Staatsbeheerde banke val nie onder BoN

Agribank, NamPost, DBN
Byna 'n dekade ná die ineenstorting van die SME Bank, word aanbevelings van die IMF wat daarop gemik is om die land se openbare banksektor teen swak prestasie en wanbestuur te beskerm, nog geëvalueer.
Henriette Lamprecht
Ogone Tlhage en Mathias Haufiku – Namibië gaan voort om sleutelvoorstelle van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) te systap wat ’n beroep op openbare banke doen om weg te beweeg van die huidige selfregulerende stelsel en om in die plek daarvan onder die toesig van die sentrale bank te val.

Die regering sê hy gaan nie aangejaag word om oor die pad vorentoe te besluit nie en sou daar ’n behoefte ontstaan om die bedrywighede te verander, dié veranderinge slegs ná deeglike evaluering sal plaasvind.

Die land se staatsbeheerde banke sluit in die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN), Agribank en NamPost-spaarbank wat tans nie deur die Bank of Namibia (BoN) gereguleer word nie.

Die IMF voel egter deur dié drie banke onder die wakende oog van die sentrale bank te hou, sal help om prestasie te verbeter en verseker dat openbare banke hul mandate uitvoer.

Beroepe is ook gedoen om mandate te herdefinieer in ’n poging om die teiken van markmislukkings en die benutting van private kapitaal te verbeter.

Dié voorstel is vervat in die IMF se evaluering van Namibië se finansiële stelsel in Maart 2018 en een waaroor die regering nog nie ’n besluit oor geneem het nie.

Diegene wat selfregulering ondersteun, sê egter die regering gaan nie sy ontwikkelingsdoelwitte behaal sou die drie banke aan die streng vereistes van die sentrale bank moet voldoen nie.

“Die regering erken die belangrikheid daarvan om die IMF-voorstelle deeglik te evalueer in ’n poging om die voorstelle se lewensvatbaarheid, toepaslikheid en volhoubaarheid binne die wetgewende raamwerk te bepaal. Dit is noodsaaklik om te beklemtoon die regering is aktief betrokke in die oorsigproses deur elke voorstel en die potensiële impak op die land te ondersoek,” sê die ministerie van finansies se woordvoerder, Wilson Shikoto.

Hy het bygevoeg dit is “noodsaaklik dat die regering die nodige tyd neem om die voorstelle deeglik te evalueer”.

“Die doel is om te verseker dat goed ingeligte besluite geneem word wat strategies veilig is en in ooreenstemming met die langtermynbelange van ons land en ons inwoners,” het hy gesê.

Namibiërs het tot dusver nie die beste herinneringe wat staatsbeheerde banke betref, veral ná die ineenstorting van die SME Bank in 2017 nie. Dit nadat meer as N$200 miljoen van beleggers se geld via finansiële instellings in Suid-Afrika deur die bank se bestuur en hul makkers verdwyn het.

Buiten vir likwidateurs wat druk uitoefen om van dié geld terug te kry deur op bates beslag te lê, staar niemand tot op hede tronkstraf in die gesig vir wat as die land se grootste bankroof ooit beskou word nie.

’n Groot deel van die blaam is geplaas op swak interne beheer en verslapte regulerende toesig aan die kant van die BoN. Ten spyte hiervan wil dit voorkom asof die land se finansiële owerhede nie hul les geleer het nie.

Ongereguleerde banke het ook aanleiding gegee tot die ‘skadu’-bankstelsel in Namibië.

Dié breë versameling van finansiële instellings en markte bied dieselfde tipe dienste as kommersiële banke, maar val nie binne die regulerende omgewing waaraan tradisionele banke onderwerp word nie.

Die finansiële dienstesektor reguleer homself indirek deur maatreëls wat min bespreek word en wat regulasies opstel en beleidsrigtings vasstel wat die publiek direk beïnvloed.

Kritici is egter van mening die huidige selfregulerende stelsel hou ’n volgehoue risiko in dat lede van die bedryf die prosesse ondermyn om soos ’n kartel op te tree en sodoende die bedryf se belange ten koste van die publiek en die regering se ontwikkelingsdoelwitte te bevorder.

’n Finansiële risiko-ontleder wat verkies om anoniem te bly, sê staatsbanke loop die gevaar om die land se finansiële reëls te oortree, sou daar nie toesig wees nie.

“Hoe word die prysbepaling en rentekoerse gereguleer vir [ontwikkeling van finansiële instellings] om die verbruiker te beskerm?

“Jy het ook boedelkliënte wat rente by Agribank trek. Die in duplum-reël, wat voorsiening maak dat rente op skuld staak waar die totale agterstallige bedrag se opgehoopte rente gelykstaande is aan die uitstaande verskuldigde bedrag, word geïgnoreer.”

Die sentrale bank het navrae oor die voorstelle van die IMF na die ministerie van finansies verwys.

“Die funksie om toesig te hou en die betrokke areas te reguleer, val onder die jurisdiksie van die ministerie van finansies en openbare ondernemings en nie die BoN nie. Daarom moet enige vrae rakende hierdie aangeleenthede aan die ministerie gerig word,” het die BoN gesê.

Die selfregulering waaronder openbare banke tans bedryf word, het in die verlede reeds rooi ligte laat flikker.

Vroeër vanjaar en terwyl hy Agribank in die hof aangevat het omdat die bank van plan was om sy plaas af neem, het die plaaslike boer Wiekus Steenkamp gesê die bank se bestuur bedryf dit soos ’n kommersiële entiteit in plaas van ’n ontwikkelingsbank.

Agribank het Steenkamp in September 2022 hof toe gesleep omdat sy lening agterstallig was. Hy het in hofdokumente gesê Agribank is nie ’n kommersiële bank nie en word daarom nie deur wetgewing bemagtig om op te tree asof dit een is nie.

“Afdeling 2 van die wet maak voorsiening dat Agribank nie onderwerp is aan enige wet wat bankinstellings in Namibië reguleer nie. Daarom word die aansoeker [Agribank] nie gereguleer soos enige ander bank sou nie en is oorgelaat aan sy eie metodes om homself te reguleer,” het hy gesê.

“Dit is hierin waarin die gevaar lê. Wie sien toe dat die ongereguleerde entiteit optree in ooreenstemming met die betrokke wetgewing? Dit is in die lig hiervan dat ons die hof vra om die aansoeker in die soeklig te plaas,” lui die hofdokument.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!