Parlementslid en hoofsweep van die Landless People's Movement, mnr. Henny Seibeb. Foto facebook.com/henny.seibeb.75
Parlementslid en hoofsweep van die Landless People's Movement, mnr. Henny Seibeb. Foto facebook.com/henny.seibeb.75

Seibeb stel netwerk teen korrupsie voor

LPM-hoofsweep sê ACC is onbetroubaar
'n Parlementslid van die Landless People's Movement vra dat 'n lys van korrupte individue saamgestel word en dié individue geboikot word.
Augetto Graig
Parlementslid en hoofsweep van die Landless People's Movement (LPM), mnr. Henny Seibeb, doen ’n beroep op Namibiërs om self ’n netwerk teen korrupsie op die been te bring, om dié euwel doeltreffend te bekamp.

So ʼn netwerk bestaande uit burgers, prokureurs, privaat speurders, joernaliste, burgerlike organisasies, internasionale kenners en skenkers, is volgens hom die enigste manier om wydverspreide korrupsie in die land te beveg.

Volgens Seibeb is die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) ʼn onbetroubare instansie, terwyl die uitkomste van ondersoeke deur die regering rakende grootmaat-korrupsie, selde met die publiek gedeel word.

In sy toespraak verlede week waarin Seibeb die mosie ondersteun wat tans in die parlement gedebatteer word om verskeie regeringsprojekte te ondersoek, sê hy dat Namibië se politieke stelsel en Swapo se oorheersing daarvan, waarskynlik die pogings van teenkorrupsie-agentskappe belemmer.

Seibeb noem verskeie grootmaat-korrupsieskandale wat steeds in die howe beveg word.

Dit sluit in die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) se Avid Investments se verlies van N$30 miljoen, die Offshore Development Corporation (ODC) se beweerde korrupte belegging van N$100 miljoen met Great Triangle Investments, Ramatex se verlies van N$120 miljoen, GIPF se N$1,8 miljard Development Capital Portfolio--beleggings en NUTECH se beweerde omkopery met betrekking tot US$55,3 miljoen (N$990,5 miljoen).

Korrupsie in die privaat sektor dra ook by tot die finansiële skade wat Namibië ly, hoewel dit nog moeiliker is om die omvang daarvan te bepaal, sê hy.

Seibeb sê grootmaat-korrupsie in Namibië is hoogs waarskynlik, en lei tot morele verval en ondoeltreffende dienslewering.

Hy sê veral staatsondernemings is kwesbaar en dat die regering duidelike riglyne vir lede van bestuursrade moet implementeer.

“Staatsamptenare wat direksielede van openbare ondernemings is, moet onderwerp word aan streng reëls van openbaarmaking van private rykdom en potensiële botsing van belange, om etiese gedrag af te dwing en korrupsie te voorkom,” dring hy aan.

“’n Nuwe kultuur van aktivisme is nodig,” sê hy en, “ons moet boetie-kapitalisme en uitbuiting beveg.”

Seibeb sê: “Ons as die LPM doen dus ’n beroep op die skepping van ʼn burgerlike benadering om korrupsie en geregtigheid te bestuur deur die vestiging van ʼn teenkorrupsie-netwerk.”

Hy sê so ʼn netwerk moet ʼn bedreiging vir korrupte individue in die samelewing wees.

“Ons behoort ook ʼn lys van korrupte individue op te stel en daarmee die internasionale gemeenskap by ambassades in te lig, sodat hierdie mense nie internasionale reise mag onderneem of internasionale saketransaksies mag aangaan nie. Geteikende sanksies moet op hulle opgelê word,” dring hy aan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer