Staatshuis verwerp ‘lasterlike beweringe’ teen Geingob
Die Namibiese staatshoof het nie onbehoorlik opgetree of sy mag misbruik toe dit in 2020 aan die lig gekom het geld is op sy Suid-Afrikaanse eweknie, pres. Cyril Ramaphosa, se wildplaas deur Namibiërs gesteel nie.
Staatshuis sê in ‘n verklaring wat Vrydagmiddag uitgereik is “die lasterlike bewerings en insinuasies wat oor president (Hage) Geingob gemaak word, is verregaande en ongelukkig”.
“Daar is absoluut geen waarheid in die bewerings dat pres. Geingob sy amp onbehoorlik gebruik het om president Ramaphosa by te staan nie,” lui die verklaring deur sy perssekretaris, dr. Alfredo Hengari.
Intussen het Ramaphosa Vrydagmiddag in Kaapstad in antwoord op vrae deur joernaliste ná afloop van die debat op sy begrotingsrede in die Suid-Afrikaanse parlement, gesê hy gaan nie vrae rakende die rooftog op sy plaas beantrwoord nie nie aangesien die reg sy beloop moet neem.
Hy het gesê hy is geadviseur om nie nou in die openbaar vrae oor die kwessie te beantwoord nie.
Op ‘n vraag oor of hy met Geingob hieroor in verbinding was, het Ramaphosa gesê hy is op blitsbel met die presidente in SADC.
Die voormalige Suid-Afrikaanse spioenbaas, Arthur Fraser, wat verlede Woensdag klagte van onder meer geldwassery teen Ramaphosa ingedien het, voer aan laasgenoemde het die hulp van Geingob gevra vir die inhegtenisneming van die verdagte Imanuwela David in Namibië. Hy was na bewering die meesterbrein in die rooftog en het op 12 Junie 2020 die land onwettig binnegekom deur by Noordoewer met 'n kano oor die Oranjerivier te roei.
Volgens Staatshuis is dit die grondwetlike en statutêre taak van die Namibiese polisie om verdagtes in hegtenis te neem en is die besonderhede van David inhegtenisneming op 14 Junie 2020 in Windhoek deel van die openbare rekord.
“Die presidensie vind die polities gemotiveerde uitsprake deur sommige politieke leiers in Suid-Afrika, dat kriminele ondersoek gedoen word teen die president van die Republiek van Namibië, absurd en ronduit onsinnig,” lui die verklaring.
Verder word aangevoer Geingob “skakel met ander staatshoofde oor amptelike aangeleenthede, binne gevestigde diplomatieke protokolle, in ooreenstemming met die grondwetlike bevoegdhede van die president en op die voorskrifte van internasionale praktyke oor wedersydse samewerking tussen staatshoofde en regeringshoofde”.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie