.

Swapo soek ’n aansienlike en regverdige aandeel vir Namibiërs, luidens die manifes. Namcor ontvang meer geld, voorrade en dienste aan mynbou moet deur Namibiërs verskaf word, en ’n gedeelte van die hulpbronne sal vir maatskaplike ontwikkeling opsy gesit word.

Die konsepwet vir ’n soewereine welvaartfonds moet aanvaar word.



KRAG

Wat elektrisiteit betref, beoog Swapo die vestiging van 900 MW-opwekkingsvermoë teen die 2027-’28-boekjaar.

Die Baynes-hidrokragprojek word uitgesonder, terwyl private kragopwekking bevorder sal word. Kenners in kernkrag sal opgelei word, terwyl die regering ook groenwaterstofproduksie sal ondersteun.



LUGHAWENS EN HAWENS

Walvisbaai en Lüderitz se hawens sal uitgebrei word, die Hosea Kutako Internasionale Lughawe, en Katima Mulilo en Rundu-lughawens sal opgegradeer word.

Die haalbaarheid van opgraderings by lughawens op Keetmanshoop en Lüderitz sal ondersoek word.

Swapo wil ook hê die Air Namibia-kwessie moet weer hersien, en dat die spoornetwerke van Grootfontein na Rundu en Katima Mulilo verleng moet word. Die spoorlyn moet ook vanaf Gobabis na Mamuno in Botswana verbind word.



SPORT

Wat sport betref, sal die Onafhanklikheidstadion opgegradeer word, terwyl sportgeriewe in elke kiesafdeling gebou moet word.

Elke streek sal ’n sokkerveld van ’n hoë standaard moet kry om Afrika-wedstryde te akkommodeer en vyf groter sokkerstadions moet landswyd gebou word. Die fonds vir sportontwikkeling moet in werking gestel word.



GROND, BEHUISING

Die voorstelle van die tweede grondkonferensie moet geïmplementeer word, mense wat in padreserwes wegkwyn moet dringend gehelp word, plaaslike owerhede se grense moet uitgebrei word en die regering moet 10 000 erwe oor die komende vyf jaar diens, spesifiek vir Build Together en Shack Dwellers Federation (SDFN) huise, lui die manifes.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer