Rooi merke op ontleding van administrateurs

Kunene, Kavango-Wes verrassende presteerders
'n Tekort aan deursigtigheid en aanspreeklikheid is deur IPPR-navorsing oor plaaslike administrasie uitgewys.
Augetto Graig
Die armoedige streeksrade Kavango- Wes en Kunene tel onder die bestes in die land in terme van deursigtigheid en aanspreeklikheid, volgens navorsing gister bekendgestel deur die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR).

Ander presterende streeksrade in dié opsig sluit in Erongo, Oshana en Oshikoto. Wat dorpsrade betref, het Oshakati, Swakopmund, Walvisbaai en Windhoek uitgeblink.

Die navorser me. Kitty McGirr het by 32 streeksrade en dorpsrade oor die land heen ondersoek ingestel rakende hul vermoë om inligting te deel en om aanspreeklikheid te weerspieël.

Die swakste vertonings in die betrokke dorpsrade was Karasburg, Katima Mulilo, Mariental, Rundu, Outapi en Okahandja.

Onderaan die lys vir streekrade was Zambezi saam met sy eweknieë van Kavango-Oos en ||Kharas.

Volgens McGirr was die terugvoering van die betrokke rade so swak dat sy net nie ’n enkele ranglys kon opstel nie en dus is rade maar in drie kategorieë opgedeel: dié wat bogemiddeld gevaar het, die wat ondergemiddeld was en die swakste streek en dorpsrade.

Net vyf rade aan wie die IPPR se vraelyste gestuur is, het hierop geantwoord, sê sy.

Net vyf uit die 32 rade het ’n webwerf van hul eie, hoewel twee hiervan só lanklaas opgedateer is dat dit as sluimerend beskryf kan word. Nege van die rade het minstens hul eie nuusbriewe.

“E-regeringsdienste bestaan meestal nie, met Windhoek, Walvisbaai en Swakopmund as die uitsonderings,” sê sy. Afgesien van dié drietal bied geen van die ander rade ’n opsie om aanlyn vir dienste te betaal of om byvoorbeeld die stand van jou rekening op te soek nie.

Vier van die rade het geen teenwoordigheid op sosiale media nie, terwyl nog vier bloot in naam op sosiale media verskyn, sonder enige bruikbare inhoud op hul werwe.

Die beste voorbeeld word gestel deur Windhoek, Tsumeb, Walvisbaai en die Kunenestreek wat gereeld plasings doen en selfs hul raadsittings regstreeks uitsaai, wat inwoners baie waardeer, sê sy.

Gemeenskapsbetrokkenheid by die begrotingsproses is oor die algemeen teleurstellend, met min rade wat die agenda of notules van vergaderings met hul inwoners deur sosiale media deel.

Van ontwikkelingskomitees word nie gebruik gemaak nie, met die meerderheid wat nooit genoem word nie. Die Oshanastreek is ’n uitsondering.

GELDSAKE

As dit kom by finansiële vernuf is die prentjie duister, met geen van die betrokke rade wat ’n ongekwalifiseerde ouditmening kon kry nie, en almal se indiening van hul finansiële state by die ouditeur-generaal se kantoor was laat. Net vyf rade kon finansiële data met die IPPR deel, en net twee (Windhoek en Walvisbaai) het hul begroting en opsommings daarvan op sosiale media gedeel.

Opleiding in finansiële verslaggewing is dringend nodig, sê sy.

Op die gebied van dienslewering was daar vele mislukkings. Uitsonderinge was met betrekking tot Build Together programme, buigsame grondbesit, stedelike landbou en elektrifisering. Vennootskappe met private instansies was ook skaars, met Swakopmund se ooreenkoms met MTC as ’n uitsondering.

Agterstande in die lewering van behuising en dienste is algemeen, saam met wateronderbrekings. Hoë skuld verskuldig aan NamWater is wydverspreid.

Oor die algemeen is ’n hoë koers van personeelomset ook ’n groot probleem, en dra by tot die wydverspreide onvermoë om terugvoering te kan gee, sê sy. Agt rade wat sy geraadpleeg het, sit reeds lank sonder hoofbeamptes, finansiële hoofde of bestuurskomitees.

Politieke binnegevegte dra baie hiertoe by, veral in rade waar LPM oorheers of waar Swapo-raadslede nie samewerking gee nie, voeg sy by.

In terme van misdaad was omkopery en onwettige grondverkope die mees algemeen, met bedrog, magsmisbruik, onreëlmatighede met tenders en wanbesteding ook teenwoordig, vind die navorsing.

McGirr sê daar is ’n duidelike verband tussen deursigtigheid en aanspreeklikheid met ekonomiese ontwikkeling. Sy stel voor rade bou aanlyn teenwoordigheid en kry dringend ’n eie webwerf op die been en hou dit op datum.

Ander voorstelle sluit in ouditopleiding, betrokkenheid van inwoners by die begrotingsproses, verbeterde verspreiding van inligting en ontwikkeling van gediversifiseerde inkomstebronne.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!