Sewe nuwe goewerneurs aangewys

Wyle Sam Nujoma se kleinseun aangestel
President Netumbo Nandi-Ndaitwah is op koers om haar nuwe regering spoedig in plek te stel.
Augetto Graig
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het Vrydag die pas volgehou waarteen sy haar nuwe regering in plek stel met die aanstelling van sewe nuwe streekgoewerneurs.

By Staatshuis is Verna Sinimbo as die nuwe goewerneur van die Kavango-Wesstreek ingesweer, asook Julius Hambyuka vir Kavango-Oos, Sacky Kathindi vir Oshikoto, Vipuakuje Muharukua vir die Kunenestreek, John ||Khmuseb vir Otjozondjupa, Riaan Charles McNab vir Hardap en Sam Shafiishuna Nujoma jr. vir die Khomasstreek.

Tydens haar aankondiging het Nandi-Ndaitwah gemaan dat enige gebrek aan die implementering van haar regering se beleide en programme nie geduld sal word nie.

“Ek wil ook nie hoor hoe die publiek kla oor kwessies waarvoor julle oplossings moet verskaf nie,” het sy gesê.

Verder het die president haar nuwe goewerneurs aangemoedig om saam met streekrade, plaaslike owerhede, tradisionele owerhede, kerke, sakelui, gemeenskapsleiers en ander belanghebbendes te werk om ’n positiewe bydrae tot streekontwikkeling te maak.

“Ek het julle uit baie ander ewe bekwame Namibiërs gekies omdat ek glo julle het die vermoëns om dienste doeltreffend aan ons mense te lewer,” het die president gesê.

Sinimbo het namens die nuwe goewerneurs gesê: “Ons spreek ons opregte waardering uit vir die vertroue wat u in ons stel om ons geliefde land te lei en veral die streke waar u ons aangestel het.”

Sinimbo vervang Sirkka Hausiku, wat haar pos as goewerneur verlaat het om as parlementslid by Namibië se agtste Nasionale Vergadering aan te sluit.

Die voormalige goewerneurs van die Kunene- en Hardapstreek, onderskeidelik Marius Sheya en Salomon April, is ook nou parlementslede en moes dus hul streekverbintenisse agterlaat.

Soortgelyk was James Uerikua die voormalige goewerneur van die Otjozondjupastreek tot hy onlangs by die parlement aangesluit het.

Daar is tans geen sekerheid oor die toekoms van Bonifatius Wakudumo, die voormalige goewerneur van die Kavango-Oosstreek, Penda ya Ndakolo, die voormalige goewerneur van Oshikoto, of Laura McLeod-Katjirua, die voormalige goewerneur van die Khomasstreek nie.

Khomas se nuwe goewerneur, naamgenoot en kleinseun van Namibië se stigterspresident, Sam Shafiishuna Nujoma jr., het ook die president bedank dat sy haar vertroue in hom geplaas het om dié streek te lei.

“Ek weet ons sal binnekort met die werk moet begin,” het hy gesê en bygevoeg dat ontwikkelingskwessies, insluitend grond en behuising, beslis prioriteite vir hom sal wees.

“Daar is ’n paar dinge waaraan ons reeds by die stadsraad werk en dit sal nou my plig wees om stukrag aan daardie kwessies op nasionale vlak te gee,” het hy bygevoeg.

Nujoma jr. is sedert 2020 ’n lid van Windhoek se stadsraad.

Die goewerneurs vir die oorblywende sewe streke is tans Aletta Fredericks vir ||Kharas, Neville Andre Itope vir Erongo, Erginus Endjala vir Omusati, Elia Irimari vir Oshana, Sebastian Ndeitunga vir Ohangwena, Lawrence Sampofu vir die Zambezistreek en Pijoo Nganate, die goewerneur van Omaheke. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer